Handige wenke vir yskas en tuin Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 18 May 2023 09:18
Untitled Document

Hess Cumming

Al hoe meer huishoudings probeer kop bo water hou met pryse wat aanhou styg, hoër rentekoerse en min lig op die Eskom-horison.

Kos is nou gemiddeld sowat 14 persent duurder as ’n jaar gelede, terwyl stygende rentekoerse meebring dat almal met huislenings of kredietkaartskuld minder besteebare inkomste vir maandelikse huishoudelike uitgawes het.

Boonop bring beurtkrag mee dat die duurder kos in jou yskas bederf as jy met lang kragonderbrekings sonder kragopwekkers of sonkrag moet klaarkom. Na raming word meer as10 miljoen ton kos jaarliks in Suid-Afrika weggegooi en huishoudings is vir 18 persent daarvan verantwoordelik.

Beurtkrag plaas ook druk op verspreidingsnetwerke. Bykans vyf miljoen ton varsprodukte gaan reeds jaarliks in die verwerkings- en verpakkingsproses verlore. Toenemende beurtkrag vererger die situasie en kan tot minder kos op die winkelrakke lei – teen nog hoër pryse natuurlik.

Vernuftige mense het reeds planne beraam om al dié uitdagings die hoof te bied. Terwyl daar min is wat ’n mens aan die makro-ekonomiese toestande kan doen, is daar maniere om seker te maak daar is kos op die tafel terwyl jy uitgawes besnoei.

Die eerste besparing is om seker te maak jy gooi nie kos weg nie. Pak jou vrieskas vol want hoe groter die volume, hoe langer bly alles bevrore. As daar ruimte is, vul skoon plastiekbottels of roomyshouers met water en vries dit. Sulke ‘ysblokke’ het drie voordele: Bevrore kos bly langer gevries; jy kan ’n paar ysblokke met lang kragonderbrekings in jou yskas plaas om dit koud genoeg te hou; en met die toenemende probleme by watersuiweringsaanlegte kan jy dit vir drinkwater laat ontdooi as die krane opdroog.


Tamaties, spinasie en ’n pol opskiet graan gedy in ’n plantbak

As jy kan tuinmaak en groente plant, kan jy verder op jou kosrekening bespaar en op die koop toe varser kos eet.

Plotbewoners met ’n paar akker grond kan met ’n bietjie beplanning en min moeite ’n wye verskeidenheid groente, vrugte en selfs neute kweek, van groenmielies tot tamaties, uie, aartappels, soetpatats, wortels en ’n wye verskeidenheid slaaigroente. Vrugte- en neutbome neem ’n paar jaar om te begin dra, maar is ’n belegging in toekomstige oeste.

Mense met beperkte ruimte kan op kleiner skaal groente plant. In ’n bedding so groot soos ’n dubbeldeur kan ’n mens ’n verbasende hoeveelheid en verskeidenheid groentesoorte kweek. Goeie kandidate is uie, knoffel, wortels, spinasie, blaarslaai, bone, ertjies, aarbeie en in die somer selfs ’n tamatie of twee en ’n vingerskorsie (courgette) in een hoek.

As jou hele erf geplavei is, kan jy potte op jou stoep of patio inspan. Houers moet groot en diep genoeg wees sodat plante se wortelstelsels optimaal kan ontwikkel.

Kruie soos tiemie en pietersielie kan in kleiner houers geplant word. Selfs ’n sonnige vensterbank kan dien as ’n kruietuintjie terwyl graan- en boontjiespruite sommer op ’n kombuistafel gekweek kan word. Kruie en spruite gaan nie jou maag vol maak nie, maar sal vitamiene en minerale – en ’n tikkie verskeidenheid in jou maaltye – verskaf.

Ongeag hoe groot of klein jou tuin is, maak seker dat die grond vrugbaar is en dat jy genoeg water het om jou groente nat te lei.

 

© 2024 Die/The Bronberger