Ons onthou een van ‘ons’ mense uit elk van 20 jaar Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 22 September 2022 09:59
Untitled Document

Oor die afgelope 20 jaar het die Bronnie ’n hartspad met ons kontrei se mense gestap. Ons kyk vlugtig terug na die verhale wat 20 van dié mense aan ons vertel het.

Hendrik se wingerd

Hendrik Ver Loren Van Themaat

’n Wingerd vol uitvoerdruiwe is nie iets wat ’n mens in die skynbare nutteloosheid van die skalieklipveld aan die voet van die Bronberg sou verwag nie. In September 2002 berig ons dat dié drie hektaar grootte wingerd van Hendrik Ver Loren Van Themaat toe al die afgelope 28 jaar op Zwavelpoort staan. Hendrik het verduidelik dat druiwe goed groei in klipperige grond. Hulle wortels kan maklik deur die leiklipagtige tipe fossielmodder breek wat hier voorkom.

Lila se sebra

Lila Oechler

Lila Oechler het Nyamazan, die Zulu-woord vir ‘klein diertjie’, as ’n sewe-maande oue Burchell sebra-vul op ’n wildplaas net buite Pretoria aangekoop, vertel ons in Mei 2003. Ons het van die lang proses om Nyamazan se vertroue te wen, vertel. Hy het so mak geword dat nie net Lila nie, maar selfs haar honde op sy rug kon ry. In Oktober 2017 het ons berig dat Nyamazan 19 jaar oud word en die wêreld wys wat sebras kan doen met Lila se Dinokeng sebra-toere op Elandshoek buite Rayton.

Mariëtte se mense

Mariëtte Basson en Tossie Lochner

In Maart 2004 het ons ’n middag saam met Tossie Lochner, die beminde Afrikaanse radiostem uit Italië, deurgebring toe sy by haar vriendin, Mariëtte Basson, op Mooiplaats gaan kuier het.
Mariette was nou betrokke by gemeenskapsake en liefdadigheid. Sy was lank verantwoordelik vir die jaarlikse Gee-jou-gawe-Kersmark. Mariëtte is op 26 Augustus 2012 ná ’n siekbed en volgens haar man Nico, ’n “harde geveg”, oorlede.

Anton se Belofte

Anton Jansen

In Januarie 2005 het ons die eerste keer by erfenis-bewaarder, Anton Jansen, op sy plot, Belofte, op Rietfontein gaan kuier. In Februarie 2005 het ons berig oor Anton se Mooikloof-argiefmateriaal. Anton het ook destyds probeer om die historiese plaasopstal en -geboue van die Wolfaardt melkplaas behoue te laat bly, maar Woodhill Gholflandgoed is daar gebou. In September 2008 het ons berig dat dié plaas se ou begraafplaas naby die ingang van Woodhill Gholf-landgoed en Garstfonteinweg blootgelê is met padverbredings.

Sam se oorlog

Sam McMurray

Eks-vegvlieënier, Sam McMurray van Mooiplaats, se eskapades in Afrika se oerwoude en woestyne in die Tweede Wêreldoorlog het in Junie 2006 in die Bronnie verskyn. Sy verhale het gestrek van geheime sendings, gedwonge landings en die onheilspellende geluid van Afrika-tromme. Sam is op 8 September 2008 na ’n kort siekbed oorlede. In ‘Vergete briewe jare ná skrywers se dood gevind’ het ons in April vanjaar vertel van die oorlogtydse brief van Bob de Klerk, Sam se gesneuwelde kameraad, wat 44 jaar laat afgelewer is.

Bashewa se Breytenbachs

Francois Breytenbach, regs, saam met sy dogter, Giuliette, en vrou, Annette

In Oktober 2007 het ons gaan loer wat kunstenaar Francois Breytenbach doen en het hom voor die geskiedkundige opstal saam met sy dogter, Giuliette, en vrou, Annette, afgeneem. Die eerste Breytenbachs het in die vyftigerjare op Bashewa aangekom en ’n lewe rondom die oorspronklike 1908 opstal van die Erasmusplaas, Rietfontein, begin bou. Oor die jare het die oudste seun van dié gesin, Francois, kunskenners se belangstelling geprikkel met sy koper skeppings, kaalvoete, wilde boskasie en Boheemse ‘kaias’.

