Simon kyk spikkelkat uit bloekomboom
Simon se bloekomboom ‘tier’ het binne ’n paar uur
die legende rondom die Bronberg se laaste luiperd
laat lyf kry. Lees hier hoe Simon dié ‘tier’ vir vier ure lank stip dopgehou het tot natuurbewaring hom
kom pyl het, dieretuin toe geneem het, waarna hy
eers ’n wortelkanaaloperasie by Onderstepoort gekry
het voor hy geband is en in ’n Dinokeng-wildreservaat
vrygelaat is.
Die Bronberg se wegkruiper
luiperd is uiteindelik in
Mooiplaats gevang. Dié
luiperd het op Donderdag 14 Oktober
vier ure lank bo in ’n bloekomboom
op plot 56 gesit en staar na
die groeiende groep mense onder
die boom.
Anton Bester, eienaar van dié plot
tussen Korhaanstraat en die Pienaarsrivier,
vertel dat die storie
begin het toe sy werker, Simon
Mamogobo, hom so teen 1.30 nm
gebel het om met groot opwinding
te sê daar sit ’n uitgevrete ‘tier’ in
die boom.
Natuurlik het Anton gedink dat dit
onmoontlik moes wees. Sy plot is
elektries omhein en selfs twee van
die binne-kampe se drade is geëlektrifiseer.
Anton was op daardie stadium
in Faerie Glen en het vir Simon
gevra om die gedierte, wat dit ookal
mag wees, stip dop te hou tot
Anton by die huis kom. Simon mag
die ‘tier’ nie uit die oog verloor nie.
![](/images/stories/nov2010/akt11.jpg) Die luiperd het vir vier ure lank 15 meter hoog in ?n bloekomboom
gesit
Foto: Ada Raubenheimer
Dophou
Dié opdrag is so goed deur Simon
uitgevoer dat hy bykans vier ure
later, toe die verdoofde luiperd
probeer ontsnap het, een van
die eerste mense was om die
luiperd agterna te sit.
Maar ons loop die storie, wat die
hele Conserv-gemeenskap in rep en
roer gehad het, vooruit. Voor Anton
se radio-roep oor die luiperd uitgegaan
het, moes hy eers bevestig dat
Simon nie die spreekwoordelike (en
tasbare) kat aan die stert beet het
nie.
“Ek was natuurlik baie skepties oor
wat Simon kwansuis sou sien, want
wie verwag nou ’n luiperd in jou
bloekomboom? By die huis aangekom,
het ek na ou Simon gestap
waar hy nog stip na ’n bloekomboom
gestaar het,” sê Anton.
“In daardie stadium kon ek nog niks
sien nie, hoewel Simon volgehou
het dat hy die dier kan sien. Ek het
huis toe geloop, ongeveer 100 meter
daarvandaan, en my verkyker
gaan haal. Terug by ou Simon kon
ek, met verkyker en al, nog nie die
ongedierte sien nie. Opvallend was
dat twee kraaie al om die boom
gesirkel het en aanhoudend ’n
lawaai gemaak het.”
Dit was juis dié kraaie wat om die
bokant van die bloekomboom gesirkel
en aanhoudend geraas het,
wat Simon aanvanklik genoop het
om na die boom te stap om te kyk
wat aangaan.
Die luiperd was ongeveer 15 meter
bokant die grond, in die mik van die
bloekomboom en heel rustig ten
spyte van die kraaie wat hom probeer
verjaag het. Dit is eers nadat
Anton met sy verkyker van posisie
verskuif het om ’n beter uitsig op
die boom hê, dat hy kon sien dat
Simon se ‘tier’ in werklikheid ’n
luiperd is. En dit is toe dat sy ongewone
radio-roep uitgegaan het.
“Soos dit maar altyd in hierdie
gemeenskap gaan, as ’n insident op
jou eiendom gebeur, is hulp binne
minute daar. Dit was nie lank nie
voordat vyf tot tien mense na die
luiperd gestaar het, en hy rustig
teruggestaar het,” sê Anton.
![](/images/stories/nov2010/akt12.jpg) Simon, regs, staar steeds stip na die verdoofde luiperd. Hencke
is links met sy Tshwane Natuurbewaring uniform, Joe van
Heerden, van Joe van Heerden Safaris, praat oor sy selfoon, en
dit is nie bekend wie die ander drie mense is nie. Anton dink
hulle is van Farm Inn.
Foto: Ada Raubenheimer
Bewaring
Ongeveer 15 minute nadat Anton
die insident gerapporteer het, het
Hencke Marais van Tshwane Natuurbewaring
hom gebel en laat weet
dat hy op pad is. Hy was omtrent
30 minute later daar.
Teen kwart voor vyf was ’n veearts
van die Pretoriase Dieretuin op die
toneel en hy en Hencke het ’n gesamentlike
strategie uitgewerk om die
dier te verdoof. Die effek van die
verdowing kon veroorsaak dat die
luiperd uit die boom val en homself
beseer, of selfs doodval.
Die wind het redelik sterk gewaai en
dit het gelyk asof die eerste twee
probeerslae om die luiperd te pyl,
nie suksesvol was nie. Die plan was
om die luiperd rustig te laat afklim
terwyl die verdowingsmiddel begin
werk. Luiperd se kind het egter
ander planne gehad, sê Anton.
