Ervaar ?n perdestaproete deur die Rietfontein-bewarea Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 10 December 2009 17:45
Untitled Document

Bronbergers wat dié somervakansie met Jan Tuisbly se karretjie ry, kan die onvergeetlike ervaring van ’n perdestaproete in die diverse natuurskoon van die Rietfontein-bewarea geniet. Die Willow Valley Perdestaproete het ontstaan toe vier vriende van dié gebied naby Rayton, besluit het om hulle liefde vir perde en die natuur te kombineer. Die gevolg is ’n rustige roete van drie of vier ure in een van die asemrowendste natuurgebiede naby Pretoria.


Liz en haar groot Friesperd, Apollo

Dié vriende is ervare ruiters en kenners van die omgewing. Michael bestuur die bekende Willow Valley Farms en bly al meer as 40 jaar in die omgewing. Jane het haar eie melkery nie ver daarvandaan nie en teel ook jare reeds met haar ingevoerde Jack Russel honde. Albert bedryf ’n letterskildersaak en teel baie besondere Arabierperde. Liz is betrokke by ’n rekenaardata-besigheid en haar gunsteling uitritperd is Apollo, ’n groot, swart Friesperd. Die Rietfontein-bewarea aan die voetheuwels van die Magaliesberge is deel van ’n groen strook waar slegs beperkte ontwikkeling mag plaasvind.

Die koppies en berghellings vorm belangrike wateropvang-gebiede en bied ’n habitat vir verskillende bedreigde plant- en diersoorte. Daar is standhoudende fonteine wat die stroompies voed met water wat uiteindelik in die Roodeplaatdam uitkom.

Die Edendalespruit vloei deur die gebied en dit is ’n lus vir die oog en kos vir die siel om ’n rukkie daar te vertoef.


Volop vis om te vang, wild om te sien en gerieflike oornagverblyf is wat jy by Natures Valley kan kry

Die roete begin op Albert se perdeplaas waar menige uithourit-perd al geteel is. Hy vertel dat die Asil bloedlyne (‘straight Egyptian’) tot die sukses van sy stoetery bydra. Die teelmerries is verwant aan Charlandre El Sharif wat in 2008 die wêreldkampioenskap-uithourit in Dubai oor 160 km gewen en die beste vorige tyd met 13 minute verbeter het. In dieselfde jaar het die reun Baraka Bar wat deur Albert geteel is en na die Verenigde Arabiese Emirate uitgevoer is, die 160 km uithourit in Bahrain gewen.

Die paadjie kronkel langs rant en vlakte verby in die rigting van Willow Valley Farm, waar melkbeeste rustig in die groen veld langs mielielande wei. Michael Yeomans vertel dat die melkery reeds in 1957 deur die bekende Harrop-Allin-familie begin is. Die Holstein-kudde van Willow Valley is gesond en TB- en CA vry getoets, daarom voorsien hulle aan die Life-Mediese hospitale, maar ook aan baie winkels in Pretoria- oos. Skoolgroepe van tot 100 kinders op ’n slag, besoek die plaas gereeld om meer van die melkbedryf en -produkte te leer.


Ruiters geniet die uitsig in die Rietfontein bewarea

Naby die melkplaas lê Branch-out Tree Farms wat deur Ian Harrop- Allin bedryf word. Hier kan ’n groot verskeidenheid inheemse bome aangekoop word wat Ian sal kom aflewer.

Die perdestaproete neem ruiters verder oor die aangrensende plaas waar die geskiedkundige Lena Diamantmyn is. Sowat 200 ha van die plaas wat aan die spruit grens, mag glad nie ontwikkel word nie. Dis ’n waterryke, klipperige gebied met mooi dongas en baie watervoëls in en om die dammetjies. Meer as 145 voëlsoorte kan in die gebied gesien word. Die staproete loop verby die ou diamantgat wat nou vol water is, maar waar 50 jaar gelede nog blink klippies uitgehaal is.


