Verwoeste hoewes uitgekoop vir Pienaarspoort se plakkers Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 23 July 2022 07:05
Untitled Document

Die misdaad-geteisterde Pienaarspoortse hoewegebied met sy menigte plakkerskampe gaan deel word van ’n nedersettingsprojek. Dié projek word deur die Gautengse departement van behuising befonds tot groot verligting van grondeienaars, wat hulle kleinhoewes moes verlaat en dit nie voorheen verkoop kon kry nie.

Lid van die Tshwane se burgemeesterskomitee vir menslike nedersettings, Abel Tau, het bevestig dat dit korrek is dat die grond opsy gesit word vir die formalisering van informele nedersettings.

Die Bronberger berig al meer as ’n dekade lank hoe Pienaarspoort in puin gelê word.


Donkerhoek se villa uit die 1800’s is deur ’n lid van Paul Kruger se volksraad, Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans gebou

Die gebied loop deur onder verwoestende bendes wat mense nie net rot en kaal besteel nie, maar ook hulle huise afbreek en alles wat bruikbaar is wegdra. Huiseienaars word met die dood gedreig as hulle dit durf om voet op hulle eie eiendom te sit.

Die geskiedkundige ‘Donkerhoek Villa’ en sy mense is een van die nuutste slagoffers. Eienaar Ian MacDougall het aangekondig dat die familie, wat sedert 1920 daar woon, moet trek omdat hulle so te sê deur plakkerskampe omring word.

Dié huis uit die 1800’s is deur ’n lid van Paul Kruger se volksraad, Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans gebou en die familie vrees dat dit, soos al die ander huise in die gebied, deur misdadigers afgebreek en weggedra gaan word.


Knap twee weke voor dié foto in Junie 2014 geneem is, het die 84-jarige Fanie Gericke van plot 30, Pienaarspoort se huis nog hier gestaan

Verkoop
Petro Lemmer het in 2014 reeds aan Die Bronberger vertel dat ’n groep bure probeer het om hulle plotte as ’n blok te verkoop, maar dat niemand daar wil koop as hulle eers gesien het hoe naby die plakkerskampe is nie.

Dié verkoopproses het vir jare lank gesloer. Vroeg in 2019 is planne gemaak vir ’n reuse nuwe residensiële ontwikkeling, wat as Pienaarspoort Uitbreiding 22 bekend sou staan. ’n Maatskappy is aangestel op dorpstigting op 182,24 hektaar te doen en strate, elektrisiteit en ’n rioolstelsel is beplan.

Petro vertel dat Tshwane aanvanklik vir die ontwikkeling sou pa staan, maar dat die projek ná jare deur die Gautengse departement van behuising oorgeneem is. Sy sê dat die proses uiteindelik nou in 2022 so ver gekom het dat die individuele stukke grond aan Value Max oorgedra word, wat dit daarna as een stuk aan Gauteng-provinsie oordra.

“Vir ons as grondeienaars teen die Magaliesberg is dit belangrik dat hulle ons hele kleinhoewe koop en nie net die onderste deel wat ontwikkel mag word nie.”

Petro sê dat daar gerugte is dat die grond nie ontwikkel gaan word nie, maar slegs in erwe opgedeel gaan word, wat nie verkoop gaan word nie, maar weggegee gaan word aan mense soos die Mamelodi-vloedslagoffers.


Petro en Pieter Lemmer se dubbelverdiepinghuis voor hy afgebreek is

Laaste
Petro en Pieter Lemmer was van die laaste Pienaarspoorters om in dié hoewegebied vas te byt. In September 2019 het hulle geslaap toe die veiligheidshek by hulle slaapkamer met ’n koevoet oopgebreek is. Vier indringers met balaklawas aan het hulle in die kamer oorrompel. Petro het vertel dat Pieter vir ’n vale baklei het en in die gesig geslaan is.

Die egpaar is met geroeste drade vasgebind en die aanvallers het alles weggedra, van juwele, selfone, skootrekenaars en alles in die kluis, insluitende ’n haelgeweer. Sy sê al wat oorgebly het, was linne en hulle klere.

Daarná moes hulle die eiendom verlaat en die dubbelverdiepinghuis waarin die Lemmers dekades lank gewoon het, is binne ’n paar weke ná hulle vertrek tot op die grond afgebreek en weggedra.


Die Lemmers se dubbelverdiepinghuis is binne ’n paar weke ná hulle vertrek in puin gelê

Bedreig
In Mei 2011 reeds het ons berig dat plot 31, Pienaarspoort, wat eens aan Angels with Hooves-stigterslid, Annemarie Towsen, en haar gesin behoort het, deur plakkers bedreig word. Angels with Hooves is ’n nie-winsgewende maatskappy wat perd-geassisteerde sielkunde en perdeterapie vir kinderhuis-kinders gedoen het op die plot waar Annemarie ook ’n perdryskool gehad het en poniekampe gehou het.

Plakkers is direk langs die Towsens se grond hervestig. Die grensdrade is aanhoudend geknip sodat die perde weggeloop het en hulle moes in klein kampies toegesluit word om te verhoed dat hulle deur honger huislose mense geslag word.

Die plot is vinnig in puin gelê toe Annemarie haar perdryskool moes skuif. Van die stalle was daar gou niks oor nie; ’n paar halwe bakstene en stukke pleister was al wat van die klubhuis oor was en die huis is gestroop.


Die foto is in November 2018 geneem, toe ’n hoewe-eienaar nog met begeleiding by die Pienaarspoort-plot kon inkom

Fanie
In Junie 2014 het ons vertel dat die 84-jarige Fanie Gericke van plot 30, Pienaarspoort vir jare lank geteister is. Hulle het begin deur sy kragkabels en selfs Eskom transformator te steel, daarna sy elektriese hek en alle pale in sy elektriese omheining asook sy boorgatpype en boorgatpomp.

Hy is op 17 Mei 2014 lelik deur die stropers beseer en die gemeenskapsveiligheidsgroep het aanbeveel dat Fanie onmiddellik daar moes weggaan. Binne die eerste drie dae nadat Fanie uitgetrek het, is die huis van alle bedrading, handvatsels en kaste gestroop.

Buurman Anton van Tonder het die dakplate afgehaal om te verkoop as fondsinsameling vir Fanie. Toe Anton daar weg is, het die stropers met hulle eie kragopwekker opgedaag om die staalrame van die vensters op te sny om makliker weg te dra.

Ná net ’n bietjie meer as twee weke was daar bykans niks van Fanie se huis oor nie. Selfs die winkeltjie op sy plot is van alle metaal gestroop. Die stoep was met tralies ingehok, wat saam met die dakplate gestroop is.


Al wat oorgebly het van Angels with Hooves se klubhuis

Teister
In November 2018 het ons ’n anonieme brief geplaas van iemand wat ’n lys gestuur het van mense wat in Pienaarspoort aangeval word en ten minste 14 kleinhoewes wat geteister word.

In Desember 2018 het ons berig dat ’n Pienaarspoortse hoewe-eienaar, wat anoniem wou bly, vertel het dat hulle nie net rot en kaal besteel is nie, maar dat hulle huis afbreek is en dat alles wat bruikbaar is, wegdra is. Hulle is met die dood gedreig as hulle dit sou durf om voet op hulle eie eiendom te sit.

 
 

© 2024 Die/The Bronberger