Mense vuurwarm oor toename in bomklappers Print E-mail
News - Artikels
Friday, 20 January 2023 13:00
Untitled Document

Die ‘aanslag’ teen mens en dier deur die afskieters van sogenaamde bomklappers en ander vuurwerk, was met die draai van die jaar in groot dele van die Bronberg-gebied ‘veel erger’ as wat dit in vorige jare was.

Dit blyk uit ’n opname onder Bronnie-lesers dat inwoners van die gebied bykans deur die bank erg gekant is teen bomklappers en ander klappers wat deur ’n paar mense as ‘normale’ gebruik beskou word. Inwoners is veral behoorlik keelvol vir die uitwerking wat die onwettige gebruik van klappers op troetel- en ander diere het.

Die mening is dat dié gebruik in felheid toegeneem het, omdat klapper-skieters bewus geraak het daarvan dat geen ingryping daarteen deur wetstoepassers gedoen word nie. Dit, ondanks die feit dat elke jaar gewaarsku word dat swaar boetes en tronkstraf opgelê gaan word teen oortreders. Die metropolisie en polisie ‘steur’ hulle eenvoudig nie aan klagtes nie, wat daartoe lei dat die skuldiges hulle ook nie meer aan die wette steur nie.


Juanita Jamneck
van Liberty Stalle langs die Boschkop-teerpad sê by hulle was die lawaai vanjaar baie erger as gewoonlik. Wetstoepassing bestaan volgens haar nie.

“Ten spyte van hoeveel versoeke van oral af, ter wille van ons verskrikte diere, steur sekere mense hulle eenvoudig nie daaraan nie.”


Juanita Jamneck

Johann Van der Linde, wat nou betrokke is by gemeenskapsveiligheid in die Rayton- en Cullinan-gebied, sê bom-klappers moet verban word, omdat dit nie meer net ’n klapper is nie, maar meer ’n bom.

Hulle het toetse gedoen en gevind dat vandag se klappers só kragtig is dat dit ’n baksteen aan stukke skiet. Johann meen dat dit in die verkeerde hande lewensgevaarlik kan wees.


Johann Van der Linde

Elmarie Grant Swart van Meyerspark sê in haar omgewing is dit veral mense in Erasmusstraat wat jaar-op-jaar diere in die omgewing erg laat ly. Elmarie sê Mamelodi was ’n ‘oorlogsone’ vanjaar.

Haar man het ’n video kort ná middernag geneem en dit wys hoe erg verskrik uile, hadidas en ander voëls was. Om te sien hoe ‘ons geveerde vriende’ blindelings en verward in die nag rond vlieg, breek ’n mens se hart, sê sy.

Die hele wet en aktes oor vuurwerk moet verander word en dit moet as ’n geheel verban word. Die hoeveelheid trauma wat dit by diere en mense veroorsaak is ongelooflik.


Elmarie Grant Swart

Nadine Minnaar van Tierpoort sê in hulle onmiddellike omgewing was dit stil, maar om hulle was dit baie erg. Nadine stel dit duidelik dat sy (kragwoord) vuurwerk absoluut haat.

Dit is veral die uitwerking wat dit op haar honde en perde het, wat haar woedend maak. Die honde kan ’n mens nog in ’n mate onder beheer hou, maar die perde is moeilik.

Kyk net die hoeveelheid verlore en beseerde diere wat daar weer vanjaar was. Daar is dié jaar perde wat dood is weens skok en steeds gaan die mense aan asof niks gebeur nie.

Dit is die grootste pes onder die son en daar moet volgens Nadine strenger wetgewing en optrede daarteen wees. Te veel kom met ‘moord’ weg, sê sy.


Nadine Minnaar

Heidi Louise Lotze van Grootfontein sê dat mense van haar woongebied vooraf herhaaldelik en mooi gevra is om, ter wille van die troeteldiere en vee, nie klappers te skiet nie. Nogtans het sommige ‘idiote’ hulle nie aan die versoeke gesteur nie.

Heidi meen dié mense gee vir niemand anders iets om nie en fokus net op hulle eie selfsugtige voorkeure.


Heidi Louise Lotze

Deon Nigrini woon in Cullinan se Nuwedorp. Die klappers was volgens hom erger as ander jare en sy honde en voëls was ernstig verskrik.

Dit is asof mense minder vir hulle medemens voel en van regstoepassing was daar beslis geen sprake nie.


Deon Nigrini

Cherie Louise Prinsloo woon op ’n hoewe in Swaeltjie en sê ’n mens kon duidelik die erge afskiet van klappers stad se kant toe waarneem.

