Plattelandse Klipwerf verras met ‘perfekte’ Italiaanse lekkerte Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 19 February 2021 17:51
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons hou van plattelandse kuierplekke. Deur die jare heen was ons gelukkig genoeg om ’n hele paar egte, eerlike landelike eet- en drinkgate in die Bronberg-gebied te kon leer ken. Dié soort plekke waar al die besoekers mekaar skynbaar ken, en nuwe besoekers hulle gou as deel van die gevestigde ‘speelgroepie’ welkom en tuis voel. Daar waar gemaklik, gemoedelik en sonder voorgee of pretensie gekuier word.

Langs die Boschkop-teerpad, nie te ver van die brug oor die Steekrietspruit nie, het ek in die onlangse verbygaan gesien dit woel by ’n plek met die naam van Klipwerf Kroeg. Die ‘werf’ is opgeruim, ’n banier is nader aan die pad staangemaak wat sê dat die nuwe eienaars, Wendy en Jaco, jou graag wil verwelkom.


’n Hoektafel op die ruim kuierstoep

Op ’n bewolkte dog, aangename Sondag mik ek en Metgesel vir dié Klipwerf. Só genoem omdat klip by die bouwerk ingespan is en niks te make met die orkes wat – so voel dit – al voor van altyd af bestaan nie.

Ons draai in en vir ’n oomblik wil ek dink die plek bestaan klaar nie meer nie. Geen ander motor of mens is in sig nie. Maar ons sien beweging binne en met die intrapslag verseker ’n vriendelike Klipwerwer my dat ons effens vroeg is – die ‘mense’ sal nou-nou-hier wees.


Die kroeg en deel van Klipwerk se binnewerke voor die kuiergaste opgeruk het

Nie baie lank verloop voor sy profetiese woorde waar word nie. Die motors (eintlik meestal bakkies. Wit bakkies) begin aankom. Mense, vroue en kinders het die ruim binnewerke van die Klipwerf se kuierplek gou aan’t gons met gesels lag, baljaar (kinders) en kuier. Gemoedelik is die atmosfeer en gemaklik plattelands en gepas is die dekor.

Ek en Metgesel het ons op die stoep tuisgemaak en ’n gawe kelnerin wat ons al voorheen by ’n ander kuierplek in die kontrei raakgeloop het, bring binne ’n japtrap ’n bruisdrankie (vir my) en Metgesel se koffie nader.


Metgesel se vegetariese genot

By die huis het ek voorgeskrewe pille waarop ’n rooi plakker baie prominent sê: “Vermy alkohol.” Ek draai my rug op my bier, kyk hom nie een keer in die oë nie en praat met hom nie ’n enkele woord nie.

Gawe kelnerin sê hulle het op die oomblik ongelukkig net ’n pizza-spyskaart, maar nuwe eienaars is druk besig om te werk aan ’n meer omvattende spyskaart met ’n wye keuse wat sommer gou gereed behoort te wees.


Die inloop-hek van die plek spreek van pure plaas

In die hoek van die binnevertrek sien ek hoe die pizza-ingenieur besig is om ’n stewige houtvuur in die pizza-oond brand te maak.

Die pizza-kaart bied jou meer as 20 keuses en teen R15 ekstra kan jy ’n porsie van iets ekstra laat bysit. Die gewone verdagtes soos Margeritha, Regina, Hawaiian, drie-kaas, en braaihoender kom voor, maar duidelik is daar met sorg, verbeelding en moeite omgegaan om die groter pizza-keuses besonders te maak.


Die meesterlike pizza-ingenieur besig om sy oond voor te berei

Die pryse wissel tussen R65 en R95 en sou jy twee of meer bestel, kry jy vooraf ’n gratis focaccia op die koop toe. En nee, Cornelis, dis nie iets wat ’n mens eerder nie voor kinder moet sê nie; dit is ’n platbrood met kruie en knoffel.

Metgesel is kinderlik bly by die aanhoor van die gratis focaccia. Sy sou dit maklik as stapelvoedsel aanneem, sê sy. Pizza kan jy ook gebruik sou jy Metgesel in ’n wip wou vang. Ek verskil gewoonlik van haar. Gewoonlik, maar Klipwerf se ‘Sicillian’ en die focaccia vooraf, het my byna tot ander insigte gedwing.



Sicillian ala Klipwerf: Bros en oordadig heerlik

My keuse kan maklik die heel beste pizza (na my smaak) wees wat ek in my lewe ervaar het. En die eer kom sekerlik grootliks die pizza-sjef toe. Perfek, meen ek. Die Sicilian met ansjovissies, salami, olywe, kappertjiesaad en knoffel op ’n stewige basis, medium tot dun kors, en bros gebak kos R80.

Oorbodig om te sê dat Metgesel haar vegetariese pizza ewe veel of meer geniet het en sy stem saam oor die byna perfekte voorbereiding daarvan. Dit kos R75.


Die perfekte focaccia – gratis saam met twee pizzas

Ek noem net een van die R95-weergawes ter afsluiting. Hulle noem dit ‘Meat Lover’ en die basis is gelaai met salami, spek, ham, maalvleis, wors en braaisous.

Jy kan meer inligting kry deur Wendy by 060-984-4696 of Jaco by 082-610-5637 te bel.

 

© 2024 Die/The Bronberger