Enkeldiep die dorp binne na salige rustigheid Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 23 July 2019 11:38
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Metgesel meld dat ons nogal lanklaas iewers in die dieper dorp loop aansit het. Dis waar, bieg ek en die rede hiervoor kan seker in my voorliefde vir landelike kuierplekke gesoek en gekry word. En dalk ook in die ingebore afkeur vir druk verkeer en ‘n lawaai.

By iemand het ek gehoor van ‘n andersoortige ‘nuwe’ plek wat by Olympus se Boardwalk oopgemaak het. Dis nou wel nie kniediep die groot dorp binne nie (hoogstens seker net so enkeldiep), maar ons sit op ‘n Sondag af om met Grayz Coffee Shop and Eatery te gaan kennis maak.


Grayz se spyskoerant

Grayz is op die vêrste (noord-oostelike) hoek van die kompleks ingerig. Hier, vlak langs die dammetjie in die Moreletaspruit, is dit stil, dis mooi, dis rustig en jy kon ewe goed iewers erg landeliks gewees het.

Groot vensters wat jy kan oopskuif, loop in ‘n halfmaan van kant-tot-kant en bied ‘n innemende uitsig oor die dam en oopte. Die plek is ‘n verdieping bokant die plankpad (boardwalk) geleë wat daarby die uitsig onbelemmerd laat.

Die tafeltjies en stoele dateer almal uit toentertyd: Almal pragtig en almal anders. Ons kies ‘n ou ovaalvormige greinhouttafeltjie met vier baie mooi anderdagse stoele en skuif die venster hier voor ons wyd oop.


Metgesel se aartappel-lasagne

Van die intrapslag af is ons baie hartlik verwelkom deur die eienaars, David en Taryn. Die gemaklike kennismaking en gesels laat ‘n ou voel of jy dié mense jare reeds ken. Ons kelnerin is ewe vriendelik en behulpsaam. Grayz gee ast’ware gestalte aan die begrip gasvryheidsbedryf, dink ek.

Die spyskaart is onder die mashoof ‘Grayz Chronicle’ in koerantformaat saamgestel. Ons kry die ‘winter edition’ waarvan die voorblad grootliks uit ‘n magdom keuses van koffie, tee en ander ‘sagte’ drankies bestaan. Die harder drinkgoed word op ‘n aparte, los bladsy uitgespel.


Ouwêreldse aansitplekke by Grayz

Metgesel besluit op ‘n koffie uit die dosynstuks keuses en ek waag dit om van die los bladsy af ‘n vakmansbier (craft) met die naam van Jack Black te bestel. Nie een van ons kry later spyt oor ons keuses nie. Só geniet ek die ‘boetiekbier’, dat ek later nog van Jack se lager laat nader bring. Ook op die voorblad is ‘n advertensie vir koek, kaaskoek en botterbroodjies.

Grayz gaan groot met ontbyt, wat heel dag beskikbaar is. Die hele bladsy twee word daaraan afgestaan. Oor ‘n croissant-keuse (R50), drie verbuigings van Benedict-eiers (R85), Engelse ontbyt (R35) waarby jy ‘whatever you feel like’ teen ‘n ietsie ekstra kan byvoeg, omelette met twee vulsels, of meer as jy wil, ‘breakfast lasagne’ met lae aartappels pleks van pasta, verbeeldingryke plaatkoekie-keuses, Skotse hawermout, Griekse jogurt met vrugtesosatie en gevulde Franse roosterbrode van uiteenlopende aard, kan jy op dié bladsy lees. Metgesel besluit op die ontbyt-lasagne.


Jy kan ook op die onderste stoepvlak langs die dammetjie plaasneem, sou jy wou

Ewe wyd loop die keuses onder die hofie ‘Small Bites’ op bladsy drie en onder ‘Bigger Bites’ op drie en vier. Die disse by Grayz is allermins algemeen, soos wat jy op die meeste ander spyskaarte in die gebied sal kry.

Weens ‘n gebrek aan ruimte noem ek net ‘n paar: Dim Sum is een van die ‘Small Bites’ wat jou R60 sal kos. Dit word beskryf as drie gebraaide en gestoomde bees en kool ‘potstickers’ en twee gestoomde vark-kluitjies saam met jou keuse van ‘n doopsous. ‘n ‘Potsticker’ is ook ‘n kluitjie van Oosterse oorsprong.


‘n Knussige hoekie by Grayz

Teen R52 kan jy Skotse eier bestel. Die gekookte eiers word toegerol in gekrummelde varkmaalvleis en word saam met ‘n mostertmayo-sous voorgesit. Of dalk geval twee ryspapierrolle gevul met rys, noedels, wortel, komkommer, krapvingers, avokado en kruie saam met ‘n doopsousie jou. Dit kos R42.

Heelwat van die 13 keuses onder ‘Bigger Bites’ sal dalk vir jou ook ‘vreemd’ wees soos dit vir my was. Van die meer herkenbares (vir my) is die hoender en groente ‘potpastei’ teen R102, die Kaap/Maleise bobotie (R105) en die varkpens (pork belly) met ‘n gestoomde broodrolletjie saam met appel-en-kool-slaai.


‘Pork belly’, smaaklik met effe min brosvel (crackling)

Ek bestel die vark teen R90 en vind dit smaaklik. Ek was effe teleurgesteld dat dié dis nie meer brosvel (crackling) bevat het nie.

Metgesel geniet haar ontbyt-lasagne, met aartappel pleks van pasta, terdeë en die twee van ons vertrek tevrede en versadig uit die enkeldiep dorp vanaf Grayz, wat eintlik ‘n gemaklike en gemoedelike, landelike afsaalplek is. Jy kan hulle bel vir meer inligting: 012-991-0759.  

 

© 2024 Die/The Bronberger