Op Bronkie was ons dit nie te wagte nie Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 23 April 2019 15:08
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

In Bronkie groei die Bronnie se gewildheid en lesersgetalle lekker, hoor ons, en so sit ons een goeie Sondag af soontoe. 

Dis nou geensins die bedoeling om Bronkhorstspruit vlak te vat nie, maar ons was regtig nie ‘n kuierplek soos die ‘Sinkshack’ hier te wagte nie. Hoegenaamd nie jou ‘konvensionele’ plattelandse afsaalplek, is dié Sinkshack nie. Ja, een woord soos op Afrikaans gespel sonder om die ‘shack’ te wil hut, of gehuggie, of te sjak, of iets.


Kranige kelner by die selfskepbakke

Heelparty netjiese sinkstrukture is op die erf, wat ook as gastehuis dien, staangemaak. Die kuierplek is ‘n amperse sinksaal. Ons verneem musiekmakers tree gereeld hier op. Buite in die tuin en binne in die kuiersaal is allerlei aardighede, oudhede, kunstighede en kunsafdrukke, musiek-, vervoer- en plaasverwante interessanthede in plek. Kleurvol en gemoedelik is die plek, soos die gasvrye eienaar Deon en sy personeel ook is.


Gemoedelike eienaar, Deon, voor die plek se kroeghoekie

Jy kan by een van die stewige aansitplekke loop plaasneem, buite in ‘n binnehoffie of eenkant in gemakstoele en banke om ’n koffietafel. ‘n Baie kranige kelnerknaap bring ‘n koue bruisdrankie vir my uit die kroegie aan en vir Metgesel ‘n baie warm, baie groot beker boeretroos uit die kombuis.

Ja, hulle het ‘n spyskaart, sê kranige kelner, maar dis Sondag en op Sondae is dit selfskepdag: “Buffet,” sê hy en net wegneemgoed soos burgers en broodjies kan uit die kombuis uit bestel word. Ek vra om nogtans na die spyskaart te kyk en dié is nogal verstommend lywig en keuseryk.


Aansit by ‘n stewige houttafel

Met dié dat dit selfskepdag is, gaan ons nie te veel aan die spyskaart herkou nie. Al die nodige en daarby ‘n paar ongewone voorgeregte, braaigeregte, seekosse (garnale ook), hoenderdisse, hamburgers, broodjies, ‘n stewige Tappas- en pizza-verskeidenheid, deelborde en nageregte is teen billike pryse by die Sinkshack beskikbaar. Daarby beloof die spyskaart daaglikse spesiale aanbiedings op spyse en dranke – jy moet net die kelner vra.


In die musiekbedingeste kuierplek

Die Sinkshack se selfskepspyskaart vir die dag is: Rooibokboud, bobotie, gegeurde rys, ‘anderste’ gemengde groente, gebakte aartappel, skorsies met suikermielies en kaas, wortelslaai met pynappel en ‘trifle’ (koekstruif) vir nagereg. Dit alles teen R120 per volwasse kop en R60 per kinderkop.


Die ingang na Bronkie se Sinkshack

Nou verkies Metgesel mos om nie mee te doen aan die eet van mede-soogdiere nie, maar sy verseker my, ná ‘n blik in die opskepbakke, dat dit geen probleem is nie. Tewens, die anderste ‘gemengde groente’ en wat nog is vir haar die ene plesier en sy skep oordadig en geniet geweldig.


Rooibokboud, bobotie en ‘anderste’ groente en goed

Die rooibokboud is gesny en versnipper saam met ‘n ryk uie- en nog-ietse-sous. Gewoonlik sou ek my ‘n maroela- of kweperjellie saam met wildsvleis nodig voel, maar Sinkshack se wild lê mak en smaaklik op die tong.


Deel van ‘n musiekmuur in die sinkskuur

As dit menslik moontlik was, sou ek later nog van die baie geurige bobotie loop skep. Saam met die in-die-skil-gebakte aartappelkwarte en die res en afgerond met ‘n vingerkoekie-koekstruif, was dit vir my ‘n salige Sondagmaal.

Jy kan hulle bel by 078-741-7597 vir meer inligting.

 

© 2024 Die/The Bronberger