Nuwe jagvelde vir dié Rietvlei-boeties Print E-mail
News - Artikels
Monday, 24 July 2023 08:00
Untitled Document

Vier van die vyf jagluiperdwelpies wat verlede jaar in die Rietvlei-natuurreservaat gebore is, is op
28 Junie verdoof, gevang en na ander reservate oorgeplaas. Twee van die mannetjies is na die Tshukudi-wildreservaat in Hoedspruit, Limpopo en die ander twee mannetjies na Nyosie-wildreservaat in Gqeberha in die Oos-Kaap.

Met die vangproses is daar besluit dat die jong jagluiperdwyfie nog tyd saam met haar ma, Njozi, moet spandeer om ’n meer bedrewe jagter te word. Sy sal later na die Makutsi-natuurreservaat naby Hoedspruit oorgeplaas word.


Die jagluiperds is verdoof en gevang om na ander reservate oorgeplaas te word

Die welpies het onafhanklikheidsouderdom bereik en word oorgeplaas om inteling en oorbevolking of uitsterwing te verhoed. Natalie Vos, bestuurshoof van Rietvlei-natuurreservaat, het gesê dat een jagluiperd maklik 160 blesbokke per jaar vreet en dat die reservaat van 400 ha nie groot genoeg vir al die jagluiperds is nie.

Volgens Natalie lewer dié klein stedelike reservaat ’n beduidende bydrae tot die bewaring van jagluiperds danksy die toewyding van Stad Tshwane se bewaringsbeamptes, Vriende van Rietvlei, die Metapopulation Initiative en die Aspinall-stigting.

Rietvlei-natuurreservaat se jagluiperdteelbevolking is in 2014 as deel van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe se Metapopulation-jagluiperdbewaringsprojek gevestig. Vincent van der Merwe, stigter van die Metapopulation Initiative, het gesê dat Rietvlei-natuurreservaat ideaal is om deel van die projek te vorm omdat daar geen direkte mededinging van ander groot roofdiere is nie.


’n Slapende Rietvlei-jagluiperd van naby gesien
Foto’s: Skermgreep van video

Volgens Vincent lyk dit of die vangproses goed afgeloop het. Hy het gesê dat ses persent van wilde jagluiperds wat met dié inisiatief hervestig is, in die vang- en hervestigingsproses vrek, meestal weens stres.

Dertien wilde jagluiperds is reeds vanaf Rietvlei in Malawi (Majete), in Zambië (Bangweulu) en in die Waterberge (Marakele), die Wes-Kaap (Roam), Gauteng (Dinokeng), die Laeveld (Selati), Noordwes (Madikwe), Limpopo (Mapesu), die Noord-Kaap (Rogge Cloof) en KwaZulu-Natal (Zimanga en Mkuze) hervestig.

 

© 2024 Die/The Bronberger