![](/images/stories/nov2010/akt13.jpg) Die luiperd het sy slagtand in
aanhouding by die dieretuin
gebreek en moes ?n wortelkanaal-
prosedure ondergaan
Foto: Lisa Hnatowicz
Blits
Toe die derde verdowingspyl hom
tref het hy onrustig begin word en
soos blits teen die boom afgehardloop
en ooswaarts in die rigting van
die Pienaarsrivier koers gekies.
Verskeie nuuskierige omstanders
het laat spaander, maar Simon en
Hencke is dadelik agterna.
Simon het later laat blyk dat die
rede waarom hy so vinnig agterna
is, is dat hy bang was dat die luiperd
iewers tussen die palms in die
Besters se kwekery sou verdwyn.
Simon wou seker maak hy sien waar
die luiperd uiteindelik sou neerval.
En sy opdrag was mos om nie die
kat uit die oog te verloor nie.
Die luiperd is dwarsdeur die elektriese
omheining wat die binnekampe
van mekaar skei, en af tot by
die rivier waar hy al langs die
geëlektrifiseerde grensdraad
beweeg het tot waar hy weer ongeveer
halfpad terug na die bloekomboom,
inmekaar gesak het.
Verdere verdowing, per hand, het
verseker dat hy rustig was, en hy is
op ’n oop bakkie nader na die
Besters se huis vervoer.
Daar is hy na ’n krat op Hencke se
bakkie oorgeplaas en na die
Nasionale Dieretuin in Pretoria
vervoer.
![](/images/stories/nov2010/akt14.jpg)
Die luiperd word bakkie toe
gedra terwyl Simon steeds
stip staar.
Foto: Ada Raubenheimer
Byt
By die dieretuin is hy herdoop na
Ingwe en is dit bevind dat hy ’n driejarige
mannetjie van 57,8 kg is. Hy is
in isolasie gesit omdat wilde luiperds
baie omgekrap raak as hulle
naby mense aangehou word. Tog
het Ingwe seergekry toe hy probeer
het om sy pad deur die hok se ystertralies
oop te byt. Toe hy Maandag
25 Oktober verdoof is om die
opsporingshalsband aan te sit, het
die dieretuin se kliniese veearts, dr
Adrian Tordiffe, gesien dat Ingwe se
boonste slagtand afgebreek het.
Ingwe het daardie Vrydag ’n wortelkanaal-
prosedure in die Onderstepoort-Veeartsenykundige Instituut
ondergaan en is eers daarna by
Mongena Game Lodge in die sowat
18 500 ha grootte Dinokeng Big
Five-reservaat naby Hammanskraal
vrygelaat.
Teen Die Bronberger se saktyd het
ons verneem dat Ingwe goed daar
aanpas, maar nog nie veel beweeg
het in die reservaat nie. Sy bewegings,
wat met ’n opsporingshalsband
gemonitor word, het aangedui
dat hy nog net tussen kos en water
beweeg; tussen die rivier en ’n rooibok-
karkas wat ongeveer 600 meter
verder vir hom gegooi is.
![](/images/stories/nov2010/akt15.jpg) ?Durf dit net om nader te kom!?
Foto: Ada Raubenheimer
Zwavelpoort
“Ons is bly dat die dier sonder enige
voorval gevang kon word en dat hy
weer in die natuur vrygelaat gaan
word,” sê Anton. “Of hy wel van die
Bronberg afkomstig is, bly ’n ope
vraag, maar dit is ’n wonderwerk
dat hy binne ’n ontwikkelde gebied
beweeg het, sonder om enige mens
of dier aan te val.”
Volgens Denyse en Liana van
Hoepen van plot 80, Zwavelpoort,
is hierdie waarskynlik dieselfde
luiperd wat vroeër vanjaar naby
hulle doenig was. In Die Bronberger
se Januarie 2010 uitgawe het ons
berig dat ’n luiperd hom in die
Bronberg, vlak by die woongebiede
van Zwavelpoort, Olympus en Faerie
Glen, tuisgemaak en reeds minstens
een troetelhond verslind het.
Net ná Kersfees verlede jaar het die
luiperd ’n Jack Russel van Danie van
Hengel van Zwavelpoort gevang en
verslind. Danie en sy gesin was met
vakansie en buurvrou Denyse en
haar dogter Liana het gaan ondersoek
instel.
Hulle het groot voetspore oral in die
omgewing gekry en het nog spore
op verskillende plekke in die berg
agter hul huis opgespoor. Denyse
en Liana het ook op ’n boom
afgekom wat duidelike krapmerke
teen die stam en baie spore onder
die boom getoon het.
Tierpoort
Dit is nie duidelik of dit dieselfde
luiperd is wat in 2009 in Tierpoort
gesien is nie. In Die Bronberger se
September 2009 uitgawe, het ons
berig dat Richard Wade, argeoloogsterrekundige
van die Nkwe-rif
Sterrewag een aand, toe hy om die
draai by die Nkwe uitdraaipad kom,
amper teen die luiperd gebots het.
Hy het gesê die luiperd woon in die
uitgrawings op die Tierpoort-plot
wat so ’n paar jaar gelede aan
Elzilda Becker, wat voorheen die
eienaar-uitgewer van ‘De Kat’ tydskrif
was, behoort het.
Ouer inwoners van die Bronberggebied
meen dat ’n luiperd jare
reeds in die omgewing van Zwavelpoort
en Shere bly. Spore wat in die
berg gekry is dui daarop dat die
luiperd tussen die poort van
Zwavelpoort in die ooste en die
berg agter Faerie Glen in die weste
beweeg het. |