Minke luister na dit wat perde fluister Print E-mail
News - Artikels
Friday, 18 August 2023 08:00
Untitled Document

Betsie Steyn

“Ja, ek praat met perde,” sê die fyngeboude, 21-jarige Minke Bekker van Kleinfontein.

“Ek lees en luister na ’n perd se gedagtes en tree daarvolgens op, wen so sy vertroue, maar dominansie en dissipline is ook baie belangrik. Ek het ’n passie om met moeilike diere te werk, sag en liefdevol te hanteer, totdat ek tevrede is en ek hou aan tot die perd ook reg is. My perde ken my – ek kan net fluit, dan kom hulle,” sê sy.

Minke, wat reeds van drie-jarige ouderdom perdry, het 21 van haar eie perde en vyf ander van haar klante. Sy het reeds op 16-jarige ouderdom ’n perdry-opleidingskool op die Kleinfontein-hoewes begin en het 15 leerlinge.


Minke saam met Baron
Foto’s: Verskaf

Sy is boonop haar eie “veearts”, danksy allerlei dinge wat sy haarself geleer en voor bekwaam het. “Ek lees baie en kry ook goeie wenke van ander mense, wat ek dan toepas.” Sy doen self die wondhantering, dienste soos die instandhouding van die perde, hulle hoewe, skeerwerk, afronding en versorging. Sy dip en spuit hulle self.

Verder behartig sy die inbreek en skoling van perde. ’n Moeilike merrie, wat beseer was, het Minke se pad gekruis. Niemand het kans gesien om met haar te werk nie, maar Minke het die perd met baie rustigheid en kalmte benader om eers haar vertroue te wen. Daarna kon sy die wonde aan haar lyf behandel en toe die merrie genees het, kon sy haar verder skool tot waar sy vandag ’n lieflike ryperd is.


Minke luister wat Chessa sê

Nie net fluister Minke vir perde nie, sy maak ook seker dat perde vir kinders fluister. Alhoewel sy vir enige ouderdom, van beginners tot gevorderde ruiters, klasgee, lê sy haar spesifiek toe op terapie: Mense – veral kinders – wat outisties is of ’n selfbeeldprobleem het en selfs gestremdes word met toewyding gehelp en die resultate is verstommend.

Minke hou een maal per jaar ’n tweedagperdekamp om mense met perde bekend te maak – al weet hulle niks nie, al is hulle oud of jonk. Daar leer hulle hoe om met perde om te gaan en mense is baie welkom om dit mee te maak, of “net om te kom kuier”.


Minke sit by Lalita

Haar perde is nie op stal nie – sy glo nie daaraan nie. Hulle bly in die veld (sy noem hulle veldperde) waar hulle gelukkig en tevrede is met die oop ruimtes. Hulle kan onder bome skuil, maar hou van natword en staan graag in die reën of geniet dit om in damme te swem. “Hulle word bang vir reën wat op die dak val en verkies liewers die veld.”

Sy beskik oor 100 rosette in ’n kas, talle sertifikate, en trofeë van optredes by rodeo’s, skoue en nasionale kampioenskappe. “Ja, ek het al baie geval, en selfs my lewe in gevaar gestel, maar ek staan op en gaan weer aan. Dis my lewe en ek geniet elke oomblik saam met my perde en mense wat meedoen,” sê ’n stralende Minke wat haar liefde op so ’n vroeë ouderdom reeds ten volle uitleef.

 

© 2024 Die/The Bronberger