Pure plaasplesier begroet ons op Oudezwaanskraal Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 25 March 2020 06:58
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Verby Kameelzynkraal, ‘n entjie anderkant Kleinzonderhout draai jy uit die Bronkie-Bapsfonteinpad af na Dorstfontein en volg die grondpad vir sewe kilometer deur die mooi bankeveld tot by Oudezwaanskraal. Ja, jy kan jou amper verbeel jy bevind jou in ‘n heel ouwêreldse anderdag.


Metgesel se selfgeboude ontbyt-bederfie

Op die plaas, Oudezwaanskraal, is ‘n funksieplek met netjiese oornaggeriewe in ‘n wildkamp ingerig.

Hier kan jy ook, sien ons in ‘n Bronnie-advertensie, oor naweke vir ontbyt loop aansit en dis presies wat ek en Metgesel op ‘n aangename Sondagoggend besluit om te doen. Inderdaad ‘n wyse besluit was dit.

Dis baie mooi en baie rustig op Oudezwaanskraal. Hier is binne en buite ruim kuierplek ingerig: Uiters smaakvol ingerig. Buite lê die bankeveld groen en stil so ver die oog kan sien en die oor kan hoor. In die vêrte loop ‘n paar gemsbokke en die roep van ‘n kiewiet en sang van ander geveerdes sorg vir die agtergrondmusiek.


Kuierstoep met die oopte van die bankeveld daar buite

Die swane, wat reeds langer as 50 jaar op die plaas aangehou word en vir die plek se naam gesorg het, word buite raas-afstand by die opstal gehuisves, sou ons verneem.

Vir ons is dit ‘n redelike lang trek tot op die mooi ou plaas, maar gelukkig word ontbyt tot 11 vm bedien. Ons word gul deur Hilda ontvang en verwelkom. Sy stel ons gerus dat hulle geensins omgee, sou ons verby die 11 uur-spertyd kuier nie. Die vier of vyf ander groepies ontbyt-gaste maak al amper gereed om te vertrek toe ons, ons sit by een van die keurige ou binne-tafeltjies loop sit.


‘n ‘Boerse’ stuk tuisgemaakte wors saam met die baie bevredigende eland-ontbyt

Hilda bring die spyskaart en moerkoffie nader. Buiten vir die ontbytkaart, merk ek ook ‘n spyskaart vir pizza (houtoond) en een vir hamburgers en een vir te-drinke (van die alkoholiese soort inkluis) op. Hilda lig ons in dat hulle vir later op naweke soms spesiale pizza- en/of burger-dae hou en soms braai hulle. Maar ons is hier vir ontbyt en ordentlik honger ná vroegoggend se koffie-en-beskuit.

Vyf basiese ontbyte, vernoem na vyf inwonende wildspesies op die plaas, word gelys. Maar Hilda deel mee dat ons kan bysit en weglaat en ekstra van dié of minder van daai bestel – nes ons daarna sou voel.


Kunstig en knussig – binne en buite

Die springbokkie-ontbyt teen R35 is spek eier en roosterbrood. Die blesbok het twee varkworsies en gebraaide sampioene daarby en kos R50. Die sebra het ekstra kaasworsies en skyfies by (R60) en my keuse, die eland, bestaan uit gebakte eiers, spek, boerewors, skyfies, gebakte bone, gebraaide sampioene en roosterbrood. Die eland weeg in teen R75. Die swartwitpens is ‘n volronde iets van alles met gebraaide tamaties daarby en kos R90.

Metgesel vermy mos die inneem van soogdiere. Sy bou haar eie ontbyt soos Hilda gesê het ons mag. Roereiers, gebraaide sampioene, gebraaide tamatie, roosterbrood en skyfies word in oormaat voorgesit. Ons doop dit sommer die wildemakou-ontbyt en dis ‘n winskoop, sê Metgesel, teen R40.


Pure plaas. Die uitsig voor my vanaf ons ontbyttafel

Lanklaas, indien ooit, het ek ‘n groter, dikker en lekkerder stuk boerewors geniet. Tuisgemaak op die plaas, laat die eland se wors my, saam met die perfek (vir my) gebakte eiers, die bros spek, kraaklekker skyfies en die res in oordadige oormaat, erg tevrede en bykans sondig versadig.

Oudezwaanskraal se ontbyt saam met die omgewing, atmosfeer en die gasvryheid is ‘n ervaring wat ons sonder skroom kan aanbeveel. Jy sal, soos ons, met die wegryslag al, jou waarskynlik voorneem om weer so te maak.

Bel vir Hilda by 076-385-7196 vir meer inligting.

 

© 2024 Die/The Bronberger