Klipkop Percheronstoet maak geskiedenis Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 15 October 2009 23:19
Untitled Document

Die eerste Percheronperd wat ná meer as veertig jaar vanuit Frankryk na Suid-Afrika ingevoer is, het ’n tuiste in die Bronberg- gebied gekry.

Sympa de Bellevue is drie jaar oud, maar reeds meer as 17 hand hoog en het, ná ’n glansryke ontvangs in Kyalami, huis toe gekom na Summerwind Percheronstoet in Lynnwoodweg-verlenging, Klipkop.

Só ’n ontvangs is sekerlik nog nooit vir ’n enkele perd in die geskiedenis van die plaaslike perdebedryf gehou nie. Vierhonderd gaste vanuit alle dele van die land en verteenwoordigers van die Franse Ambassade het by die Waterfall Landgoed by Kyalami byeengekom om Sympa welkom te heet. Selfs Sympa se verkopers, Michel Paris en sy eggenote Michele van Mayenne in Frankryk, was daar.


Verkoper, Michel Paris van Frankryk, vertoon die ingevoerde Percheronhings, Sympa de Bellevue

Behalwe vir die trompetgeskal, was daar ook ’n filharmoniese orkes, glinsterende kolligte, ’n dresseervertoning deur ’n Percheron, ratse Arabierperde, bekroonde wyne uit die Kaapse wynland en selfs vuurblasers. Johan Henning en Jan Engelbrecht, die Summerwind-Percheronstoet en ook Sympa se eienaars, sê die beperkte plaaslike genebron het vir etlike dekades ’n stremmende invloed op die groei en verbetering van die ras in die land gehad.

“Met die benutting van dié hings in ons eie stoet, en met die verspreiding van sy semen vir KI-doeleindes na ander stoeterye in die plaaslike bedryf, sal Sympa oor die medium tot lang termyn ’n aansienlike bydrae lewer tot die uitbreiding van die genepoel en die teel van perde wat aan neergelegde rasstandaarde voldoen,” sê Johan. Johan en Jan beoog om binnekort ook twee merries uit Frankryk in te voer na hul stoet.


Van links is Jan Engelbrecht van die Summerwindstoet, Michel Paris van Mayenne in Frankryk, Johan Henning, ook van die Summerwindstoet, en Michel se eggenote, Michele

Sympa is deur Bernard Guyard in die staat Normandië geteel uit van die beste bloedlyne in die stamland. Sympa se vaar is Lido 3 wie se pa in ’n stadium die nasionale kampioen in Frankryk was, terwyl sy moer, Mona 18, in 2007 as nasionale kampioenmerrie van die ras aangewys is.

Op driejarige ouderdom het Sympa self reeds presteer toe hy in die keuringsproses van jong hingste by die nasionale staatstoetery tweede uit 125 top hingste geplaas is. Die voorlaaste hings wat in 1965 uit Frankryk na ons land ingevoer is se naam was Regulateur en hy is deur die Elsenburg Stoet ingevoer.

Nes Sympa kom Regulateur ook van die Paris-familie, een van Frankryk se belangrikste handelaars in Percheronhingste. Hulle keur jaarliks veertig hingste om groot te maak, af te rig en uiteindelik op driejarige ouderdom aan telers in talle lande te verkoop.

 

© 2024 Die/The Bronberger