Legendes om Afrika se oeroue reuse verweef Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 15 December 2022 07:41
Untitled Document

Kersfees is nie Kersfees sonder ’n Kersboom nie, maar wie het gesê dat ons die noordelike Halfrond se sneeu-bedekte bome moet na-aap. Mense gebruik al hoe meer kremetart-draadbome om die gees van dié seisoen op ons kontinent uit te beeld.

Dié oeroue reuse, wat ’n horde legendes om hulle verweef het, is egter dalk eerder vetplante. Hulle is ook merkers vir antieke handelsroetes in die noordelike dele van die land. Hoe het dit dan gebeur dat ’n kremetartboom in Kameeldrif-Oos beland het?

Wanneer ’n mens by Familiekerk NG Kameeldrif inry is dié boom, wat langs die konsistorie staan, een van die bakens wat jy dadelik opmerk. Dr Roelf Opperman, leraar by die gemeente, sê dat hulle kremetart aanvanklik die mees suidelike een in Afrika was.

“Daar is mense wat intussen nog meer suid as ons kremetartbome aangeplant het. Van die bome het hulle as groot bome verplant.”


Die kremetart-Kersboom in Sandton, Johannesburg
Bron: cityafrica.tumblr.com

Kameeldrif se kremetart het van saad af gegroei. William Peter (Billy) Terre Blanche, ’n jarelange lidmaat en ouderling van die eens NG-gemeente Kameeldrif, het in die vroeë 1960’s kremetartsaad uit Zambië saamgebring en geplant. Enkele bome het opgekom en William het die sterkste boom aan die kerk geskenk. Die boom is in 1966 geplant en is eintlik nog ’n jongeling onder bome wat duisende jare oud word.

Die kremetart, Adansonia digitata, het 200 miljoen jaar gelede op die Pangea superkontinent ontstaan. Individue se ouderdom is moeilik om te bepaal, omdat hulle nie soos ander bome duidelik sigbare ringe het nie. Koolstofdatering is op ’n paar reuse gedoen: Die Dorslandboom in Namibië en Glencoe naby Hoedspruit se ouderdom word op 2 000 jaar geskat en Zimbabwe se Panke was ongeveer 2 450 jaar oud toe hy in 2011 omgeval het.

Dr Roelf vertel dat Kameeldrif se kremetart sowat 10 jaar gelede amper groot skade gekry het. Hulle het agterkom dat ’n randknipper die boom beskadig het en dat die boom besig was om van binne af te vrot.


Die kremetart by Familiekerk NG Kameeldrif

“Ons het toe met ’n groot kettingsaag ’n gat in die boom gesaag – so groot dat ’n man op daardie stadium binne-in die boom kon klim. Al die verrotte materiaal is verwyder en vandag het daardie gat so toegegroei dat jy feitlik nie jou hand in die stam in kan druk nie,” sê dr Roelf.

Die gemeente het gelukkig gou opgetree, want die meeste sterftes van dié reuse gebeur as hulle van binne af verrot. Dit is ook waar een van die menige legendes rondom dié boom vandaan kom – dat kremetarte nie doodgaan nie, maar eenvoudig verdwyn.


Familiekerk NG Kameeldrif se kremetart staan langs die konsistorie

Legende
Baie inheemse stamme beskou die kremetart, as ’n towerboom. ’n Jong kremetart lyk glad nie soos die volwasse bome nie en daarom glo die Boesmans dat hy ook nie soos ander bome groei nie, maar net skielik op ’n dag met ’n geweldige slag volgroeid op die grond neerplof en aanhou groei tot hy skielik weer met ’n ontploffing verdwyn.

Martin Erlank, wat tussen kremetartbome grootgeword het, vertel dat hy een keer, meer as 40 jaar gelede, gesien het hoe so iets gebeur. ’n Kremetart het omgeval, vir ’n paar dae gelê en toe ontplof.

Wanneer ’n kremetart verrot, stort hy in ’n hoop vesels in duie. Dit is omdat sy stam en takke grootliks uit waterhoudende vesels, wat sag en sponsig is, bestaan. Ongeveer 80% van die stam bestaan uit water. Weens die hoë waterinhoud, disintegreer die boom vinnig. Dit gebeur glo soms dat ’n bietjie rook skielik bo die stam verskyn. Kort daarna is daar net stof, as en vesels oor.


Die minstens 1 700 jaar oue kremetart op die Sunland-mangoplaas in die Modjadjiskloof, Limpopo is as kroeg gebruik voor hy in 2016 omgeval het
Foto: Sunlandbaobab – Hannes Steyn

Afhangende van sy grootte, kan ’n kremetart tot 120 000 liter water stoor. Waar kom al dié water in die droogtegebiede waar die bome groei, vandaan? ’n Kremetart se wortels het ’n enorme horisontale stelsel om oppervlakvog op te raap. Sy stamme vorm tregters wat elke druppel water opvang en in bergingsplekke kanaliseer en selfs sy sponsagtige bas absorbeer buitengewoon baie water.

