Eet en kuier hier moeiteloos in dié Kerstyd Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 04 December 2020 16:03
Untitled Document

Soos al gebruiklik met ons Kersuitgawe geraak het, noem Vreethans en Metgesel ’n aantal moontlikhede vir diegene wat nie vanjaar die groot moeite wil doen wat tradisioneel met die ‘groot eet’ van die feesseisoen gepaard gaan nie. Ons lig ’n paar plekke in ons omgewing uit waar jy saam met jou geliefdes vir jou Kersmaal sonder die kook- en skoonmaak-moeite kan gaan aansit en ons vertel jou wat jy kan verwag.

Oukersdag-middagete by Lientjie Wessels
Die bekende kunsskilder en koskunstenaar, Kokkedoor en skrywer van die gewilde kookboek ‘Geure’, Lientjie Wessels van Cullinan, bied ’n Oukersdag-ete by die geskiedkundige huis van die dorpie se eerste stasiemeester aan.

By dié mooi ou huis in die oopte met groot grasperke, stoep en koeltebome sal die maaltyd op groot deelborde op die tafels bedien word. Gaste sal verwelkom word met ’n spesiale Kersfees-jenewer drankie.


In die koelte van die ruim tuin

Lientjie het vir ons die spyskaart vertaal, maar ons volstaan hier met die Engelse weergawe:
Heirloom tomato, burrata and basil salad topped with pine nuts and served with garlic bruschetta.

Beef fillet, rocket with lemon and black pepper crème fraiche. Chinese master stock gammon and ‘pampoenkoekies’.


Die geskiedkundige eerste stasiemeestershuis waar koskunstenaar, Lientjie Wessels,
vir uitsonderlike geregte sorg

Deconstructed light fruit cake, straw wine, cream and amaretti trifle. Cheese platter.

Die koste is R650 per kop en bespreking is noodsaaklik. Net ’n beperkte hoeveelheid gaste kan gehuisves word. Die ete begin om 1 nm op 24 Desember.

Bel Lientjie by 082-531-6141 of stuur ’n WhatsApp vir bespreking en verdere besonderhede.

Sinkshack, Bronkhorstspruit
Dié eiesoortige kuierplek op Bronkie bied ’n buffet-ete vanaf 6 nm op Oukersaand aan.

Op die spyskaart is: Skaapboud met aartappels, gestopte kalkoen, twee groentesoorte en kapokaartappels en/of rys. Slaai is aartappelslaai.


Oukersaand word daar by Bronkie se
Sinkshack gekuier

Die Sinkshack se binnewerke
.

Nagereg is ’n tradisionele Kerspoeding met muntstukke in. As jy ’n muntstuk kry, is jou kos gratis.

Die Oukersaand-ete kos R130 per kop. Oorslaapplek is beskikbaar.

Die adres is Cathiestraat 37. Jy kan Deon bel by 078-741-7597 vir besonderhede en bespreking.

Die Boskombuis
Die Boskombuis is ’n kuierplek op ’n Donkerhoek-hoewe (jy draai met die Kleinfontein-teerpad af) wat letterlik in die bos ingerig is. Ek en Metgesel het al ’n paar aangename kuiers aldaar ingewerk en kan getuig daarvan dat die atmosfeer en geregte aanbeveel kan word.

Die spyskaart vir vanjaar se Kers-middagmaal is: Voorgeregte: Tuna verrassing; hoenderlewertjies; en knoffelbrood.


Kersdag kan tussen die bome, in die lapa of skuur van Die Boskombuis geniet word

Onderdak-plek, sou dit dalk sous
.

Hoofgereg: Gebakte beesboud; varkboud; en hoender. Gebakte aartappels, geurige rys, stampmielies, groenboontjies, spinasie, pampoenkoekies, soetwortels en ertjies, en ’n mengelslaai kan by dit geskep word.

Nagereg is roomys en sjokoladesous.

Die Kersete kos R230 per kop. Bel Renee vir meer besonderhede en bespreking by 083-485-2529.
                              
Country Garden Café
Op ’n mooi Zwavelpoortse hoewe (jy draai oorkant die Zwavelpoort-teerpad net langs Bafana ten noorde uit Lynnwoodweg-verlenging / Grahamweg af) is dié Country Garden Café waar ’n ete op Kersdag tussen 11 vm en 2 nm voorgesit word. Trouens, dié middagmaal kan reeds vanaf Geloftedag, 16 Desember, tot en met Kersdag geniet word. 


Kersfees kan in die oopte van ’n mooi Zwavelpoortse hoewetuin geniet word

Die mooi tuine van die Country Garden-kuierplek
.

Wat jou te wagte is:
Voorgereg: Geroosterde soetpatat-wiele.

Hoofgeregte: Stadig geroosterde lamsboud en knoffelhoender met roosmaryn. Daarby is geroosterde Brusselse spruite, botterskorsie met kaneel, pekanneute en rooibosbessie, ‘hasselback’ aartappels met heuning, gorgonzola kaas, en spek- en groenboontjie-bondels.

Nagereg: Tiramisu sjokolademousse, ‘Eton mess’.

Dit kos R280 per volwasse kop en R130 vir kinders onder 10 jaar. Bespreking is noodsaaklik.

Bel Marinda by 076-988-3724.

LeSi Restaurant (Casa Toscana)
As verskeidenheid (groot) jou idee van ’n Kersete is, gaan jy ver soek om ’n wyer keuse as by dié Toskaanse plek in Lynnwood Manor te kry. Dit is ook hier waar Die Blou Hond Teater gehuisves word.

Op Kersdag word die maal  ‘buffet-styl’ voorgesit en tafels wat twee tot agt mense huisves kan bespreek word. Hier kan jy letterlik ‘n hond uit ‘n bos eet – ‘n bloue.

Voorgeregte is na die ‘tapas’ gewoonte beskikbaar en ek noem weens plekgebrek nie al die keuses hier nie: Mini-sosaties van bees, hoender, uie-en-kaas met allerlei souse daarby, mini-Italiaanse frikkadelle, vier verbuigings van pâté (biltong is een) met varsgebakte broodrolletjies en Parmesaan broodstokkies. En so loop die keuses vir voorgerete nog ’n tienstuks voort.


Casa Toscana waar LeSi Restaurant ’n Kersmaal aanbied

LeSi het op Kersdag ’n slaaistasie (salad station) met ’n keuse van ses slaaisoorte. Hieronder tel ’n Italiaanse aartappelslaai en ’n Griekse pastaslaai.

’n Hele hand (of twee) vol hoofgereg-keuses word op die selfhelp-wyse gebied. Hieronder tel geroosterde lamsrol, Londen beesstuk en ‘Yorkshire pudding’, geroosterde varkpens (pork belly) en Toskaanse hoenderborsies. Daar is rys, gebakte aartappel, spinasie en botterskorsie-tert vir groente en dan ’n ‘nageregstasie’ met vyf keuses, soos onder meer aarbei-pavlova en tradisionele koekstruif.

Die koste per grootmenskop is R450; vir kinders tussen vier en agt jaar, R180; en nog kleiner, R80. Suigelinge en dié jonger as twee jaar eet verniet. ’n Diensheffing van 10 persent word bygevoeg. Die Kersete is tussen 11 vm en 2 nm.

Skakel 012-348-8820 of e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it vir bespreking.

 

© 2024 Die/The Bronberger