Hoera vir die jollie bobbejaan! Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 16 November 2023 12:00
Untitled Document

“Bobbejaan klim die berg om die boere te vererg.” Liedjies is oor hom geskryf, byname is gegee – dink net aan adoons of kees of Eugène Marais se “burgers van die berge” – en in talle Afrikaanse uitdrukkings speel hy die hoofrol: “die bobbejaan agter die bult gaan haal,” “’n bobbejaan het daar ’n kierie nodig” of “jy lyk ’n mooi bobbejaan”.

Die bobbejaan waarna ons ou volkie in dié gesegdes verwys is egter nie die enigste soort wat daar is nie. Daar is vyf erkende ‘egte’ bobbejaanspesies wat tot die genus Papio, ’n deel van die subfamilie Cercopithecinae, behoort.

Ons adoons is Suidelike Afrika se Papio ursinus met subspesies soos die Kaapse bobbejaan, Papio ursinus ursinus, die een van Ruacana, Papio ursinus raucana, en die gryspoot, Papio ursinus griseipes.

Dan is daar: Die geelbobbejaan, Papio cynocephalus, wat in Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Malawi, Zambië, Kenia, Tanzanië en Somalië voorkom; die olyfbobbejaan of Anubis-bobbejaan, Papio anubis, wat wyd en syd in Afrika versprei is; die mantelbobbejaan, Papio hamadryas, wat in Somalië, Ethiopië, Eritrea, die Rooi Seegebied van Egipte, Saoedi-Arabië, Jemen en selfs in Indië aangetref word; en die Westerse of Guinee-bobbejaan, Papio papio, wat in Guinee, Gambië en Senegal bly.


Bobbejane is sosiale diere
Foto’s: Wikipedia

Groter
Bobbejaanmannetjies is groter as wyfies en onse suidelike adoonsmannetjies weeg ongeveer 32 kg en die wyfies 16 kg. Mannetjies is stewiger oor die skouers en is gemiddeld 140 cm lank, terwyl wyfies 110 cm lank is.

Die hondagtige snoet is kenmerkend aan die genus. Hulle pels is grysbruin tot donkergrys en hulle het lang swarterige hare op die nek en skouers. Bobbejane loop handeviervoet en dit lyk asof hulle sterte gebreek is, omdat die eerste derde orent gehou word en die res afhang.

Wyfies se agterstewe het twee aparte velkussings op elke boud, wat in die wyfie se vrugbare tyd bloedrooi word en opswel. Mannetjies het ’n enkele vaal, haarlose velkussing.

Die mannetjie se ‘boggom’-roep is ’n kenmerkende tweelettergrepige, harde blafgeluid wat as ’n wekroep of uitdaging aan ander troppe dien.

Bobbejane is omnivore met ’n reputasie as landeryestropers. Hulle grawe gewoonlik vir plantwortels en knolle en sal blare, blomme, vrugte, sade, insekte soos sprinkane en selfs skerpioene vreet. Voëls, hase, die kleintjies van wildsbokke en boere se jong skaaplammertjies is ook op die spyskaart.


Die bobbejaan het ’n kenmerkende hondagtige snoet

Rangorde
Dié kese leef in nou-verbinde sosiale groepe van vier tot honderd lede, maar meestal ongeveer 40. Daar heers ’n ingewikkelde rangorde onder mannetjies en wyfies. ’n Dogter erf haar ma se rang en wyfies kan in rangorde styg deur vriendskappe met ander wyfies of mannetjies. Die leierbobbejaan besluit waarheen en wanneer ’n trop trek en die mees senior mannetjies het paringsvoorreg met wyfies.

’n Wyfie se vrugbaarheidsiklus is omtrent 36 dae en sy is ses maande lank dragtig. Gewoonlik word ’n enkele kleintjie van 1 kg met ’n swart pels en pienk gesiggie gebore. Aanvanklik klou die kleintjie aan sy ma se bors-pels vas. Ná so vyf tot ses weke begin hy op sy ma se rug ry. Die kleintjie word teen die ouderdom van ses tot agt maande gespeen. Bobbejane is ná vyf tot agt jaar volwasse en kan in gevangenskap 45 jaar oud word. Die meeste vrylopende kese het ’n lewensverwagting van so 30 jaar.

 

© 2024 Die/The Bronberger