Voortreflike kuier en kos by dié kombuis in die bos Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

Dit is Sondag en ons het lus vir Sondagkos. Jare her het ons op een koue winteroggend by Die Boskombuis vir ontbyt loop aansit. En ek onthou vaagweg dat ek destyds aldaar ‘n spesiale Sondag-spyskaart raakgelees het en dat die inhoud daarvan my nogal geval het.

Die Boskombuis is ‘n baie eiesoortige kuierplek. Dit is letterlik midde in ‘n wattelbos op ‘n Donkerhoek-hoewe ingerig. Jy draai met die pad na Kleinfontein af en dan slap regs met ‘n bospaadjie voor jy Kleinfontein kry.


Die Boskombuis se ruim kuierlapa

Hier kan jy in die diep koelte onder die bome, in ‘n ruim lapa, of onderdak neffens die kroeg jou sit kry. Oral is die atmosfeer eg plattelands en ontspanne en die personeel en gaste erg gasvry, gemoedelik en vriendelik.

Ons neem by ‘n eenkant-tafeltjie plaas – in die diep koelte van ‘n mooi ingerigte oop kring in die bos. Ons voel ons dadelik tuis en welkom.


Die Bospaadjie wat na die kuierplek in die koelte lei

‘n Vriendelike Boskombuis-mens bring ‘n vraggie spyskaarte en ons bestel ‘n ietsie klam vir die keel.

Die plek het ‘n spyskaart vir weeksdae en Saterdae, ‘n aparte een vir ontbyt en vir ‘kindertjies’, voorgeregte en nageregte en selfs een met ‘n lang rits wegslaandrankies (shooters) wat hulle ‘n ‘persoonlikheidslysie’ noem. Oorspronklike ‘skieters’ soos die bosbessie met kersiemampoer en Amarula kan vir die persoonlikheid bestel word.


‘n Gesellige kuier in die oop ‘kring in die bos’

En net vir Sondae is ‘n baie spesiale en uitgebreide spyskaart saamgestel. Het ek gemeld dat ek en Metgesel lus was vir Sondagkos? Wel, omdat dit die geval was, bepaal ek my uitsluitlik by die Sondagspyskaart en hier waar ek nou sit wil-wil die mond sommer weer aan’t water gaan.

Ek sit gou, so met die bestudering van die lywige spyskaart saam (alles terloops in keurige Afrikaans), dadelik met ‘n lekker dilemma. Vir drie of vier van die keuses het ek lank reeds ‘n smaak-versmagting.

‘n Tob vir ‘n wyle om te besluit of dit beesstert (R160), hoenderpastei (R100), beeskerrie (R115) of kerrie-skaapafval (R110) gaan wees. My besluit val (gelukkig) op die Boskombuis-afval.


Hoenderpastei met groente en slaai

Jy kan onder meer ook verskeie verbuigings van biefstuk, beestong, schnitzel, lasagne en nog wat bestel. Alle porsies is ruim en die pryse is meer as billik. Uitsonderlik van Die Boskombuis is dat jy welkom is om nog ‘n skeppie of wat te vra as die honger agterna nog ‘knaag’. Dis gratis, maar nie vir wegneem nie.

Die plek word bedryf deur Reneé Thomson en haar seun Louis. Die meeste van die biefstukresepte is Louis se skeppings. Metgesel besluit op Reneé se hoenderpastei met groente en slaai. Dis ‘n allemintige snysel pastei bedek met ‘n ryk bruin sous en dis heerlik. Ek weet, want sy het my so ‘n vurkpuntjie vol laat proe.


Die kroeg en deel van die onderdak-aansitplek

Metgesel meen dit is presies soos ‘n lekker ‘outydse’ hoenderpastei moet smaak en dié aand geniet sy die onbaasgeraakte porsie by die huis.

Lanklaas het ek ‘n afvaltjie weggewerk en nog langer laas een wat vir my bykans perfek smaak. Louis vertel later dat die resep (pens en pootjies) direk uit sy oupa- en oumagrootjie se huis kom. En sy oupagrootjie was niemand anders as generaal Louw Wepener nie.


‘n Ou familieresep se voortreflike afval-opbrengs

Saam met die afval op rys (jy kan ook stampmielies kies) vra ek ‘n porsie groenboontjies oor dit vir my saam met afval op ‘n bord móét lê.

Ons het die buitelug, die kuier, die kos, die mense, die mooi en die rustige atmosfeer van Die Boskombuis terdeë geniet. Bel hulle vir meer inligting by: 083-485-2529

 

© 2024 Die/The Bronberger