Nostalgie bring Sondagmaal voordeur toe Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 16 July 2021 07:01
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Toe ek nog bloot ’n onskuldige, klein Vreethansie in my ouerhuis was, was Sondagmiddag ná kerk dié uithang-ete van die week. Ek onthou ook dat op Sondagmiddae my heel eerste ‘uiteet-ervarings’ gestalte gekry het. By die hotel het ons as gesin, netjies in ons kerkklere, loop aansit vir ’n spoggerige vyfgang-maaltyd. Restaurante soos ons dit vandag ken, was daar nie op die dorp nie. Die enigste ander keuse was ’n ‘paai-en-gravy’ (met of sonder ‘tjips’) by Danny se Savoy Kafee.

Maar meestal was dit om ons eie etenstafel en altyd was dit op ’n Sondag ’n hoender: Die goeie ou dae se ordentlike skrophoender, lekker bruin gebak met aartappels, rys en groente en soms daarby ook ’n gebakte skaapboud en daarna ’n nagereg. Elke gesinslid het sy of haar eie gunsteling snit van die skrophoender gehad.

Dis met dié mooi en nostalgiese kop-golwe dat ek op die internet rondkrap op soek na iets vir my en Metgesel se innerlike om in dié nuwe toegetronkte tyd op ’n Sondag vir tuisgebruik te bestel. En dis toe waar ek op ’n saak met die naam van The Deck afkom en saam daarmee ’n bybedryf genaamd ‘From here to there services’. Wat dit beteken is dat hulle kos en produkte in hierdie tye afgehaal of afgelewer kan word.


The Deck voor inperking

Dit blyk toe verder dat dié dekplek die einste een is wat gebou is deur Terry Behrens, baanbreker wat help vestig het aan Cullinan se Junction-winkeltjies by die dorpie se ou stasiegeboue.

Ook blyk dit dat The Deck elke dag wegneem- en aflaai-aandete beskikbaar het en op Sondae ’n middagmaal wat hulle ‘the star of the show’ noem.  

Hulle verkoop ook vars produkte en beklemtoon dat alles ‘organies’ en gesond is. Die groentes is organies of hidroponies, die hoenders is van die rondloop-soort en die eiers ook, die vleis is gras-gevoer, soos byvoorbeeld een Donderdag (blykbaar wissel die spyskaart voortdurend) se aandete: “Grass-fed beef stroganoff on a bed of rice, butter parsley baby potatoes, organic gem squash and milk tart for dessert.” En dit teen net R65, klink vir my billik verby.


Metgesel se aankom-ete en nagereg

Hulle hou ook groente- en vrugte-houers en ’n ‘familie-mandjie’ aan met byvoorbeeld eiers, melk, kase, brood, heuning en ander smere.

Maar dis Sondag en ons gaan vir die ster van die vertoning, Sondag-middagete: Geroosterde lam en hoender (het jou!) saam met rys en geroosterde aartappels en twee groentes (bykomstig vir dié van ons wat dink rys en aartappels is groente) en dit teen R89. Malvapoeding en vla vir agterna kos R29.

Ek verduidelik (telefonies) dat metgesel nie soogdiere (organies of te nie) inneem nie en vriendelike vrou met die naam van Carol onderneem om ekstra hoender in haar wegneembak te pak.

Ons het effe laat bestel en daarom gee ons nie om vir die effe langer wag nie. Die Sondagete was smaaklik en elke item had ’n besliste en skerp geur van sy eie. Vir my was die soetwortels oordadig soet, maar die hoender was nie droog nie met ’n welkome knoffelskoppie, die lamsboud net reg, die sous op die rys skerp, maar aangenaam, die bak-aartappels presies soos dit moet en die gebakte blomkool/spruitkool onder kaas was vir my die groot ster van die vertoning. Of nee wag, ek dink die malvapoeding verdien dalk die Oscar.


Alles organies en gesond, sê hulle

Metgesel het ewe tevrede aan die aankom-kos gesmul en ons besluit die pryse is billik genoeg om vorentoe ’n aandete te probeer.

Jy moet vir Carol bel of ’n WhatsApp stuur vir meer inligting. Sekere afsny-tye geld vir sekere etes. Sy sal vir jou spyskaarte en besonderhede aanstuur, sou jy wou. Carol se nommer is: 073-271-8581.

 

© 2024 Die/The Bronberger