Anieta se stem

Anieta Armand

Mooiplaats se Anieta Armand het oor 30 jaar by bykans elke radio-stasie in die land uitgesaai. In Julie 2008 het sy ons vertel hoe sy in die grensoorlog in Angola met beweegbare senders rondgejaag het, van dreigende aanvalle op Radio Pretoria, hoe sy ’n kode 14 lisensie gekry het en busse vol kinders veldskole toe gery het en daarna ’n toergids geword het – eers vir oorsese toeriste en toe het sy haar eie toermaatskappy gestig. Anieta het in 2016 by haar dogter op Rietfontein, in die Donkerhoek-omgewing, gaan woon. Sy is op 24 September 2018 oorlede.

Oom Hoffie se sketse

Georg Hofmann

In Januarie 2009 het lesers Shere se Oom Hoffie ontmoet, ’n 95-jarige wat toe steeds daagliks geskilder het en een van die eerste huise in Shere met sy eie hande gebou het. Hy het vertel van sy sewe jaar in ’n interneringskamp in die Tweede Wêreldoorlog waar hy ’n viool met ’n knipmes uit ’n stuk tafel gemaak het. Dié en ander avonture is vervat in sy outobiografie, “Skizze eines lange Lebens” (Sketse uit ’n lang lewe) deur Georg Hofmann.

Mike se missie

Mike Strange

Toe Mike Strange ’n paar jaar ná die draai van die millennium op Mooiplaats intrek, het hy binne twee weke ’n gemeenskapsvergadering gereël. Wie op aarde is dié man, was die vraag op deurtrapte inwoners se lippe. In Augustus 2010 het ons vertel waar Mike vandaan kom en wat hom motiveer. Hy was toe voorsitter van die gemeenskappolisiëringsforum, komiteelid van die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging en lid van ’n gemeenskapveiligheidsgroep. Mike het later wyksraadslid geword tot hy homself verlede jaar nie weer vir verkiesing beskikbaar gestel het nie.

Steve se rooi neus

Steve Vosloo

In Julie 2011 het ons by omgee-nar Steve Vosloo gaan kuier op sy kleinhoewe in die Kleinfontein-omgewing. Hy het vertel dat omgee-narre begin het met dr Hunter ‘Patch’ Adams in Amerika, wat een dag met ’n rooigeverfde neus by ’n hospitaalsaal ingestap het en gevind het dat dit kinders minder bang maak vir mediese behandeling. Steve het gesê dat dit baie bevredigend is om ’n skaam glimlag of giggel van ’n pasiënt te kry. Hy het in 2009 begin om ander omgee-narre op te lei.

Louise se vaart

Louise Muller

Louise Muller van Elandshoek was as 49-jarige deel van die SA Agulhas se laaste vaart na Antarktika, vertel ons in Januarie 2012. Sy het in 1986 as 24-jarige die drie-maande ekspedisie van Kaapstad na Antarktika meegemaak. Louise en haar gesin was die laaste inwoners van die kliphuis op die Bronberg, wat Arrie en Elsa Jungnickel gebou het. Ná hulle seun, Paul, se dood het hulle die grond geskenk waar die Paul Jungnickelhuis gebou is. Ná Elsa se dood het Arrie met Kosie Muller, Louise se ma, getrou en dit is hoe Louise in die kliphuis beland het en ’n aktiewe lid van die destydse Bronberg Bewaringsvereniging geword het.

Koos se cowboys

In Augustus 2013 vertel ons dat plaaslike rodeo-organiseerder, Koos Dippenaar, vir twee maande lank deel was van die film, ‘The Salvation’, se ruiterspan. Tonele uit dié film is in die Cullinan- en Rayton-omgewing verfilm. Die verhaal speel in die 1870s in Amerika af. ’n Setlaar neem wraak oor die moord van sy gesin en in die proses word die woede van ’n berugte bendeleier ontketen. Koos, geklee in oudtydse Cowboy-klere, was deel van die bende.

Lucy se verrassing

Lucy en Juba Joubert

Al ooit gehoor van ’n verrassing-troue waar die bruid nie van die seremonie weet nie? In Junie 2014 berig ons dat die Tierpoort Seniors so ’n verrassing gereël het vir Lucy, ’n nooi Rayment, en Johannes ‘Juba’ Joubert, wat eintlik al 14 jaar getroud was, maar nooit ’n behoorlike seremonie gehad het nie. Die papierwerk van hulle eerste troue het boonop verlore geraak. Die seniors het vir Lucy gesê dat sy as model vir volwasse bruidsuitrustings moet optree vir ’n fotosessie waar die seniors ‘ekstras’ sou wees.

