Ietermagog-stropers in beskuldigde bank Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 20 August 2022 05:21
Untitled Document

Twee mans wat aangekla word van ietermagog-stropery het op 18 Julie in die Bronkhorstspruitse streekshof verskyn. Wisani Shilubana en Shalom Ngulube is op 30 Julie 2020 by ’n vulstasie langs die N4-Oos snelweg in hegtenis geneem met ’n ietermagog in hulle besit.

In ‘Dapper prof help ietermagog-stropers vastrek’ in Die Bronberger van Augustus 2020 het ons berig dat stropers in ’n lokval gelei is deur Ray Jansen, plaaslike grondeienaar en professor aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Hy is die voorsitter van die nie-winsgewende organisasie, Afrika Ietermagog Werkgroep.

Ray het verduidelik dat daar ’n oorweldigende groot mark vir ietermagog-skubbe in Asië is, veral in Sjina, omdat daar geglo word dat die skubbe medisinale waarde het. Dié diertjies is meer bedreig as renosters en moeiliker om te beskerm. Dit is ’n misdaad om in besit van ’n ietermagog of liggaamsdele van een van dié bedreigde diere te wees.


Die mannetjie ietermagog wat op 30 Julie 2020 uit stropers se kloue gered is
Foto’s: Ray Jansen

Ray het ’n gewaagde intelligensie-gebaseerde operasie uitgevoer met die hulp van Cullinan SAPD Veediefstal en Bedreigde Spesies-eenheid met ondersteuning van die SAPD Gautengse K9 eenheid, die Bronkhorstspruitse SAPD K9 eenheid en GDARD se Groen Skerpioene.

Ray het gemaak of hy die Temminckse ietermagog wil koop en het gereël om die verdagtes by die Rose Shell Garage langs die N4-Oos snelweg te ontmoet. Ná hulle oor ’n verkoopprys ooreengekom het, het Ray die sein gegee en die taakspan het op die toneel ‘ontplof’ soos hulle inbeweeg het.

Die ietermagog wat gered is was ’n 12,8 kg volwasse mannetjie wat uit sy gebied in die bosveld gestroop is. Hy is Willy Thomas gedoop en na die Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild geneem waar hy vir longontsteking, dehidrasie en post-traumatiese stres behandel is. Willy is later met ’n opsporingsapparaat toegerus en in ’n vrylatingsprogram in Manyoni-natuurreservaat in KwaZulu-Natal geplaas.

Die saak teen Wisani Shilubana en Shalom Ngulube is uitgestel tot 24 Oktober vir nuwe regshulp verteenwoordiging.


Die dooie wyfie ietermagog wat op 18 September 2020 gevind is

Vermeende ietermagog-stropers, Leavemore Tapfumaneyi (alias Vila) en Benjamin Handu (alias Ben Diesel), het op 28 Julie in die Cullinanse Landdroshof verskyn. Ray vertel dat hulle in hegtenis geneem is met ’n operasie wat saam met die Cullinan SAPD Veediefstal en Bedreigde Spesies-eenheid uitgevoer is.

Die verdagtes is op 18 September 2020 by die Jan Ellis-vulstasie, op die kruising van die Ou Bronkhorstspruitpad en die Cullinan/Rayton-pad (R515) met ’n dooie wyfie ietermagog gevang.

Ray, wat weereens die agent was om die verdagtes in ’n lokval te lei, sê dat die verhoor nog voortgaan. Die finalisering en vonnis sal op 29 September by die Cullinanse Landdroshof wees.

 

© 2024 Die/The Bronberger