Gemeenskappe span saam om Haiku te vind Print E-mail
News - Artikels
Friday, 20 October 2023 08:00
Untitled Document

Haiku, ’n 11-jarige skaaphond, is ná ’n 10-dae lange soektog deur verskeie gemeenskappe met haar eienares, die 90-jarige dr Selma van Schouwenburg, herenig.

Dr Selma, ’n afgetrede veearts, se motor is op 22 September by ’n koopsentrum in Lynnwoodweg gesteel met Haiku, wat onlangs ’n operasie op haar agterbeen gehad het, in die motor.


Tebogo Maredi en Elaine Papastefanou by Haiku

’n Familielid, Ferdinand Loubser, het vertel dat iemand dr Selma met ’n koopwaentjie gestamp het terwyl sy kruideniersware gekoop het. Dis eers toe sy haar motor nie in die parkeerplek kon vind nie, dat sy besef het haar motorsleutels is gesteel.

Die motor is die volgende dag in Selepestraat naby die Mamelodi Baptiste Kerk in Mamelodi-wes gevind en ’n soektog na Haiku is op tou gesit. Verskeie gemeenskappe het betrokke geraak en ná ’n week het sekuriteitswagte by die Mamelodi-wes begraafplaas gesê dat hulle ’n skaaphond gesien het. Diereliefhebbers soos Anna Maringa het kos uitgesit.


’n Blye weersiens

Tebogo Maredi, direkteur van Soshanguve Diereskuiling, het ondersoek ingestel en Haiku onder bosse in ’n sloot sien slaap. Toe hy nader gaan, het sy geskrik en weggehardloop. Op
30 September het Tebogo berig dat Haiku van Mamelodi na Eersterust beweeg het en kwart oor sewe die aand in Eersterust gesien is.


Haiku ná haar tuiskoms by dr Selma van Schouwenburg
Foto’s: Facebook – Tebogo Maredi

Die volgende dag het sy deur die bosse na Derdepoort beweeg en Tebogo en sy span het by huise aangeklop om te vra dat mense vir ’n skaaphond moet uitkyk. Op 2 Oktober het hy berig dat Elaine Papastefanou by Derdepoort vir Haiku in ’n erf gelok het en dat dr Selma met haar hondekind herenig is.

Dr Selma het by Waterkloof Veearts en Dierehospitaal gewerk tot sy 86 jaar oud was. Sy het haar loopbaan as wiskunde en Engels onderwyser begin voor sy veeartsenykunde gaan studeer het. Sy het vir 40 jaar as ’n veearts gewerk en het afgetree omdat sy na Willow Haven-aftreeoord getrek het, wat te ver van die praktyk af is om daagliks heen en weer te ry.

 

© 2024 Die/The Bronberger