Saam met Voetspore se span van Casablanca tot Kaapstad Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 18 November 2009 08:31
Untitled Document

Wie sou nou kon raai dat dit ’n Bronberg-gebaseerde werktuigkundige is wat die Voetsporespan se nuutste 4x4 avontuur help moontlik maak het.

In Mei vanjaar het dié span met ’n epiese tog by Afrika se noordkus, Casablanca in Marokko begin. Ná drie maande en 23 000 km van soms onherbergsame terrein, het dié span Kaapstad bereik.

Die span het bestaan uit spanleier Johan Badenhorst, ’n vervaardiger van televisieprogramme, kameraman Lourens Human, fotograaf Stefan Sonnekus, veldgids Norbert Coetzee, logistieke beampte en bekende Pretoriase restauranteer Francois Marais, en motorwerktuigkundige Gary Swemmer.


Gary Swemmer, die Sheregebaseerde werktuigkundige wat die avontuur meegemaak het

Shere
Gary is die eienaar van LA Sport Pretoria Oos, wat in Shere gebaseer is. Hy was voorheen die eienaar van Gary’s Workshop, en as stokperdjie het hy aan tydrenne deelgeneem. Dié ondervinding het hom geleer hoe om ’n voertuig in die veld te bestuur en ook hoe om hom net daar reg te maak as hy breek.

“Dis nie sommer enige een wat so gelukkig is om sy onderneming vir drie maande in sy personeel se hande te kan laat nie,” sê Gary. Hy vertel dat hy dié reis nie sou kon meemaak as dit nie vir die ondersteuning van sy personeel, sy vrou Linette, sy ouers en skoonouers was nie. “In dié drie maande het almal ingespring om te help,” sê hy.

Dit was die eerste Voetsporereis wat Gary meegemaak het, alhoewel die oorspronklike ‘LA Sport 4WD Megastores’ al die afgelope vyf jaar die borge van Voetspore se voertuigbykomstighede is. Dié vierwielwinkel is gebore uit die entoesiasme wat Pretorianers, Lionel en Annalie Lewis, vir die buitelewe het.

Vergesel
Dit is dié entoesiasme wat hulle ook ’n ‘In die voetspore van Voetspore’ reis laat reël het wat die span by Sendelingsdrif grenspos gekry het en vergesel het vir die laaste deel van hul reis Kaapstad toe. Voetsporespanleier, Johan Badenhorst, het in sy aanlyn-dagboek só oor dié ontmoeting geskryf:

“Oorkant die rivier het daar sowat 50 mense vir ons gewag. LA Sport mense, joernaliste, en mense wat net die laaste drie dae saam met die Voetsporespan kom afry tot in die Kaap. Dit was ’n wonderlike gesig. Vir ons was dit ’n groot oomblik. Nog nooit het ons so ’n ontvangs gekry nie. Dit was veel meer as wat ons verwag het.”

“Die groep mense saam met ons was mense wat soos ons dink en voel oor 4x4, die buitelewe, die natuur. Dis mense wat dadelik by ons ingeskakel het, en ons by hulle.” Johan het ’n skyfievertoning van dié en ander ondervindings met die ‘Casablanca tot Kaapstad’ reistog op Vrydag 23 Oktober in ons kontrei kom hou by LA Sport se Shere perseel.


Die Voetsporespan van links na regs: Francois Marais, logistieke beampte, Gary Swemmer, werktuigkundige, Johan Badenhorst, ekspedisieleier, Nobert Coetzee, veldgids, Lourens Human, kameraman, en Stefan Sonnekus, fotograaf
Foto?s: Voetspore

Johan
Pretorianer, Johan het aanvanklik as nuusskrywer, joernalis en verslaggewer by die SAUK gewerk, het by Scholtz Films ’n draai gemaak om die regie te behartig van programme soos die Pieter Pieterse reekse ‘Boude en Blaaie’ en ‘Van die Kaap tot die Kunene’. Hy het 15 jaar gelede sy eie produksiemaatskappy begin wat verantwoordelik is vir die musiekreeks ‘Kom laat ons sing’ saam met Laurika Rauch, die landbou televisieprogramme ‘Agriforum’ en ‘Wenakker’ en ook die Voetsporereekse.

Dié was Johan se sesde Voetsporereis en volgens hom was dit nie net die langste reis wat nog ooit aangepak is nie, maar ook die moeilikste en die mees intense van al die reise. Dit was ook die eerste reis waar die voertuie vooruit gestuur is per skip en die manne agterna gevlieg het.


Die Voetsporespan het van Casablanca in Marokko tot Kaapstad gery met hul 4x4 voertuie

Plan
Die plan was om op 1 Mei te vertrek vanaf Casablanca, Marokko. Wat uiteindelik gebeur het is dat die span op 6 Mei Marokko toe gevlieg het, maar hul voertuie eers op 13 Mei gekry het.

Van daar af het die voertuie se neuse suid gedraai, eers deur Afrika se laaste kolonie, Wes-Sahara, ’n betwiste gebied waar daar nog oorlog gemaak word. Daarna is hulle deur Mauritanië en toe terug see toe, na Dakar in Senegal.

By Dakar het die span oos gedraai vir ’n paar duidend kilometer, eers deur Mali, met ’n besoek aan Mopti, Bandiagara en Timboektoe en daarna met die Nigerrivier tot by Goa.

Sonder om die verloop van die volgende Voetsporeprogramme weg te gee, kan ons net sê dat die span veronderstel was om daar ’n militêre konvooi te kry om hulle na Agadez te neem. Kyk maar self wat gebeur.

Die res van die reisplan het Nigerië, Kameroen, Ekwatoriaal Genieë, Gaboen, die Kongo, DRK, Angola en Namibië ingesluit met die finale been in Suid-Afrika tot by Kaapstad, waar die span op 9 Augustus aangekom het.


Gary het gesorg dat die voertuie aanhou loop

 

 

 

 

 

 

© 2024 Die/The Bronberger