Geen perke aan Lemon Tree se aankom-kos nie Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 20 May 2020 20:20
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Die inperking-vonnis verloor op 1 Mei ‘n enkele syfer en staan amptelik voorgeskryf op vier. Dit beteken ongelukkig nie dat ek en Metgesel nou iewers kan loop aansit vir ‘n lekker kuier oor ‘n goeie gereg en (behoede jou tog) ‘n verversing of twee van alkoholiese aard nie.

Wat dit wel beteken is dat kuierplekke oop is vir wegneem-geregte. Dit beteken ook nie jy kan nou by die voordeur van die kuierplek aanklop, bestel, jou ete opneem en laat spaander nie. Nee, dis bel en bestel en die plek se mense moet dit by jou aflewer. Wegvat-etes, dus. Nouja, as Mohamed dan nie na die berg toe mag gaan nie . . .


’n Buite aansig van Lemon Tree Garden Cafe wat in en om een van Oaklaan se geskiedkundige ou sinkhuise nes geskop het
Foto: verskaf

Die geheue worstel deur al die verwarrende en heel dikwels belaglike reëls, wette, regulasies, moets, moenies, mag en mag-nies wat vir inperking uitgedink is (dink is dalk nie die gepaste woord nie), maar ek kan nie onthou dat aflewerings by jou eie adres móét geskied nie. En ek dink ook nie dat jy ‘n amptelike permit nodig het om jou motor iewers (naby) aan die plek wat etes aflewer te parkeer nie . . .

Baie, baie jare gelede het ek en Metgesel ‘n aangename kuiertjie by Cullinan se The Lemon Tree Garden Cafe ingewerk en ons hoor hulle bring nou ook wettiglik hulle geregte en gebak na jou toe om tuis (of waar jy jou dan bevind) te geniet.

Buiten die gereelde disse op die spyskaart, is die kok- en bakspan van The Lemon Tree se verbeelding en vernuf geensins ingeperk as dit by die sporadiese voorsit van spesiale geregte kom nie.

Spesiale disse wat op dié betrokke dag op die suurlemoen-boom-plek se Facebook-blad aangekondig word is tuisgemaakte pasteie met skyfies, groente en ‘n slaai.


‘n Volgestopte, tuisgemaakte pastei met groente, skyfies en slaai

Ons besluit summier op die pastei-opsie vir ons aankom-kos: ‘n Hoenderpastei met die allerlei daarby vir Metgesel en ‘n gespeseryde (spicy) bees- en botterskorsie een vir my. Die etes kos slegs R72 elk.

‘n Vriend het redelik onlangs onomwonde beweer dat The Lemon Tree die heel lekkerste suurlemoen-skuimpie-tert (lemon meringue) op die ganse ondermaanse maak en ons bestel een daarvan vir Metgesel en ‘n ‘spesiale’ malvapoeding vir my. Die nagereg weeg in teen R42 stuk. Aflewering (plaaslik) kos ‘n skamele R10.

Sou jy jou wegvat-kos van die spyskaart af wou bestel, sou jy kon kies uit elf verbuigings van geroosterde broodjies. Dié broodjies weeg in tussen R40 (ham en kaas) en R60 vir hoender-mayo met spek en kaas.

Oop broodjies word van tuisgemaakte ‘gesondheidsbrood’ gebou en saam met slaai bedien. ‘n Verbeeldingryke groente-bord (veggie plate) kos R55 (Metgesel se keuse vir ‘n volgende keer) en ‘n stewige Nolsburger (dagwood) R77.


Effe beskadig met aflewering, maar in uitstekende werkende en heerlike toestand is die suurlemoen-skuimpie-tert

Ander burgers met ‘100% suiwer bees-maalvleis’ is beskikbaar. Die bees-lasagne kos R81 en ‘n bord met versnaperinge (snack plate) soos frikkadelle, ‘spring rolls’, skyfies en nog wat, kos R63.

Ook op die spyskaart is onder meer; verbeeldingryke pitas, quiche, stokvis en hoender met skyfies en bykosse, slaaie en nog wat, maar ons volstaan. Tuisgebak is ook altyd beskikbaar.

Die pasteie wat vir ons aangery is, was merkwaardig. Merkwaardig vol (ek bedoel propvol) lekkerte gestop en met heerlikheid omkors. Groenbone en soetpampoen soos jou ouma op die plaas dit sou maak en goeie selfgesnyde skyfies. Metgesel sê die slaai (hare en myne) was heerlik. Ek vind die malvapoeding bykans onverbeterlik en Lemon Tree se suurlemoentert is toe dalk werklik een van die bestes ooit.

Jy kan hulle bel by 082-744-5263 vir meer inligting.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Mei weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2024 Die/The Bronberger