Ons vind twee onbeplande besoeke erg aangenaam Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 21 May 2021 03:19
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Blote toeval wou dit hê dat ons na baie jare weer op die stoep van Bronkhorstspruit se ‘Die Stoep’ beland het.

Ná ons ’n vrugtelose en baie onaangename oggend in Bronkie se lisensiekantore gemors het, pak die dors en die honger ons. Ons verdwaal so half met die wegry van die nare plek af en skielik sit die stoep hier voor ons.

Jare gelede het ons ’n baie aangename kuier alhier ervaar. Dié keer is dit net ’n blitsbesoek op ’n Donderdag om die nodige draai te loop en vir ’n ietsie om vinnig te verorber en ’n nattigheidjie vir die keel.


Die Stoep op Bronkie

Ons het op die stoep plaasgeneem. Binne in die geskiedkundige ou huis (met spookkamer en al) is twee eetkamers en ’n kroeg.

’n Baie flinke en vinnige jonkman is ons kelner. Die spyskaarte wat hy aanbring is erg lywig en die magdom geregte kwaai uiteenlopend van aard. Hier by Die Stoep is iets wat elke smulpaap se smaak sal bevredig. 

Jy kan byvoorbeeld uit 15 variasies van biefstuk kies. Pizzas, pasta, burgers en broodjies, ’n lang rits voor en nageregte en tradisionele geregte soos afval, bobotie en beesstert en, soos die holruggeryde advertensie-sin sê, ‘nog veel, veel meer’ kan jy geniet. Die pryse lyk vir my deurgaans billik. Die afval kos byvoorbeeld net R100.


Die trappies lei na die ou huis se ‘spookkamer’

Maar ons is haastig en flinke jonkman sê burgers is vinnig gereed; die broodjies en tapas ook. ’n Kaasburger en kola vir my en ’n roosterbroodjie met kaas en tamatie en koffie (altyd) vir Metgesel.

Die kuier was kort, dog baie aangenaam en senuwee-strelend ná die nagmerrie van vroeër. Bronkie se bodorp is die tuiste vir duisende (so klink dit) duiwe wat hulle rustige klanke uit die groot ou bome koer.

Die ligte etes was in ’n japtrap voor ons en dit was soos dit moes wees. As ek weer in die nagmerrie-tou moet loop saam, gaan ek agterna die afval op Die Stoep beproef.

Jy kan hulle by 013-932-5101 bel vir meer inligting.

Moedersdag by nuwe Oukar
Ons mik op Moedersdag weer vir ’n kuierskoot in Tierpoort se wêreld. Maar eers loop draai ons by Metgesel se moeder op Cullinan. Ons kuier ewe gesellig voor ons die pad, effe later as beplan, vat.

Toe ons verby die ou Kakiebos (wat toegemaak het) ry, sien ek dat die plek weer oop is. Ek lees die borde: Oukar Kakiebos. Kroeg en Kombuis. Nuwe bestuur. En ’n ander swartbord met kryt op geskryf: Moedersdag ‘special’ – Oxtail. En net daar swenk ons links. Met beesstert kan jy my maklik in ’n wip vang en die ander plek is nog ver en daarby word dit laat, maak ek verskoning.


Die ingang na ruim en veilige parkeerplek agter die kuierplek

Ou bekende restourateur in die gebied, Steve Cruywagen, huur die plek en hy het sy stempel afgedruk met die aanbring van ’n lekker kuierkroeg. Hier by die nuwe Oukar Kakiebos kan jy ook op die onderdakstoep, in ’n lapa of in die tuin onder sonsambrele kuier.

Steve verwelkom ons en ons word toegesak deur ’n paar baie ywerige en vriendelike kelnerinne en ’n kelner. Ons sit op die stoep en daar is ’n rede hiervoor. Die spyskaart bied ’n goeie verskeidenheid sonder om ’n magdom keuses te gee. Nie dat ek my vandag te veel daaraan steur nie. My keuse is voor die stilhouslag al gemaak.


’n Goeie porsie geurige, murgsag (amper) beesstert

Jy kry twee keuses van bees (kruisskyf en T-been), drie van vark (tjops, Eisbein en ribbes), drie van hoender en een van vis. Alles lyk baie billik ‘geprys’ met die 500 g ribbes wat teen R150 die swaarste inweeg. 'n Goeie keuse van burgers en broodjies, slaai, nagereg en ’n aantal pizzas gee dié spyskaart jou.

Die beesstert was uit die boonste rakke. Sag, dog nie pap nie, geurig, sousig en oordadig, bedien op rys met wortel en spinasie en gebakte aartappel teen net R120. Dit verdien ’n ereplek op die spyskaart, wat terloops mooi tweetalig is soos dit myns insiens oral in ons gebied hoort te wees. Duidelik weet Steve wie sy gaste is.


Gesellig word in die tuin gekuier

Metgesel het ’n Griekse pizza bestel. Ook dié was oordadig bekaas en swaar gelaai. Metgesel geniet dit, maar kan skaars die helfte baasraak. Ook dié kos R120.

Ons het lekker gekuier en die spys en drank erg geniet. Net die ou wat met geblikte musiek en baie kragtige klankversterkers vir die vermaak gesing het, het ons gepla en dis dié dat ons so ver moontlik weg van dié bron op die stoep plaasgeneem het. Net my mening; as ek loop aansit vir eet en kuier wil ek gemaklik gesels ook, hoewel van die ander gaste die geraas dalk geniet het. Vir meer inligting kan jy Oukar Kakiebos se mense bel by 079-084-7848.


Metgesel kon die swaargelaaide Griekse pizza nie baasraak nie

 

© 2024 Die/The Bronberger