Eerder bestel as ‘n gemaskerde droogte Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 17 July 2020 14:40
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

‘n Omgesukkelde ou bel mos nou die anderdag die Bronnie se kantoor. Wat hy wil weet, sê omgesukkelde ou so ewe sarkasties, is of Vreethans weet waar Rayton is?

Wel ja, natuurlik weet hy. Trouens saam met Metgesel het ek al ‘n hele paar kuiers aldaar ingewerk – nie almal ewe bevredigend nie, moet ek byvoeg.  

Dis nou ook nie asof die dorpie wemel van die kuierplekke nie, maar een van die meer aangename besoeke was ‘n hele wyle gelede by ‘n plekkie wat toe bekend gestaan het as Coffee Café. ‘Prime Cut’ heet die plek nou, maar ek vermoed dieselfde eienaar(s) is betrokke – en dit was nie een van hulle wat gebel het nie.


Die Raytonse gebou wat Prime Cut huisves met kuierstoep regs

‘n Effense verslapping van die (meestal raaiselagtige) inperkingsreëls, maak dit moontlik vir restourante om aansitetes te bedien. Jy mag egter geen alkoholiese versnapering daarmee saam geniet nie en dit opsigself voel na ‘n halfgebakte saai-spul. Die verdere vooruitsig van ‘n gemaskerde gesukkel om jou te-ete te bestel en in te neem, gee die deurslag: Ons besluit om vir eers by die wegneem-opsie te hou.

Prime Cut, stel Metgesel vas, verander weekliks hulle spesiale wegneemete-spyskaart. Sy kry dié betrokke week s’n per ‘telegram’ (moenie vra nie) en omdat die ou motor se battery ‘n slag weer padvreet kort om te laai, besluit ek dis Rayton toe ry met my.


Dis ‘n ‘wrap’ – goed gevulde gedoente met gekrummelde hoender en goed

Spesiaal vir ‘n ‘cold, cold weekend’ (dis ‘n Ingelse telegram) het hulle bees-en-groente-sop wat saam met ‘n ‘small’ vetkoek (nie ver-Ingels nie) teen R45 beskikbaar is. Ek weet ek hoef nie verder te kyk nie.

Roosterbroodjies ‘to dream of’ met of sonder skyfies vanaf R28. Boerewors ‘Dogs’ teen R25. Burgers met skyfies (‘you name it, we make it’) vanaf R50, ‘n ‘breakfast bun’ kos R38 en ‘n ‘plain’ vetkoek kos R12 en dan kan jy enige ‘filling you like’ laat bysit. Tramezzini vanaf R40 en ‘wraps’ vanaf R65. Dit dan kortliks die keuses van die dag. Hulle lewer ook teen ‘n ietsie ekstra in die nabye omgewing af.


Groente-en-bees-sop met vetkoek

Ek bel en bestel vier (ja, vier) soppe en vetkoeke vir my, want die naweek gaan lank en koud wees en groente-en-bees-sop geval my gewoonlik en in dié geval het dit ook. Dalk effe vetterig vir party, maar dié kan jy maklik afskep as dit afgekoel het, sou jy wou. Metgesel bestel die toevou-tregter (wrap) met hoender teen R62. Die hoenderrepies is gekrummel (mal daaroor, is sy mos) en oor die smaak en omvang van die gedoente is sy hoogs in haar skik. Aanbeveling: Geniet saam met ‘n wettige glasie of twee, natuurlik.  

Vir meer inligting kan jy Prime Cut bel: 012-943-7444.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Julie 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2024 Die/The Bronberger