Italiaanse kuierplesier saam met die Duitse familie Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 19 August 2019 21:04
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons probeer om telkens ‘n nuwe (vir ons) kuierplek in die gebied te beproef en beproe, maar net soms gebeur ‘n ding. Die ‘ding’ wat dié keer gebeur, is dat Suster en Swaer uit die verre Kaap uit kom kuier.

Susterskind verjaar en hulle wil die gebeurtenis graag by een van Cullinan se ‘oulike’ eetplekke vier.


Die geskiedkundige sinkhuis wat die kern van die kuierplek is

Nou wil ‘n ou nie graag die familie na ‘n onbekende (vir ons) plek toe saamsleep en dalk die oorsaak van ‘n moontlike on-oulike ervaring wees nie. En dis hoekom ons weer by Piacere loop aansit. Piacere is die naam van die Italiaanse restourant wat Jan (ook genoem Giovanni) in en om een van die dorpie se ou sinkhuise ingerig het. Vry vertaal beteken die naam ‘dis ‘n plesier’ en toe ons knap ses jaar gelede daar gekuier en verslag daaroor gedoen het, is dit wat dit was: ‘n Plesier.

Ons word gulhartig deur Jan (Giovanni) en ‘n vriendelike kelner ontvang. Die Augustuswindjie stu effe en ons besluit om op die toegeseilde dek plaas te neem. Jy kan ook by langtafels in die voortuin of onder sambrele en koeltebome op die werf aansit. Ruim speelplek met klouterrame en goed is in plek vir die kortvolk se plesier. Net ‘n klipgooi van die besige Oaklaan af, is dit rustig en lekker hier.


Penne Vodka in die pizzaoond gebak

Vriendelike kelner bring die lywige, dog deftige spyskaarte aan en neem ons bestelling vir ‘n ietsie te drinke. Voorgeregte sluit ‘antipasti’ soos calamari (R79) en Carpaccio (dungesnyde rou bees) met ‘rocket’ seldery, parmesan en focaccia aan. Dit kos R89.

Nog sewe verbuigings van focaccia (nee, toemaar Kerneels, dis plat Italiaanse brood) kan teen tussen R45 en R81 beproef word, of jy kan Bruschetta (geroosterde ciabatta-brood) met onder andere salm, roomkaas en kappertjiesaad probeer. ‘n Antipasti-bord met salm, ham, hoender, olywe, tamatie en uie, peppadew en Bruschetta is beskikbaar teen R109.


Die kuierstoepie met seilbedekte dek agter

Soos gemeld is die spyskaart lywig van aard. ‘n Bladsy word afgestaan aan ligte etes en slaaie, ciabatta-brode met allerlei, soos salami, mozzarella en olywe (R99) en slaaie soos Insalata Caprese kan teen R75 per kop of R125 vir die tafel (hy sê nie hoe groot nie) bestel word.

Uiteraard bied die spyskaart ‘n magdom van pizza- en pastageregte. Die pizza (in ‘n houtoond reggetoor) wissel in aard en prys van die Margherita (R35 vir klein en R65 vir groot) tot die seekoskeuse en een wat Sophia Loren genoem word, wat onderskeidelik teen R125 (klein) en R185 vir die groot een inweeg.


Metgesel se vegetariese ‘meesterstuk’

Maar dit hou nie by die 16 spyskaartkeuses op nie. Jy kan ‘jou eie meesterstuk skep’ deur een of meer van 42 soorte byvoegsels na hartelus op jou plat lekkerte te laat sit. Metgesel sê sy weet die vegetariese pizza hier is ‘n meesterstuk net soos hy is en sy bestel die groot een.

Dieselfde geld die pastadisse. Nege spyskaartkeuse word met spaghetti, fettucine of penne as basis gebied en ook hier kan jy jou eie dis met allerlei beskikbare byvoegsels skep. Die pastageregte wissel in prys van R79 en R130. Suster se verjaardagseun besluit op die Penne Vodka wat met ‘n romerige vodkasous, salm en twee soorte kaas in die pizzaoond gebak word.


Baljaarplek op die werf

Ons blaai deur die spysboek tot by die bladsy onder die opskrif ‘Main Attractions’ en dis hier waar ek, Suster en Swaer ons keuses kry. Swaer is ‘n Duitser met die voorkeur vir varkvleis wat hy met so baie van sy volksgenote deel. Die ‘Involtoni Romano’ is ‘n gekrummelde, gerolde en gevulde ‘varkfilet’ versmoor (spyskaart sê smothered) in ‘n Napolitana sous.

Nou weet almal dat die ‘regte’ naam vir ‘n dergelike snit van bees ‘beeshaas’ is. Ná ‘n bietjie kopkrap besluit ek tog ‘varkhaas’ klink net nie reg nie en ‘beeshaasvark’ is  nog ‘n erger aardigheid. Swaer vra dat die skyfies wat hy saam met sy fillet van vark bestel bros en nie slap moet wees nie. Kelner maak ‘n nota.


‘n ‘Versmoorde varkhaas’ met skywe van aartappel

Jy moet vra wat die ‘vis van die dag is’ en ek en suster reageer gunstig daarop toe kelner sê dit is koningklip. Sy bestel ‘skyfies’ daarby en ek vra vir rys. Ook onder ‘main attractions’ kry jy die gewone biefstuksnitte, hoender en calamari. Verbeeldingryke verbuigings van ‘n paar biefstuksnitte, soos ‘n bloukaas-en-avo-lendeskyf (R171), word ook gelys. Ses soussoorte is beskikbaar vir lêplek oor jou biefstuk.


Reggedoende koningklip met bros aartappelskywe

Swaer se ‘varkhaas’ vind hy heel skaflik, maar dit is die brosgebraaide skywe (te groot om skyfies genoem te word) wat hom en Suster gaande het. Die koningklip is soos dit moet wees: ‘n Stewige, geurige vis wat net op die regte manier vlok. Die sousie daarby is koninklik.

Die verjaarkuier saam met die familie by Piacere was gemaklik en genotvol. Jy kan bel vir meer inligting: 082-203-9746.

 

© 2024 Die/The Bronberger