Hulle is betrokke by die red en hervestiging van hawelose diere en in gebiede waar klappers en vuurwerk meer was, was die voorkoms van weghol-diere en verskriktheid en angs hoog.

Diere voel aan as ’n elektriese storm met donderweer op pad is en kan hulle in ’n mate voorberei daarop. Met klappers is dit nie die geval nie.

Buiten mak en wilde diere kan sekere kinders, siek mense en mense wat ly aan PTSD, BPD, angs, depressie en meer nie altyd die erge knal-geluide hanteer nie.

Wetstoepassing bestaan nie. Dit behoort in te tree en streng toegepas word, sê Cherie.


Cherie Louise Prinsloo

Maggie Pretorius ly aan PTSD nadat sy jare gelede ’n slagoffer van die Kerkstraat-bomaanval was. Elke keer as een van daardie bom-klappers afgaan, het haar hele liggaam geruk. Haar spiere en hele lyf was die volgende dag so seer dat sy skaars kon loop, sê Maggie.

Haar hond, Max, was die hele nag in haar arms. In die kompleks waar hulle bly, woon ’n man wat aan demensie ly en hy kon die hele nag nie slaap nie. Maggie wens dat klappers heeltemal verban word: “Dit is aaklig.”


Maggie Pretorius

Antoinette Coetzee sê hulle weet al dat dit jaarliks die geval is dat klappers aan hulle deel van Rayton, naby Pumzile, geskiet word, maar vanjaar was dit baie, baie erger as vorige jare.

Hulle honde het binne geslaap met medikasie om hulle kalm te hou, maar dit het nie veel gehelp nie. “Die honde is net nie ‘bombproof’ nie,” sê Antoinette.


Antoinette Coetzee

Johan Pieterse bly in Boschkop bo op die berg. Die vuurwerke vanaf Mamelodi en aan die westekant van hulle hoewe, was baie erg.

Johan sê hulle het ’n paar jaar gelede in Garsfontein gebly waar hulle hond so erg getraumatiseerd is dat hy deur ’n glasvenster gespring het en in die diefwering vasgesit het.

As hy kon, sou hy die afskiet van klappers totaal laat verban.


Johan Pieterse

Ronell van der Merwe van die plaas Onbekend sê hulle en hulle diere in die omgewing van Welbekend is gespaar teen die ‘aanval’ van klapperskieters. Net ’n paar knalle kon in die vêrte gehoor word.

Vir Ronell was dit hartseer om later te lees van mense wie se diere weggehardloop het en selfs dood is as gevolg van ander mense wat geen omgee het nie en aanhou om die wet te oortree.

Sy is heeltemal gekant teen die gebruik van vuurwerk en die afskiet van ‘bomme’.


Ronell van der Merwe

Marlizet Schuurman Dempers van Faerie Glen sê vuurwerke is nie ideaal nie, maar dit is ’n realiteit. Voorsorg moet getref word.

Beheerd of onbeheerd is vuurwerke ’n uitdaging vir ons diere en pragtig vir die mensdom, sê Marlizet. Al doen ’n mens nou beheerde vuurwerkvertonings, gaan ons met dieselfde probleme sit waar dit geskiet word.

Ons wetgewing en polisiëring daarvan sal nooit voldoende wees nie al word dit onwettig verklaar, meen Marlizet.


Marlizet Schuurman Dempers

Ansie Heymans van die Kleinfontein-hoewes sê hulle kon in die vêrte ’n paar klappers hoor, maar dit het nie gepla nie. Hulle hondjie was rustig. Voorheen het hulle in Pretoria-Oos gebly en die klappers was verskriklik. Veral vanaf Mamelodi. Verban dit, sê Ansie.


Ansie Heymans

Helena Potgieter bly op Tweedragt waar dit heerlik stil was en hulle is baie dankbaar daarvoor. Hier was die feestyd vir ons diere net soos elke ander dag.

Helena is totaal en al gekant teen enige vorm van vuurwerk. As dit skade, hartseer en beserings veroorsaak, hoe kan dit goedgepraat en toegelaat word?

Dit behoort verbied te word, sê sy.


Helena Potgieter

Hannelie O’neil van Bronkhorstspruit sê sy moet sê dat die vertoning by die Boeddhiste-tempel ongelooflik mooi was.

Haar ‘hondekind’ het saam met hulle gaan kyk na die vertoning en sy het dit net so baie geniet. Sy was nie eers bang nie en het nie eers geblaf nie, sê Hannelie. Die tempel is ’n entjie buite die dorp geleë.


Hannelie O’neil

 

© 2024 Die/The Bronberger