Anytime fnuik dood en wen Print E-mail
News - Artikels
Friday, 24 September 2010 07:47
Untitled Document

’n Perd wat twee jaar gelede bykans dood was en slegs ’n 20% kans gegun is om ooit weer gery te word, het met ’n handvol eerste en tweede plekke op die T-Skou (Pretoriase Skou) weggeloop.

Liberty’s Anywhere Anytime, ’n volbloed reun, het in April 2008 in sy stal gaan lê en niemand kon dit regkry om hom weer te laat staan nie. Die veearts het gesê dat Anytime waarskynlik die Wes Nyl virus opgedoen het. Hy was heeltemal verlam in sy agterbene en is net ’n twee persent kans op oorlewing gegee.

Juanita Jamneck van Liberty Stalle vertel dat sy aanvanklik die perd se lyding wou laat beëindig. Ná twee nagte van by hom bly om hom elke uur om te draai en met die hand te voer, het sy gedink dat Anytime se einde onafwendbaar is. Gelukkig het haar man haar oortuig om vir Anytime ’n kans te gee.


Anytime as wenner op die onlangse Pretoriase Skou

Sleep
Juanita onthou dat dit ’n Donderdagmiddag was toe die veearts Anytime verdoof het en dat almal by die stalle gehelp het om hom letterlik in die perdewaentjie in te sleep. Hy is Onderstepoort toe geneem, waar die veeartse ook glad nie positief oor sy kanse op oorlewing was nie. En as hy oorleef, sou hy waarskynlik nooit weer gery kon word nie, het hulle gesê.

Dit het gelyk of Anytime verstaan wat daar gesê word en hy het sy bes probeer om te wys dat hy saam sal werk om weer gesond te word. Die veeartse het besluit om Anytime tot die Saterdag tyd te gee om tekens van herstel te toon.

Teen daardie tyd kon Anytime nog glad nie staan nie – nie eers met die hulp van ’n hangverband (“sling”) nie. Daardie Saterdagoggend het hy uiteindelik sy bene onder homself ingekry toe die hangverband hom begin oplig en kon vir ’n paar minute staan.


Anytime voor hy siek geword het

Wonderwerk
Later daardie week het Juanita-hulle vir Anytime huis toe gevat. Die veearts het op sy ontslagvorm geskryf dat dié waarlik ’n ‘wonderwerkperd’ is. Tuis by Liberty Stalle het die lang herstelproses begin. Anytime was vol sere van dehidrasie en moes elke paar ure handevol medisyne kry. Die sere is behandel, en hy is elke dag klein entjies gelei om sy spiere te begin opbou.

Ses maande later was almal by die stalle in trane toe Anytime vir die eerste keer weer gery is. Einde Augustus vanjaar het Anytime so goed presteer op die Pretoriase Skou dat niemand sou kon raai dat hy twee jaar gelede amper dood was nie.

Saam met Stephanie Terreblanche het Anytime ’n eerste plek behaal in die volwasse dressering nuweling 2 afdeling. Dié twee het ook tweede gekom in die volwasse dressering nuweling 3 afdeling en ’n tweede plek behaal in die volwasse skoudrawwer (‘hack’) en skou-ryperd onder 1,63 meter afdelings. Anytime is gekies as die reserwe kampioen volwasse dressering-perd.


Anytime met die sere oor sy hele lyf

Ruiters
Ander Liberty-ruiters het goed gedoen in die ope klasse op dié skou. Jessica Quinn en Liberty’s Pasella het ’n tweede plek behaal in die skou-ponie wat gelei word afdeling en Pasella is gekies as reserwe kampioen ponie wat gelei word. Dié twee het vyfde gekom in die dressering- afdeling vir ponies wat gelei word en vierde in die gebruiksponie wat gelei word afdeling. Elisbe Kruger en Alacrity het ’n eerste plek behaal in die junior skou-drawwer (“hack”) en ’n derde plek in die junior skou-ryperd onder 1,63 meter afdelings.

Nastasja Schoonraad en Firefox II het ’n eerste plek behaal in die junior dressering prelim twee en drie-afdelings, ’n derde plek in die junior skou-jagperd onder 1,63 meter afdeling en vierde plek in die junior skou-ryperd onder 1,63 meter afdeling.

 

© 2024 Die/The Bronberger