Ons kyk terug na 21 merkwaardige dierestories uit 21 jaar se Bronnies Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 21 September 2023 14:00
Untitled Document

Dat die Bronnie se lesers van diere hou, is ’n bewese feit. Die dierestories wat ons oor die afgelope 21 jaar geplaas het, roer die hartsnare en is van die gewildste in die tydskrif – veral die stories wat praat van ongewone ontmoetings tussen mens en dier. Ons onthou 21 sulke stories.

Lila se sebra

Lila en Nyamazan

Lila Oechler het Nyamazan, die Zulu-woord vir ‘klein diertjie’, as ’n sewe-maande oue Burchell sebra-vul op ’n wildplaas buite Pretoria aangekoop, vertel ons in Mei 2003. Ons het van die lang proses om Nyamazan se vertroue te wen, vertel. Hy het so mak geword dat nie net Lila nie, maar selfs haar honde op sy rug kon ry. In Oktober 2017 het ons berig dat Nyamazan 19 jaar oud word en die wêreld wys wat sebras kan doen met Lila se Dinokeng sebra-toere op Elandshoek buite Rayton.

Alex se jagluiperd

Alexander Michaletos

Die 13-jaar oue Alexander Michaletos en sy jagluiperd, Anthony, het die hoofakteurs in ’n Hollywood-film geword, berig ons in Januarie 2004. Alexander is die seun van Pedro en Rose Michaletos van Farm Inn. Die een oomblik het hy nog sy jagluiperd vir ’n wandeling deur die Sondagmiddagete-gaste by Farm Inn geneem en toe hy sy oë uitvee is hy deel van ’n R35-miljoen film. Alex is een van die ses Michaletos-kinders wat gereeld saam met ’n baba-leeutjie of -jagluiperd opgekrul in die bed geslaap het.

Gesin se ark

Kirsten Suckay met Blondy

In Maart 2004 het ons by ’n andersoortige gesin gaan kuier. Hulle het almal op een plot saam met ongeveer 60 troetelslange, ’n paar likkewane en salamanders, sebras, blesbokke, perde, ’n lot honde en ’n saal vol opgestopte diere gebly. Kirsten Suckay het Blondy spesiaal uit haar hok gehaal. Sy is ’n albino Birmese luislang wat 16 kg weeg en 3,4 meter lank is.

PW se mense

PW swem saam met die Potgieters

In Junie 2005 wys ons vir lesers ’n ongewone prentjie: Nog vis nog voël. PW, ’n mak volstruis, was ooglopend gek daaroor om saam met sy mense in die plaasdam te swem. Dié vreemdsoortige grootvoël het aan Frik en Elma Potgieter en gesin behoort, wat in daardie stadium op Bashewa gewoon het. In Oktober 2012 het ons weer gewys hoe volstruise swem, dié keer sonder mense in die dam op Somabula-wildreservaat naby Cullinan.

Marien se Penelope

Marien en Penelope

In Oktober 2007 het ons vir lesers ’n toneeltjie gewys wat jy nie aldag in die Bronberg sal sien nie: Marien Dreckmeyr neem haar springboklammetjie aan ’n leiband vir ’n oefen-uitstappie. Die Dreckmeyrs het die bokkie by ’n groep mans gekoop wat haar heel moontlik as aandete wou opdis. Hulle het die nodige toestemming gekry om die bokkie, wat Penelope gedoop is, groot te maak met die doel om haar later by ’n gevestigde trop vry te laat.

Gert se Black Magic

Gert by Black Magic

Gert Vorster was ’n man wat daarvan gehou het om eerste met iets te wees. Hy was die eerste persoon in Suid-Afrika om miniatuur-donkies in te voer, eerste om met die teling van nuwe miniatuur-beesrasse in SA te begin, en in Januarie 2007 het Die Bronberger die eerste publikasie in die land geword wat hieroor berig het. Black Magic was op ses-jarige ouderdom slegs 78 cm hoog. Gert is intussen oorlede.

Charl se krokodil

Die krokodil is uiteindelik gevang

In Januarie 2009 berig ons dat Charl van der Merwe ’n uitgevrete krokodil van by die twee meter lank in die Zwavelpoortspruit gevang het. Toe hy ’n reuse vanghok begin bou het om die krokodil, wat onder die vis in sy foreldam gemaai het, te vang, het almal vir hom gelag en gesê hy het seker ’n likkewaan of ’n groot baber gesien. Ná een byna katastrofiese, mislukte poging, het hy ta veilig agter tralies gehad.