Mark se droom

Mark Hill

In Mei 2015 skryf ons dat lugvaart en bier nie gewoonlik meng nie, maar dat ’n interessante samewerking tussen ’n Cullinan-brouery en die vliegtuig genaamd Little Annie, geld vir liefdadigheid ingesamel het. Little Annie is ’n Antonov AN-2 vliegtuig wat al die pad van Rusland af gekom het om kinders se lewens te verander deur Just Love Mission, die droom van Tierpoorter, Mark Hill. Hy wou lugvaart gebruik om minderbevoorregte kinders op ’n positiewe manier te beïnvloed.

Thea se taak

Thea de Bruyn

Wie ook al vir Thea de Bruyn, destydse direkteur van Kungwini Welsynsorganisasie (KWO), ontmoet het, sal haar nooit vergeet nie. In Junie 2016 berig ons dat sy op 22 Mei in die ouderdom van 60 jaar oorlede is. Sy het in 1986 as maatskaplike werker by die Paul Jungnickelhuis begin werk en het later bestuurder en toe direkteur geword. In 1996 het dié tehuis ’n onafhanklike welsynsorganisasie geword. Thea het KWO in 2002 gevorm, ’n oorkoepelende organisasie vir dienste aan die breër gemeenskap.

‘Plotville’ se Barbs

Barbara Bennet

In Oktober 2017 berig ons dat Barbara Corrine Bennet, een van Bashewa en Tierpoort se mees geliefde inwoners, skielik op 1 Oktober oorlede is. Honderde huldeblyke het vir ‘Plotville’ se Barbs ingestroom. Sy is in 1954 gebore en het op ’n plaas naby Settlers grootgeword. Sy het in Julie 1986 na Bashewa getrek en gou ’n onmisbare lid van die gemeenskap geword. Haar vriendin, Karin Saffy, het gesê dat Barbs een van die kleurvolste mense was wat sy geken het. Niemand kon vir Barbs miskyk nie.

Francette se porselein

Francette Roux

Francette Roux van Cullinan versamel al vir bykans 60 jaar lank porselein, vertel ons in Februarie 2018. Haar versameling strek van stukke uit die 1700’s, porselein uit die Britse koningshuis, kaste vol Royal Doulton-, Royal Worcester- en Dresden-beeldjies tot 58 Royal Albert-teestelle en verskeie stelle van Staffordshire, Aynsley, Royal Vale en pienk Pompadour. Die versamel-gogga het Francette vroeg reeds gebyt en sy het haar eerste porselein op die ouderdom van 15 gekoop – twee pienk kershouertjies, wat sy vandag nog het.

Lindi se brood

Lindie Theron

Lindie Theron van Zwavelpoort is iemand wat ’n moeilike pad gestap het en toe haar brood op die water gewerp het om haar hele wese met die geur van vars-gebak te vul, skryf ons in Junie 2019. “Dit is vyf jaar gelede wat my hele lewe, met alles wat saak maak, omgeval het. As ek nou terug kyk, kan ek nie glo ek leef my droom nie – om voltyds te bak,” het sy gesê. Ná baie oefenlopies het sy suurdeegbrood begin bak en verskaf aan al die markte in die omgewing.

Liza se hart

Andrew en Liza in 1988

In Julie 2020 skryf ons dat Andrew Labuschagne van Zwavelpoort ’n hart met sy vrou se naam – Liza – binne-in, teen die hange van die Bronberg uitgesny het. Die hart was omtrent 30 meter lank en hy het dit in die geheim as ’n verrassing vir haar gesny. Min het hy geweet dat hy die hart en Liza se naam tien keer met sy grassnyer in veldgras moes uitsny omdat Google Earth bykans ’n jaar geneem het om ’n nuwe satellietfoto van die gebied te neem.

Abel se oortuiging

Abel Pienaar

Denker, filosoof, skrywer en leraar, dr Abel Pienaar, is op 1 Julie aan Covid-19 oorlede, berig ons in Julie 2021. Abel was hoofleraar van Renaissance, ’n bekende skrywer van boeke en artikels en deelnemer aan radio- en TV-programme. Uitgewers skryf dat Abel met die moed van sy oortuiging gelewe het. Ook so het hy geskryf – met beklemtoning van die nou. “Vandag moet sinvol en bewustelik geleef word. More is onseker. Word wakker!”

 

© 2024 Die/The Bronberger