Ons geniet ’n gemoedelike uitspanning op Die Hoek Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 23 April 2021 06:31
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Sedert ons bykans 19 jaar gelede die kuierpad saam met die Bronnie begin stap het, staan Die Hoek getrou daar op sy Kaalfonteinse hoek-hoewe langs dié pad: Theunetta se Hoek, Pop se Hoek, of tannie Pop-op-die hoek – sou jy jonger wees.

Dit het in die (verre) verlede gebeur dat ons op ’n dag Die Hoek as deel van ’n kuipe-stop op ’n kroegkruip-tog saam met vriende, Joan en Joe Duarte, by ’n Vreethans-verslaggie ingesluit het, maar op ’n onlangse Sondag besluit ons om ’n volwaardige kuier-besoek aan Die Hoek te bring. Want dinge het begin woel op daardie hoek, hoor ons.

’n Groot aansit-stoep is onderdak ingerig. In die koelte van bome in die tuin is ronde kuiertafels onder grasdak-sambrele staangemaak. ’n Kleurvolle kwekery strek voor en om die plek uit. In die een hoek van Die Hoek is ’n speelplasie vir die kortvolk. Oral is allerlei aardighede en ornamente aangebring wat bydra tot ’n heerlike landelike atmosfeer.


Vissie, berg skyfies en slaai teen ’n skamele R40

Die staatmaker kuierkroeg het nie veel verander oor die jare nie. Duidelik ken die mense wat hier gemoedelik verkeer mekaar. Die meeste van die ouens in die kroeg se bakkies staan in die ruim parkeergebied ingeryg.

’n Ander nuwigheid by die veteraan-kuierplek is dat Theunetta voortaan self vir die spyse gaan sorg. Voorheen is dié takie aan ’n ‘kontrakteur’ oorgelaat. Die sjef, wat vandag vir my en Metgesel se geregte sorg, sal die ‘nuwe’ eetgoed saam met haar voorberei. Theunetta vertel dat hulle sterk gaan konsentreer op boerekos. Regte boerekos, sê sy.

Ek en Metgesel loop sit in die tuin onder ’n grasdak-sambreel. Eenkant skrop ’n plomp bruin hoenderhen en kloek-kloek binnensmonds en gerusstellend vir haar krosie.


’n Hoekie van Die Hoek se kuierstoep soos gesien van ons tuintafel af

Heelwat tafels op die stoep huisves groepies gaste. Dit klets en lag en geniet ooglopend die geselskap en wat daarmee gepaard gaan. Voor op die stoep is twee halwe-drom-braaiers met kole gelaai en roosterkoek en braaivleis word (glo vir ’n spesiale geleentheid) voorberei.

’n Baie aangename kroeg-persoon bring my koue bier en Metgesel se warm koffie nader. Vrou alleen bedien sy drankies in die kroeg en buite en sy doen dit vriendelik en flink. Die kos word deur ’n ewe vriendelike kombuis-persoon bedien.


‘Medium na rou’ soos hy moet lyk op ’n vurk se punt

Ek wil nie te veel oor die spyskaart uitwei nie, omdat ek vermoed dat dit heelwat gaan verander. Voldoende om te sê dat dit die gebruiklike burgers, ‘wraps’, roosterbroodjies, hoendergeregte en deelborde bied.

Metgesel kies van die spyskaart af stokvis met skyfies en slaai. Dit kos slegs R40 en die spyskaart spel dit uit dat dit vir diegene is wat nie baie honger is nie. Ja, die stukkie vis is wel nie reusagtig nie, maar dit pla haar glad nie, want die vissie is lekker, die slaai oorgenoeg en die berg skyfies is van ‘die beste en meeste’ wat sy in jare ervaar het.


’n Vooraansig van die kroeg-gebou en buite-kuierplek

Ek bestel ’n kruisskyf en ek vra dat dit medium na rou (medium to rare) moet wees: Asseblief. Ek kan vandag onomwonde verklaar dat die kos-persoon op Die Hoek die eerste een in jare is wat verstaan hoe amper rou (medium to rare) moet wees as hy op die bord beland.

Tog jammer dat sy ook soos baie ander plekke se gebruik is, ongevraag ’n braaisous op die kruisskyf smeer, wat na my mening sy vleis-smaak bederf. Saam met skyfies en slaai kos die kruisskyf R120.

Die uitspanning op Die Hoek was ontspannend en aangenaam en die mense, personeel en gaste, was vriendelik, verwelkomend en gemoedelik. Jy kan Theunetta bel vir nadere inligting: 082-691-1703.

Ougoed, mooi goed en aardighede is oral te sien
 
 

© 2024 Die/The Bronberger