Jenny se wagkoei

Molly

Mooiplaats-legende, Molly die wagkoei, het ’n hele paar oorwinnings op haar kerfstok – van munisipale werkers tot polisiereserviste. Só berig ons in Augustus 2009. Haar eienares, Jenny Brits, het gesê dat Molly nie kon besluit of sy ’n buffel of ’n waghond is nie. Daar is ’n gekrap van grond en ’n onaardse gebulk as iemand dit op die Britse se plot waag. Molly spring maklik bo-oor die heining om verbygangers te verwilder. Sy was in 2000 ’n paar dae oue Frieskalfie toe Jenny haar agter op ’n bakkie, wat op pad slagpale toe was, gesien en gered het.

Mooiplaats se luiperd

Ingwe

In November 2010 berig ons dat ’n luiperd gevang is nadat hy vier ure lank in ’n bloekomboom op Anton Bester se Mooiplaats-plot gesit het. Anton se werker, Simon Mamogobo, het die luiperd gewaar. Hencke Marais van Tshwane Natuurbewaring en ’n veearts van die Pretoriase Dieretuin het soontoe gegaan en dit het drie verdowingspyle geneem om die luiperd uit die boom te kry. Die luiperd is Ingwe gedoop en moes eers ’n tandoperasie by Onderstepoort ondergaan voor hy in die Dinokeng-natuurreservaat vrygelaat is.

Wapadrand se luislang

Stephanie Kendall vang die luislang

’n Luislang het Wapadranders in die middernagtelike ure besig gehou, vertel ons in Februarie 2011. Die slang-vang avontuur het omstreeks 10 uur die aand begin toe Riekie le Roux ’n groot slang oor Disselboomweg sien seil het. Anke Viljoen het langs die pad stilgehou en slangvanger, Stephanie Kendall, gebel. Stephanie het die slang teen ’n muur vasgekeer, in ’n vervoersak gelaai en na ’n plek van veilige bewaring geneem.

Tierpoort se kroeguil

Carlos die kroeguil

In Maart 2011 vertel ons hoe Karin en Dirk van der Walt van Bull & Bush, wat ’n kuierplek op Tierpoort was, ’n uilskuiken grootgemaak het. Carlos het ’n uitgevrete kroeguil geword en het goed met die klante klaargekom. Ons het vertel dat Carlos gekom en gaan het soos die luim hom voorskryf. Hy het elke aand gaan jag en aanvanklik veral krieke, motte en ander goggas gevang. In daardie stadium het hy reeds sy muiskursus met sukses voltooi en sou na verwagting binnekort na groter prooi aanbeweeg.

Carol se katte

Carol en een van haar katte

Sedert 2012 het ons vertel van die werk wat Whiskers & Tails in ons gebied doen. In April 2016 berig ons dat medestigter van dié veldkat-projek, Carol de Beer van Tweedragt, oorlede is. Whiskers & Tails het bewys dat rondloperkatte goed is vir ’n hoewegebied. As hulle gesteriliseer en ingeënt word, hou hulle ander katte, wat sal aanteel, weg en beheer peste soos rotte en muise.

Stad se muskeljaatkat

Lynnwoodrif se muskeljaatkat

In Junie 2013 berig ons dat die Groesbeeks van Lynnwoodrif met ’n ongewone nagbesoeker verras is. ’n Kleinkolmuskeljaatkat het hom in een van die bome in hulle tuin tussen Eastwood Kantoorpark en Lots of Pots suid van Lynnwoodweg, tuis gemaak. In die hoewegebied word dié katte meer gereeld gesien. In Oktober 2017 het ons berig dat Wieske van Zyl twee dooie muskeljaatkatte in ’n sementsak op die Zwavelpoort-teerpad gevind het. Hulle is waarskynlik van ’n bakkie afgegooi.

Cullinan se tierboskat

Die tierboskat is gevang

’n Tierboskat het homself gaan vet voer op Dewald en Karin Botha se hoewe, ’n hanetree van die vier-rigtingstop by Cullinan se ‘Fourways’, vertel ons in Oktober 2014. Pieter Vosloo van Diamond Alarms het die nodige kenners byeen geroep en operasie tierboskat is uitgevoer. Kat se kind is verdoof en veilig in ’n krat gesit om vervoer te word. Hy was ’n geskatte vier jaar oud en het 20 kg geweeg. Petra Diamantmyn het toestemming gegee dat die tierboskat op hulle wildsplaas vrygelaat kon word.

