Michelle sê hou moed as die meule jou maal Print E-mail
News - Artikels
Friday, 17 May 2024 14:00
Untitled Document

“Moenie moed opgee nie! Moenie net gaan lê nie. Staan op, want jy weet nie watter goeie goed dalk net om die draai vir jou wag en watter ongelooflike mylpale nog op jou lewenspad vir jou bestem is nie – dinge waarmee jy ander mense kan help.”

Só sê Michelle Fourie van Kleinfontein. Sy sê daar is groter planne vir ons, al weet ons nog nie wat dit is nie. “Deure sal vir jou oopgaan as jy net aanhou opstaan.”


Die ruiters op die Paasnaweek-roete

Sy wil haar storie vertel om vir ander hoop te gee en haar storie het alles met uithouvermoë en perde te doen. Sy het eers op die ouderdom van 42 begin perdry en dit teen almal se besware in, omdat sy osteoporose het wat geweldige rugprobleme veroorsaak.

In Januarie 2020 het Michelle bewussyn op haar perd se rug verloor, haar voet het in die stiebeuel vasgehaak en die perd het haar ’n ent saamgesleep. Sy is so erg beseer dat sy eers vier dae later in die hospitaal se intensiewe sorg-afdeling wakker geword het. Sy het onder andere albei sleutelbene gebreek, ’n hele paar ribbes, dyspiere geskeur en haar longe het platgeval.


Nommer 55 op Michelle se 55ste verjaardag

Verloor
Michelle was tot daardie Februarie in die hospitaal en direk daarna het Covid getref en grendeltyd is ingestel. Sy het haar werk verloor, is deur ’n egskeiding, het haar blyplek verloor en het op die Kleinfontein-kleinhoewes by haar perde, Kwanita en die 24-jaar-oue Nizone, gaan intrek. Die blyplek wat sy daar ingerig het noem sy Oppie Stal.


Michelle en Kwanita op die geskiedkundige roete

Sy kon eers weer in Oktober daardie jaar op ’n perd se rug klim. In April 2021 het Michelle, wat nooit ’n perdryles gehad het nie, besluit om aan ’n DRASA-kompetisie deel te neem. Dit is ’n perdesport waar ruiters mededingende roetes ry met die fokus op die handhawing van ’n strategiese pas en om ’n langtermyn verhouding met jou perd te bou.


Die ruiters by die ruïnes op die roete

Uitdagings
Michelle vertel dat ’n ruiter en perd voor elke rit eers op ’n baan met talle uitdagings, soos om hekkies van ’n perd se rug af oop en toe te maak en tussen strukture deur te vleg, getoets word. Beoordelaars bepaal wat die verhouding is wat jy met jou perd het en veeartse toets die perde voor die rit, gedurende en ná die rit.

Michelle het nog baie pyn gehad en almal het gesê sy moenie deelneem nie, maar sy kry toe span vir Gauteng en kon daarna op nasionale vlak meeding waar sy ’n tweede en derde plek behaal het.

Die jaar daarna kon sy nie meeding nie: sy het in 2022 ’n rugoperasie gehad, weer in 2023, maar vanjaar het sy besluit om weer deel te neem, dié keer aan Westerse berede speletjies. Michelle het op 23 Maart op haar 55ste verjaardag in Bredell deelgeneem waar haar en Kwanita se nommer ook 55 was. Sy het dié dag nege rosette gewen.


Die ruiters by ’n Coetzee-kerkhof

Rit
Die naweek daarna was dit Paasnaweek en Michelle en Kwanita is Machadodorp toe om aan ’n vier-dae-lange ‘History on Horseback’ rit van 115 km deel te neem. Die rit, gereël deur Braam Louw, was straf en daar was daagliks beserings onder die perde en ruiters. Twee-en-vyftig ruiters het die rit begin. Net ses het dit klaargemaak en Michelle was een van hulle.


’n Ruiter by skanse uit die Anglo-Boereoorlog op die roete

Die eerste dag is die ruiters en perde berg-af en het amper 400 meter seevlakhoogte gedaal. Hulle was agt en ’n half ure op ’n perd se rug en het die ou poskoetsroete ten noorde van Waterval Boven gevolg om by die Helvetia-slagveld uit te kom waar die Boere onder leiding van generaals Ben Viljoen en Chris Muller op 29 Desember 1900 ’n roemryke oorwinning behaal het en die Lady Roberts-kanon by die Engelse afgeneem het.

Daar is in die algemene rigting van Belfast oor Maréskop gemik. Vanaf Maréskop na Bergendal het hulle op die linie-lyn van die Boeremagte gery waar die Slag van Bergendal (21 tot 27 Augustus 1900) plaasgevind het. Die rit is by die Bergendal Monument afgesluit.

Dié was nie Michelle se eerste historiese rit nie. In 2019 met die Geloftefeesherdenking het sy en ’n groep ruiters die roete van die Slag van Donkerhoek vanaf Kameelfontein tot by Kleinfontein, toe na Bronkhorstspruit en terug gery.


Michelle en haar geliefde Kwanita
Foto’s: Verskaf

Roetes
Sy het ook al ’n gedenkroete na die Irene konsentrasiekampkerkhof gedoen waar haar oumagrootjie, Sarah Taljaard, gevange gehou is en van haar boeties en sussies oorlede is. Met geskiedkundige herdenkings op Kleinfontein reël Michelle groepies ruiters en sy doen ook perdeterapie met kinders.

Michelle het sedert die grendeltyd probeer werk soek en nie gekry nie. Haar dogter, Perl, het aan psoriase gely en Michelle het ’n natuurlike roompie gemaak wat soos ’n bom gewerk het. Perl stel toe voor dat Michelle die roompie op grootmaat moet maak en begin bemark.

Vandag het sy ’n gesigroom en wondroom onder die handelsnaam Boerin, wat vir alle viervoetvriende ook gebruik kan word. Die etiket op die roompies lees: Kop tot tone. Snoet tot stert. Die waarskuwing op die gesigroom lui: “Beslis nie vir die genesing van domheid, slegte gedrag of egskeidings nie.”

 

© 2024 Die/The Bronberger