Getaway se restaurant op die geskiedkundige Van der Merwe plaas

Van die Lenamyn beweeg die roete noord langs 120 ha weilande verby wat aan drie kante begrens is deur baie ou bloekombosse. Die uitheemse bome moet eintlik nog uitgehaal word, maar tot tyd en wyl bied die paadjies deur die bos se koelte afwisseling. Verder aan stap die perde oor ’n bultjie waar die treinspoor tussen Pretoria en Cullinan jare gelede geloop het. Die roete is verander omdat die ou spoor te veel kronkels gehad het, maar die ou Van der Merwe-stasie het behoue gebly. Dit vorm deel van Getaway Farms waar ou treinwaens en ’n lokomotief omgebou is in oornagplek. Getaway Farms bied ook Sondagetes, funksies, konferensies en troues aan. Met die bewarea se Soetdoringweg stap ruiters en perde dan langs twee wildplase van 260 ha elk verby.

Van die perd se rug af kan wild, soos wildebeeste, kameelperde, zebras, gemsbokke, elande en springbokke, rustig bekyk word. Natuurliefhebbers en hengelaars kan ook in selfsorgeenhede op een van die plase, Nature’s Valley, tuisgaan. Volop swartbaars, forel en kurper kan gevang word en wildbesigtiging- staptoere word aangebied.


Skoolgroepe word ontvang by Willow Valley Farms se melkplaas

Die roete neem ruiters nou tot by die Edendalespruit. Langs een van die visbelaaide damme kan ’n visarend- broeipaar gereeld gesien en gehoor word. Die oewer van die spruit is redelik dig bebos en die ruiters beweeg koeltelangs in die rigting van The Owls Nest, ’n moderne ‘venue’ wat teen die noordelike hang van die rant tussen bosveldbome ingerig is. ’n Welkome verversing word hier geniet, terwyl die bene gerek en die sitvlakke ruskans gegee word. Die uitsig vanaf The Owls Nest is asemrowend. Hier word funksies van alle aard gehou en is moderne oornagplek vir gaste. Die roete beweeg nou styl op teen die berg aan die noordekant van die Edendale-vallei met ’n uitsig in Cullinan se rigting.


The Owl?s Nest bied gerieflike funksiegeriewe in pragtige bosveldwêreld

Die plaashuise daar onder is skielik piepklein. In die verte lê Rayton en links sien ’n mens die Cullinan Diamantmyn. Dan beweeg jy oor die kruin van die berge met seker die verste uitsig wat ruiters ooit sal hê oor Pretoria se buitewyke en oostelike voorstede, Mooiplaats, Boschkop, Shere, Silver Lakes, Wapadrand, Die Wilgers en La Montagne met Arcadia en sentraal Pretoria met sy duidelik herkenbare Volkskasgebou en die swart Reserwebankgebou daar agter.


Branch Out Tree Farms kweek ?n groot verskeidenheid inheemse bome

As jy oor die kam van die berg stap sien jy ’n kolletjie op die verre bergtop aan die horison; die Voortrekkermonument en Fort Klapperkop. Hier word ’n wyle vertoef. Dan beweeg jy weer langsaam die berg af en terug na Albert se perdeplek waar jy afsaal, jou perd versorg en self ook bietjie kan uitrus en lekker verversings geniet. Die Rietfontein-bewaringsgebied vorm deel van die 35 000 ha Cullinan Bewarea wat al verskeie kere aangewys is as die beste bewarea in Gauteng.


Die perdestaproete kronkel langs strome en damme verby

Vir meer inligting en besprekings bel:
Albert by Willow Valley Horse Trails: 082 881 9333 of stuur ’n epos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .
Willow Valley Farm: Michael, 083 644 2953
Branch Out Tree Farms: Ian, 072 293 5541
Getaway Farms: Letitia, 083 778 0095
Natures Valley: Johann, 083 380 4874
The Owls Nest: Christa, 083 288 2032

 

© 2024 Die/The Bronberger