Klipkop se arend-kuiken

Die arendkuiken

In Junie 2015 vertel ons dat Solette Lubbinge ’n swartborsslangarend-kuiken in die Klipkop-bewarea gered het. Sy het die slangarend-ma, nog voor die kuiken uitgebroei het, begin dophou. Een oggend het sy wit donsies onder die wyfie sien uitsteek. Toe kom daar ’n storm en die nes het verdwyn. ’n Dag later eers het Solette die kuiken op die grond sien lê. Sy het ’n nuwe nes gemaak deur ’n draad-hangmandjie oop te sny en plat te druk. Die mandjie is bo in die boom vasgemaak, met blare en takke uitgevoer en die kuiken is versigtig in sy nuwe nes terug gesit.

Sandwani se Struis

Juffrou Struis by die venster

Vreethans en Metgesel het ’n ete met ’n uitgevrete volstruiswyfie gedeel, vertel ons in Junie 2016. Hulle het op ’n sonnige Saterdag deur die mooi wildeseringveld van De Tweedespruit afgesit Sandwani toe. Die plek is ’n wildplaas en die kuierplek op Sandwani het die gepaste naam van Die Wawiel. Deur die restaurant se oop venster het Metgesel vir juffrou Struis met ’n paar oortollige slaaiblare laat meedoen aan die maal.

Liza se Dream

Liza de Bruyn en Dream

Liza du Bruyn van Grootfontein-landgoed het vir ’n dekade lank na haar verlore perd, Dream, gesoek. In die proses het sy deeglik kennis gemaak met die donker kant van die perdebedryf, berig ons in Augustus 2017. Liza was maar 16 jaar oud toe sy Dream as ’n eenjarige vul met haar spaargeld gekoop het en knap ’n jaar later verloor het. Dream is van eienaar tot eienaar deur die land gestuur: Van Mafikeng tot Potchefstroom, Vereeniging, Thabazimbi en uiteindelik het hy op Grootfontein in die Bronberg-gebied tuisgekom.

Hannes se skootskapie

Hannes en sy skootskapie

In Junie 2017 wys ons vir lesers hoe ’n skootskapie die winter ewe knus op die De Wets van Bashewa se sitkamerbanke spandeer het. Ons het gehoor dat hy ’n baie rare lammetjie was wat mildelik bederf is en deel van die gesin is. Eienaar Hannes de Wet het verduidelik dat dié Île-de-France lammetjie, genaamd Patch, met swart kolle gebore is, wat baie skaars is. Die kolle is glo die gevolg van ’n gesplete geen, wat die lammetjie anders as sy witwol-ouers laat lyk.

Cheryl se oogpister

Die oogpister eet sy kossies

’n Oogpister, wat in November 2013 vir uitkenning na ’n veeartspraktyk op Kaalfontein geneem is, het in 2019 steeds self daar gaan kuier, berig ons in Januarie 2019. Prof Cheryl McCrindle het vertel dat hulle twee van die oogpisters in die veld agter die praktyk vrygelaat het. Dié twee het ’n paar keer saam in die praktyk gaan besoek aflê tot die een gesneuwel het. Die oorlewende oogpister het sporadies aanhou kuier en het nat hondekos uit ’n teelepel gevreet.

Willow se redders

Willow

In Desember 2021 berig ons dat Willow, ’n pasgebore donkievulletjie, op merkwaardige wyse deur Tierpoortse perde uit ’n jakkals se kake gered is. Die jakkals het die vulletjie aan die skof beetgekry en probeer wegsleep, toe vier van Nadine Minnaar se ryperde op die toneel afgestorm het en die jakkals verjaag het. Een van die perde het aanhoudend vir die Minnaars by die huis gaan ‘roep’ totdat hulle agter die perd aan is om te gaan kyk wat skort.

Moreletakloof se Jane

Dr Marelize Engelbrecht met Bokkie-Jane

’n Rooiribbokooitjie, wat vir tien maande met die hand grootgemaak is, is uiteindelik op 20 Oktober by Moreletakloof-natuurreservaat vrygelaat, vertel ons in November 2021. Sy is as pasgeborene deur besoekers, wat gedink het sy is verlore, in die reservaat opgetel en haar ma wou haar nie terugvat nie. Die ooitjie is by die Moreletapark Dierehospitaal ingeneem, waar sy Jane gedoop is. Natuurlik kon sy nie dag en nag in die hospitaal woon nie en die veeartse het haar huis toe geneem, waar sy gou deel van die gesinslewe geword het.

 

© 2024 Die/The Bronberger