Dragtige ietermagog op Cullinan gered Print E-mail
News - Artikels
Friday, 14 June 2024 08:00
Untitled Document

’n Dragtige ietermagogwyfie is op 17 Mei op Cullinan gered ná ’n fyn beplande polisieoperasie waar vyf verdagtes aangekeer is.

’n Week later het Wendy Wilson, woordvoerder vir die Johannesburgse Dierehospitaal vir Wild, laat weet dat die ietermagog, wat hulle Opal gedoop het, deur baie erge trauma is. Wendy het gesê dat hulle versigtig optimisties is oor Opal se herstel.

“Sy was baie honger en gedehidreer. Weens hulle gespesialiseerde dieet, neem dié diertjies niks in as hulle deur stropers aangehou word nie.”


’n Ietermagog het nie skubbe op die pens nie

Opal is gered danksy ’n operasie wat deur die Cullinan-polisie se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, die Gautengse verkeerspolisie en verskeie ander polisie-eenhede van stapel gestuur is ná inligting oor die beoogde transaksie op 10 Mei ontvang is.

Polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Johan van Dyk, het gesê dat ’n operasionele span gevorm is en in die omgewing van waar die transaksie sou plaasvind, gevestig is. ’n Taktiese span was op bystand vir ingeval enige iemand sou probeer vlug en alle ingange en uitgange is gedek.


Opal, die ietermagog wat op Cullinan gered is

Johan het gesê dat twee voertuie by die afgespreekte plek aangekom het en dat die span drie verdagtes in een van die voertuie in hegtenis geneem het. Die tweede voertuig het weggejaag en is in ’n hoëspoed-jaagtog in die rigting van Mpumalanga agternagesit.

Die polisie het die voertuig voorgekeer en die insittendes is in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op die verdagtes se twee Toyota Corolla-voertuie.


Opal rol haarself in ’n bal op om haar pens te beskerm
Foto’s: Verskaf

Dit is ’n misdaad om in besit van ’n ietermagog of liggaamsdele van een van dié bedreigde diere te wees. Die Nasionale Omgewingsbestuur Biodiversiteitswet beskerm die ietermagog. Verbreking van dié wet kan tronkstraf van tien jaar of ’n boete van tot R10 miljoen tot gevolg hê.

Dié diertjies is meer bedreig as renosters en moeiliker om te beskerm. Daar is ’n oorweldigende groot mark vir ietermagog-skubbe in Asië, veral in Sjina, omdat daar geglo word dat die skubbe medisinale waarde het.

 

© 2024 Die/The Bronberger