Uitspan by dié Bosveldplek was murglekker Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 20 May 2019 10:00
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Op ‘n helder, sonnige Sondag in herfs gryp die begeerte my om iewers buite in die stilte onder ‘n boom te loop sit: Iewers waar ‘n ou darem ook ‘n ietsie aangenaams vir die innerlike kan nuttig. En Metgesel sê sy is ook vierkantig daarvoor te vinde.

Net so ‘n klipgooi of twee van Kitty Hawk se afdraai af sien ons ‘n imposante, nuwe lokaasbord langs die Boschkopteerpad staan. “Bosveld@369°. Die hart van die Bosveld”, staan dit netjies geletterskilder.

Teen die agtergrond troon ‘n reuse-kremetartboom. Ons swaai in. Baie parkeerplek, merk Metgesel op.


Bosveld@369° se voortuin met kapel

Die aanlooppaadjie vat ons verby ‘n baie skoon swembad en netjiese tuinbeddings. Met die intrapslag sit die kroegie regs en hier voor ons is ‘n aantal van daardie hoogstaan-tafeltjies met ewe hoë kroegstoeltjies staangemaak. Van dié soort wat na my ervaring beter vir die geniet van vloeistowwe as vir die inneem van voedsel ontwerp is. Dit moes vroeër koel gewees het, of iemand doen ‘n oefenlopie vir die winter, want die kaggelvuur brand nog.

Ons hou verby en beweeg deur ‘n groot en leë eetvertrek (seker eerder vir funksies) tot buite op die dek. Ons besluit om net daar onder ‘n sambreel by ‘n lang houttafel plaas te neem. Voor ons is dit prentjiemooi. Onder die diep koeltebome is aansitplekke ingerig. ‘n Plaasdammetjie met ‘n geel roeibootjie op sy oewer, ‘n bokkiekar en ander plaasimplemente uit toeka staan voor ‘n baie imposante kapelletjie. Ons wil hier wees.


Kuier op die dek of onder koeltebome

Meestal was ons kuiertjie by Bosveld@369° met stilte en rustigheid gevul – meestal. Die ligte vliegtuie wat sporadies van Kitty Hawk af opstyg pla nie juis nie, want hulle dreun vlugtig en – woerts, is hulle die vêrte in weg. Maar een ou het een van daai mini- cooperkoptertjies (sonder knaldempers) wat ‘n hengse geraas maak en met stadige kort draaie by herhaling bokant ons hoofde hang. Gelukkig het die koptertjiekêrel ná so halfuur besluit dis nou (selfs vir hom) genoeg – net betyds om my van die totale raserny te red.

‘n Baie flinke kelner bring na versoek ‘n baie koue bruisdrankie en baie groot koppie koffie aan. Hy sit ‘n spyskaartjie voor elkeen van ons neer. Die spyskaartjie is netjies, maar klein van gestalte met baie klein drukwerk. Leen iemand se nommer drie bril as joune te swak is. Pottie, die ou wat by Bosveld in beheer staan, verduidelik dat die piepklein lettertjies te wyte aan ‘n misverstand tussen hulle en die drukker was, maar dat dit reggestel sal word. Pottie verduidelik ook dat die ‘369’ die nommer is van die Boschkopplaas waarop die kuierplek staan.


Plaasdammetjie met geel bootjie vlak by ons aansitplek

Volgens Metgesel kan jy baie oor ‘n kuierplek leer deur ‘n draai in sy draailoopplek te loop.

Bosveld@369° se ‘geriefie’ is volgens haar skoon, netjies en verbeeldingryk ingerig. Die mans se draaiplek word aangedui deur die woord ‘Bulle’ en die vroue s’n se aanwysing sê ‘Ooie’. Nogal baie diplomaties van hulle, dink ek, om nie die mansplek ‘Ramme’ te noem en nie beeskant toe te wil neig met die vroueplek nie.

Die spyskaart bied daarby nie ‘n baie groot verskeidenheid nie, maar ek is baie beïndruk met die feit dat dit in die taal wat die grootste hoeveelheid klante uit vrye keuse praat en ook in Engels gedruk is.

Die meeste restouranteienaars in ons gebied kan gerus iets by dié Bosveld loop leer.


Die goedgevulde, diepgesnyde murgbene

Vir ontbyt kan jy ‘n broodrolletjie met eier, spek en kaas teen R50 probeer of die ‘plaasontbyt’ met spek, eiers, kaasworsie, wors en dies meer teen R80. Onder die hofie ‘Groot Etes’ (‘Mains’ in Engels) kos die beesvleis-burger en die hoenderburger met skyfies R65. Pasta Alfredo met hoender, spek en romerige sous weeg in teen R75 en Pasta Alla Norma, ‘n vegetariese dis met getamatiede sous, kos R70.

Die spyskaart noem die bepaalde aard van die 300 g biefstuk nie, dit meld net dat dit ‘prima vleis’ is, saam met skyfies bedien word en R100 kos. ‘n Hoender-schnitzel met keuse van sous en skyfies – R75. Jy kan ook ‘n ‘Bosveld mandjie’ met vinger-versnaperinge soos vlerkies, kaasworsies, samoesas, ribbes en nog wat teen R99 bestel. Nagereg is roomys met sjokoladesous en vir die kortvolk het hulle ‘n spesiale afdeling. Op ‘n swartbord by die kroeg is ‘n magdom mengeldrankies (shooters) uitgespel.


Stokvis – vlokkig soos hy moet wees

Metgesel sou besluit op die vis met rys of skyfies en dit was ‘n goeie keuse teen R70. Die murgbene waarop ek besluit het, was die  perfekte keuse vir ‘n ou (soos ek) wat van murgbene hou. Die flinke kelner belowe my dat die ses murgbene teen R60 groot is, en dit blyk toe dat hy ‘n man van sy woord is.

Die murgies is amper sonde só lekker is dit saam met die melba-roosterbrood. Die gerei van ‘n groot biefstukmes en vurk is egter nie ideaal om die lekkerte uit te kry nie, maar ek leer gou dat die vurk se steel die taak uitstekend verrig. Volgende keer bestel ek ‘n ‘dubbel’.

Metgesel se twee billike stokvisse was presies reg en nie “te” gaar gedoen nie. Die vis vlok reg en smaak soos dit moet. Want ‘n stokvis moet ‘n vlokvis wees (‘hake should flake’?) om na waarde geskat te word.

Jy kan die Bosveld@369° se mense bel vir meer inligting: 012-942-9552.

 

© 2024 Die/The Bronberger