Eetplek op Kersdag sonder die moeite met kospotte Print E-mail
News - Vreethans
Saturday, 11 December 2021 10:27
Untitled Document

Kersdag is tradisioneel ook die dag van lekker en oordadig eet saam met familie en vriende. Vir dié Bronnie-lesers wat nie daarna voel om vanjaar ure agter die kospotte te swoeg ter voorbereiding van die groot Kersmaal nie, gee Vreethans inligting oor ’n paar kuierplekke in ons gebied wat op Kersdag besoek kan word.

Agterplaas in Olympus bied tussen 12 en 3 nm ’n Kersmaal in selfhelp-formaat (buffet) aan. Voorgeregte bestaan uit ’n koue vleis- en kaastafel, salm “bruschettas” en ’n verskeidenheid brood en kraker-broodjies met konfyte en vrugte.

Hoofgeregte is gebakte lamsboud en bees-snit, “gammon” en hoenderpastei. Daarmee saam word uieringe, gebakte aartappels, Libanese rys, pampoenkoekies en ’n gebakte blomkool-en-bronkhorst-gereg en vier soorte slaaie voorgesit.


Die agterplaas het ’n ruim buitelug-aansitplek, maar kan ook skuiling bied sou dit moet

Nagereg: Pipperment crisp-tert, Agterplaas-poeding met roomys, jellie en vla.

Die maaltyd kos R295 per volwassene, R250 vir pensioentrekkers en R150 vir kinders jonger as 12 jaar oud. Die plek het ’n speelterrein vir die kleingoed en belowe ook vir hulle ’n spesiale verrassing.

Bespreking is noodsaaklik. Jy kan hulle bel by 082-504-6618.

Die Boskombuis op Donkerhoek (jy draai met die pad na Kleinfontein toe af) bied jaarliks ’n Kersete in die oopte aan, wat ruim, dog sag op die sak is.

Dit is ’n andersoortige kuierplek sonder pretensies wat ook onderdak-skuiling het as dit benodig sou word.

Vanjaar se Kersmaal bestaan uit drie voorgeregte, gebakte beesboud, varknekrol en hoender.


Die Boskombuis met ’n keuse vir jou Kerstafel tussen die bome, of in die lapa.

Daarmee saam word pampoenkoekies, groenboontjies, soetwortels, geurige rys en stampmielies voorgesit. Jy kry ook twee soorte slaai en roomys met sjokolade-sous as nagereg. Dit alles teen net R180 per kop. Kinders eet teen halfprys.

Greunen Parker tree as gaskunstenaar op.

Besprekings moet gedoen word by Renee: 083-485-2529 of 063-135-3713.

Captains Island, oorkant die ingang na Grootfontein op Garstfonteinweg-verlenging, bedien vanjaar ’n buffet Kersmaal in die ruim oopte van ’n groot binnelandse ‘strand’ aan.

Hier, naby die Tierpoort-winkelsentrum, word romerige mossels as voorgereg bedien en die hoofgereg bestaan uit bees-snit, hoender en vark. Daarmee saam word drie groentesoorte, gebakte aartappel, rys en sous voorgesit.


’n Kersmaal op die gebied se eie strand

Nagereg is ’n taai ‘toffiepoeding’. ’n Musiek-kunstenaar sal die gaste vermaak. Die Kersmaal kos R280 per kop en kinders jonger as 12 jaar oud, betaal halfprys.

Bespreking is noodsaaklik: 082-518-5131.

Woodlands Game Lodge in die Dinokeng-bewaringsgebied (hulle noem dit ’n bosveld-paradys) is vanjaar op Kersdag oop vanaf 10 vm tot 3 nm. Kersete word bedien vanaf 1 nm tot 2 nm.

As voorgereg het hulle ’n geroosterde soetpatat-rol. Drie soorte slaaie is beskikbaar. Die hoofgeregte bestaan uit oondgeroosterde heel kruisskuif met roosmaryn, lam-skywe met basiliekruid en macadamia pesto, gestopte salm met mosterd-heuning en preie, en pangebraaide hoenderdye met ’n romerige kerriesous. Groente is baba-spinasie, baba-wortels en rooi uie, krakerige gebakte aartappels en gebakte blomkool-en-bronkhorst.


Woodlands bied ’n Kersmaal in die bosveld aan

Nagereg is appeltert (crumble) met roomys, Engelse ‘trifle’ en tradisionele ‘mince pies’.

Die Kersmaal kos R450 per kop. Kinders onder 12 jaar oud betaal R250. Om te bespreek skakel 081-855-1800.

Casa Toscana in Lynnwood Manor se LeSi Restaurant bied vanjaar ’n wye keuse met hulle Kersmaal aan. Nie minder nie as sewe selfhelp-voorgeregte word voorgesit. Hieronder tel Griekse frikkadelletjies met pynappel op sosatiestokkies geryg, ’n kerriehoender-slaai en salm ‘mousse bruschetta’.

Hoofgeregte is geroosterde lamsboud in ’n rooiwynsous, hoenderstukke met suurlemoen en kruie, “gammon” (heuning geglasuurd), gemaalde bief moesaka, gegeurde rys met ertjies en uie, roosmaryn- en knoffel-gegeurde geroosterde baba-aartappels, geroomde spinasie- en feta-gebak.


Kersete by die weelderige Casa Toscana

Daarby word sewe uitsonderlike slaaikeuses vir selfhelp op die slaaitafel uitgestal. Nagereg word bedien en is ’n wit-, donker- en karamel sjokolade “mousse” op ’n beskuitjie-kors, met vars aarbeie, ’n oliebol (doughnut) en ‘meringue’ (skuimpie) daarby.

Die maaltyd kos R450 per kop. Kinders tussen vier en agt jaar oud eet teen R180; kinders tussen twee en vier jaar oud teen R80 en kleintjies jonger as twee betaal nie.

Jy moet bespreek by 012-348-8820.

Station Diner in die geskiedkundige stasie-geboutjies en op die oop perron op Cullinan, is Kersdag tussen 8 vm en 4 nm oop. Besoekers kan na hartelus van die gewone spyskaart af bestel, of dalk verkies om die spesiale dis van die dag te probeer.


Lekker word gekuier langs die spoor op die ou stasieperron

Dié gereg bestaan uit geroosterde, getrekte vark – en nee, dis nie die aardige ou in die hoek wat te veel brandewyn in het nie – dit is vark, wat in repies getrek is (pulled pork), wat saam met uie, rys, gebakte aartappel, groente, tuinslaai en gepekelde koolslaai voorgesit word. Dit kos R145. Nagereg bestaan uit sago-poeding met roomys en kaneelsous en kos R45 ekstra.

Jy kan bespreek by 081-584-3843.

 

© 2024 Die/The Bronberger