Spotty het ’n wil om te oorleef Print E-mail
News - Artikels
Friday, 23 February 2024 08:00
Untitled Document

Spotty is die naam van ’n gevlekte ooruil wat op 21 Januarie in die Bapsfontein-omgewing gered is.

Herman van Zyl, ’n plaaslike boer, het ’n uil benoud heen en weer in een van sy kampe sien hardloop. Hy het die Uilreddingsentrum op Hartbeespoort gekontak, wat gesê het dat die span by Born to Be Free in sy omgewing werksaam is en sal kan help.

Jill Watson van Born to Be Free sê die eerste stap was om Spotty te vang, dan te kyk watter beserings hy het en die inligting en video-materiaal met spesie-spesialiste by die Uilreddingsentrum te deel.

Spotty het veelvuldige beserings gehad. Hy het sy regtervlerk se punt verloor (’n ou besering), daar was ’n fraktuur, wat gesond geword het, onder die regter-enkel en nog ’n geneesde fraktuur onder sy regterknieg. 


Spotty ná hy gevang is
Bron: Skermgreep van Video – Jill Watson; Born to be free

Ten spyte van dié uitdagings het Spotty ’n wil gehad om te oorleef. Hy was baie maer, en sy mis het gewys dat hy oorleef het deur klein insekte te vreet.

Spotty gaan nog ’n lang pad van rehabilitasie moet stap voor hy by ’n gespesialiseerde plek van beskerming, waar hy lewenslange sorg sal nodig hê, vrygelaat kan word.

Spotty het sy naam by die Engelse ‘spotted eagle owl’ gekry. Dié gevlekte ooruile het kenmerkende ‘ore’ – verepluise wat regop staan. Hull regte ore is laer af langs die kop en onder die verekleed bedek. Hulle word 43–47 cm lank en kan tot 700 gram weeg. 

Hulle is grys aan die bokant met ylverspreide wit vlekke op die vlerke. Aan die onderkant is hulle wit, met fyn grys strepies wat ook op die bene en pote sigbaar is. Kenmerkende bruin vlekke kom op die bors voor. 

Die snawel is swart; die oë geel, die vere op hulle bene wit en die pote grys-bruin. Die geslagte lyk eners en onvolwasse voëls lyk dieselfde as die ouers, maar hulle ‘oortjies’ is korter en die strepies op die pens is swarter. 


Spotty se beserings word ondersoek

Die wyfie lê gewoonlik twee eiers, wat binne 31 dae uitbroei. Kuikens is aanvanklik met wit donsvere bedek wat later gryser word tot hulle vere begin uitgroei. Die kuikens bly vir 40 dae in die nes.

Die gevlekte ooruil hou sy lewe lank dieselfde maat en gebruik dikwels jaar na jaar dieselfde nes op die grond, op rotse, in die walle van erosie-dongas, in ’n hooimied of bo in bome waar hulle ou neste van ander roofvoëls oorneem. 

Gevlekte ooruile jag hoofsaaklik snags en slaap bedags. Jy kan hulle gunsteling slaapplekke uitken aan die hope mis, vere wat met ververing verloor is en uilballe. Uile bring die nie-verteerbare oorblyfsels van prooi, soos beentjies en hare, in die vorm van balle op. 

Hulle vreet meestal knaagdiere, skeerbekmuise, klein voëltjies en geleedpotiges, maar ook nagapies, hase, fisante, valkies, spinnekoppe, slakke, insekte, vrugtevlermuise, duisendpote en krappe. Selfs slange, molle, dooie vis en aas kan deel van hulle dieet vorm.

 

© 2024 Die/The Bronberger