Soos kremetarte groter word, sukkel hulle glo om hulle eie gewig te beheer en ontwikkel ’n uitgeholde stam as ’n argitektoniese truuk om hulle gewig te versprei en te deel. Sulke uitgeholde stamme is al as tydelike blyplek gebruik deur inheemse stamme, jagters, avonturiers en al selfs as poskantoor, kroeg, tronk, toilet, pak- en melkkamer.


Die eertydse kroeg binne-in die kremetart by Sunland-mangoplaas
Foto: Sunlandbaobab

Voeding
Oor die eeue het die mens ’n simbiotiese verhouding met die kremetart, wat heel toepaslik as boom-van-die-lewe bekendstaan, aangegaan en dit het nié net met skuiling te doen nie. Sy vrug bevat wynsteensuur en vitamiene C en kan gesuig word; gerooster en gemaal word vir ’n soort koffie; of in water geweek word vir ’n verfrissende drankie.

Inheemse stamme gooi die pulp by mieliemeel om die pap suur te maak en hulle kook die boom se blare soos spinasie. Die blare word gebruik vir die behandeling van blaas- en nierprobleme, asma, insekbyte en baie ander kwale.


Dié hol kremetart in Gonarezhou, Zimbabwe staan as ‘Shadreck se kantoor’ bekend omdat ’n berugte stroper hom gebruik het om ivoor en renosterhorings te stoor.
Foto: Simon Espley

Die bas word fyngestamp vir die maak van materiaal en papier en sy vesels word gebruik om toue, matte, mandjies, snare vir musiekinstrumente en waterbestande hoede te maak. Gom word van die stuifmeel gemaak.

Kremetartsaad word vandag as ’n ‘superkos’ beskou. Vyftien gram kremetartpoeier is glo die vesel-ekwivalent van drie koppies brokkoli, bevat dieselfde hoeveelheid vitamiene C as een lemoen, die kalsium van drie eiers, kalium van vier gedroogde appelkose en die magnesium van bykans ’n hele piesang.


Die skerpskutter-boom in Kenia. ’n Duitse vroulike skerpskutter met die kodenaam Mama Sukurani het meer as 100 Britse soldate uit dié kremetartboom geskiet ná hulle haar man in die
Eerste Wêreldoorlog doodgeskiet het
Foto: Safaris in Africa Limited

Roete
Dit is glo dié voedingswaarde wat gemaak het dat kremetartbome die eeu-oue handelroetes in Afrika tussen bronne van minerale rykdom en hawens aandui. In ’n April 2020 artikel vir ‘New Frame’, genaamd ‘Baobabs tell of an ancient African past’, vertel Kevin Davie dat dit die geval is in die duisend-jaar-oue handelsroete tussen Vilanculos aan die Mosambiekse kus en Mapungubwe, die tuiste van die goue renoster.

Mapungubwe, geleë by die samevloeiing van die Shashe- en Limpoporivier waar Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe byeenkom, is in 1995 as nasionale wildtuin verklaar. Mapungubwe was volgens Kevin die kern van ’n handelsnetwerk van omtrent 1 000 tot 800 jaar gelede.


Dié geskiedkundige kremetart by die Kasane-polisiestasie in noordelike Botswana is
toentertyd as tronk gebruik
Foto: Ministry of Environment, Natural Resources Conservation and Tourism

Langs dié roete is daar in goud, yster, ivoor, keramiek, materiaal en glaskrale handel gedryf met mense van so ver as Arabië, Indië en Sjina. Kevin sê dat die kenmerkende ding van dié roete die kremetartbome is.

Die mense wat daar gewoon het, het ongeveer 800 jaar gelede reeds vertrek, maar die kremetarte het bly staan en vlieëniers rapporteer dat dié antieke handelsroete maklik uit die lug gesien kan word. Uit die lug word daar ook gesoek na saam-gegroepeerde kremetartbome om plekke waar antieke vestigings was, aan te dui.


Die ou kremetart-poskantoor op Outapi in noordelike Namibië is vandag ’n
nasionale gedenkwaardigheid
Foto: Wordpress – Ellen

Versprei
Kevin het gepraat met Sarah Venter, wat ’n doktorsgraad in kremetart-ekologie het en die Kremetart-stigting bedryf. Sy sê dat studies oor die simbiotiese verhouding tussen die mens en kremetartbome tot 300 aparte gebruike van dié boom geïdentifiseer het. Mense het gehelp om die kremetartboom te versprei: Nie deur hulle aan te plant nie, maar deur hulle vrugte as padkos op die handelsroetes te eet.


Die toilet in ’n kremetartboom by Katima Mulilo in 1961, links, 1991, middel, en 2020, regs
Foto: Mannfred Goldbeck

Sarah sê dat DNS-studies aandui dat ’n spesifieke kremetart, wat sy oorsprong in Wes-Afrika het, deur handelsroetes versprei het na westelike Madagaskar, die kus van Arabië, Indië, Australië en in meer onlangse slawehandel, na Brasilië.

Die kremetart is ’n genus van agt spesies van bome inheems aan Madagaskar, wat met ses spesies spog, en Afrika en Australië, wat een spesie elk het.

 

© 2024 Die/The Bronberger