Moee-zart se moee-siek help koeie só Print E-mail
News - Artikels
Friday, 21 April 2023 11:18
Untitled Document

Klassieke musiek verlaag koeie se stresvlakke en verhoog hulle melkproduksie.

Dit is die bevinding in die eerste studie van sy soort in Suid-Afrika, gedoen deur Lize-Mari Erasmus van die Universiteit van Pretoria (UP). Haar studie is onlangs in die vakjoernaal, ‘Domestic Animal Endocrinology’ gepubliseer.


Lize-Mari Erasmus by die melkkoeie
Foto’s: Verskaf

Lize-Mari het eers ’n BMus (graad in musiek) by UP verwerf en het daarna ’n meestersgraad in BSc (Agric) dierewetenskap verwerf. Haar nagraadse navorsing is gedoen deur haar twee passies te kombineer: Musiek en diere.

Met die eksperimentele fase van haar projek het Lize-Mari vier maande by die universiteit se Future Africa-instituut se Holstein-koeie in kommersiële melkplaas-toestande spandeer.

Nege Holstein-koeie is in drie groepe van drie verdeel en is aan drie verskillende behandelings blootgestel. Een groep het 24 uur ’n dag na klassieke musiek geluister; die tweede groep is aan geen musiek blootgestel nie en die derde groep het net na klassieke musiek geluister terwyl hulle gemelk is.


Lize-Mari in die melkery

Lize-Mari het hulle laat luister na komponiste soos Mozart, Grieg, Corelli en Offenbach asook komposisies soos Beethoven se ‘Maanlig-sonate’, Saint-Saëns se ‘Karnaval van die diere’ en Handel se ‘Watermusiek’.

Dit het die koeie glo so twee weke gevat om aan die musiek gewoond te raak. Om seker te maak dat die koeie nie leer om ’n spesifieke stuk musiek met ’n sekere deel van die dag te assosieer nie, is die volgorde waarin die musiek gespeel word, die heeltyd verander.

Lize-Mari sê dat sy stadiger stukke gekies het omdat vorige navorsing reeds bewys het dat melkkoeie meer van stadiger as vinniger musiek hou en meer van instrumentele stukke as iets soos rock of Latynse musiek.


Die luidsprekers sit bo aan die dak sodat die koeie heeltyd na musiek kan luister

Die koeie se stresvlakke is getoets met die hulp van UP se Endokriene Navorsingslaboratorium waar Lize-Mari gereeld getoets het hoeveel glukokortikoïed in die melk en mis van koeie in verskillende groepe teenwoordig is. Glukokortikoïed is ’n hormoon wat in stresvolle situasies geproduseer word.

Koeie wat 24-uur per dag aan musiek blootgestel is, het die laagste vlakke van glukokortikoïed in hulle mis gehad en was merkbaar kalmer wanneer hulle gemelk is. Dié groep koeie het ook met elke melksessie tot twee liter melk meer gelewer.

Lize-Mari se raad aan skoolverlaters wat in haar vakgebied geïnteresseerd is, is om aan hulleself en hulle missie te glo. “Daar sal altyd mense wees wat vir jou sê iets kan nie gedoen word nie, maar die wêreld het innoveerders nodig en dié wat bereid is om kanse te waag,” sê sy.

 

© 2024 Die/The Bronberger