Onbeplande kuier lei tot Portugese lekkerte Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 25 September 2019 10:00
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

‘n Onbeplande kuierkans kan soms op ‘n groot lekkerte uitloop. Só beland ons toe heel onbepland een Sondag in September in die nuwe (vir ons) Papa Boa by Silver Oaks Crossing.

Met die nodige en noodsaaklikste aankopies by ‘n ander diepdorpse malle ‘mall’ deurgeworstel, vat ons die verkeersbesmette stadspad om die innerlike by ‘n voorafbepaalde kuierplek op Zwavelpoort te loop versterk.


Die ingang en voorstoep van Papa Boa

Maar op pad bekruip ‘n onverwagse en aardskuddende behoefte van eerste aard my, wat ‘n mens sweerlik op die Richterskaal sou kon meet en wat dit noodsaak om die rigtingskaal na die naaste ‘gerief’ aan te pas.

Slap regs uit Hans Strijdomrylaan is die sentrumpie waar ek baie oop parkeerplek sien.


Die rugbyveldlange systoep

Laas toe ons hier stilgehou het, was dit voor ‘n groot kettinggroep-restaurant wat blykbaar nou gedros het. Papa Boa, is dit nou en ons staan haastig nader. As dit ‘n oomblik later was, was dit ‘n oomblik té laat.

Ek sluit my aan by Metgesel, daar waar ek haar by ‘n hoektafel op die baie groot stoep gelos het. Sy is mos van mening dat jy baie van ‘n kuierplek se algemene gangbaarheid kan wys word deur na die voorkoms van sy ‘geriewe’ te kyk. Papa Boa sal haar toets loshande slaag, berig ek.

Soos alles by dié Portugese kuierplek – die aansitstoep, die netjiese kroeg en die reuse-eetsaal is die spyskaart groot: Baie groot.


'n Volksvreemde, dog heerlike gereg van gevlokte kabeljou

Voor in die spysboek word vertel dat die eienaar, Jorge, die lang pad uit Portugal na Afrika op die spoor van sy voorvaders gevat het met sy familieresepte in sy sak. Was seker minstens ‘n streepsak, dink ek.

Oupa is die naam van ons kelner. Deur die loop van ‘n aansitervaring sou ons die hoofkelner, die hoofkok, die kroegingenieur, die eienaar, Jorge self, en ander personeellede ontmoet. Opvallend is dit dat almal vriendelik is, almal glimlag en almal – ook die klante – lyk tevrede en gelukkig. Dis Jorge wat met trots vertel dat ‘papa boa’ Portugees vir lekker kos is.


Elke plekmatjie beeld ‘n ietsie anders van Portugal uit

Op Sondae bied Papa Boa die keuse van ‘n buffet-ete teen R159 aan. Jy kan ses selfhelpgeregte en vyf nageregte skep, sou jy wou. Kinders jonger as ses eet verniet. Maar ons besluit om deur die spyskaart te werk vir ons keuse. Ons het baie tyd.

Soos te wagte sou wees van ‘n opregte Portugese eetplek, is die keuse van seekos (natuurlik ook garnale) en hoendergeregte wyd. Verbeeldingryke espetadas (soos sosatie, maar baie anders) is oorvloedig. Die een met ‘n hele 500 g kruisskyf kos R179,95.

Ontbytkeuses met ingewikkelde Portugese name se pryse wissel in prys tussen R21.95 tot R79.95. ‘Tastas’ (roosterbroodjies) met ontbytkos soos spek, eier en kaas kan as alternatief aangeskaf word.


Deel van Papa Boa se binnewerke

‘n Alleryslike lys voorgeregte – soos lulas (calamari) teen R54,95 en moelas (hoendermagies) teen R43,95 – kan oorweeg word. Hier kan jy pizzas en burgers, slaaie, nageregte, braaigeregte, peuselmandjies, deelborde, kombinasies, kinderkosse, kerriekosse, vegetariese geregte en vul-maar-in-wat ek-vergeet-het, kry. ‘n Plekgebrek verhinder my om meer volledig uit te wei. Ek kan meld dat die meeste disse teen redelike pryse voorgesit word.

Ek besluit op die “Bacalhau à Bras”. Dit is ‘n pangebraaide, gevlokte kabeljougereg met aartappel en eier ingeroer. Ek vermoed dis een van die  resepte wat Jorge in sy sak saamgebring het, want ek ken dit glad nie. Lanklaas het ek ‘n vreemdheid met soveel oorgawe geniet. Die smaaklike vis van ‘n anderste aard kos R129,95.


Metgesel se garnaal-en-hoender-kerriegereg

Metgesel bestel ‘n kerriegereg, “Camarão E Franco”, wat ‘n kerriegereg van garnale en hoender op rys is en dis hier waar die probleempie begin. Sy het by Oupa seker gemaak dat die kerrie matig is, maar iewers het ‘n misverstand ingesluip en Oupa bring later ‘n heel ander gereg aan. Hoendervlerkies en garnale sonder ‘n teken van kerrie word in ‘n mandjie voor haar neergeplaas.

Tot my effense verbasing aanvaar Metgesel nie sondermeer die foutjie ter wille van die vrede nie. Nee, sy sit voetjie neer en dring aan op dit waarvoor sy gevra het. En net hier sien ons hoe ‘n fout by ‘n kuierplek reggestel behoort te word. Die hoofkelner maak verskoning en bring (gratis) pau (broodjies) aan om aan te peusel, sodat ek nie alleen hoef te eet nie. Die span skarrel en binne ‘n japtrap is die saak reggestel. Later kom verneem die hoofsjef of sake ons toe darem geval het. Dit het. Metgesel se kerriegereg, teen R142,95, was so naby aan perfek soos kan, sê sy.

Gaan kuier gerus by dié groot en gawe Portugese plek. Jy kan hulle bel by: 081-393-3951. 

 

© 2024 Die/The Bronberger