Hy lyk soos een, hy ruik soos een . . . Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 24 May 2022 08:40
Untitled Document

Almal ken die Groot Vyf, sommiges is bekend met die Klein Vyf, maar min mense weet van die Vyf Wat Die Minste Gesien Word. In dié kategorie is daar ’n dier wat baie lyk soos ’n stinkmuishond en ruik soos ’n stinkmuishond, maar beslis nie een is nie.

Daar word veral in KwaZulu-Natal jag gemaak op dié diertjie. Bygelowe lui dat jy sy gebeentes onder jou tong moet sit sodat jy onsigbaar kan wees vir die lang arm van die gereg. Sy Zoeloe-naam, ‘Nyengelezi’, beteken “die een wat ongesiens verbygaan”.

In Afrikaans noem ons hom die slangmuishond, waarskynlik omdat hy so lank en maer is en omdat sy vloeiende beweging in die lang gras maklik soos dié van ’n slang lyk. Volgens JP Eksteen het die slangmuishond in verhouding met die lengte van sy kort beentjies, die langste liggaam van alle Afrika-soogdiere.

Hy sê dat ’n wyfie en kleintjies so naby agtermekaar loop, dat dit soos een lang slang in die gras kan lyk. In gevangenskap is daar al gesien dat slangmuishonde hulle voorpote effens van die grond af oplig as hulle onbekende kos kry en dan die kop nes ’n slang heen en weer beweeg om die kos goed te bekyk.

Die slangmuishond, Poecilogale albinucha, is een van drie Suid-Afrikaanse landbewoners in die Mustelidea-familie wat verbasend baie eienskappe deel. Die ander twee is die stinkmuishond, Ictonyx striatus, en ratel, Mellivora capensis.


Die slangmuishond
Foto: Wikipedia

Dié drie het almal dieselfde swart en wit kleure, hulle kan ’n olierige, onwelriekende klierstof afskei wanneer hulle bedreig word (wat selde met een wasslag uitgewis kan word), is almal gehard en taai, het dik los velle, ’n uitmuntende talent vir gate grou en is goeie ondergrondse jagters.

Ander muishonde soos die swart- en witkwasmuishonde, grysmuishonde, kommetjiegatmuishonde, dwergmuishonde, witstertmuishonde en gebandemuishonde is nie by die Mustelidea-familie ingedeel nie.

Die stinkmuishond se bene is baie langer as dié van die slangmuishond en hy is heelwat groter – hy weeg tot 1,4 kg. Ratels is baie groter: ’n Wyfie kan tussen 5,5 en 10 kg weeg, terwyl mannetjies tussen 9 en 15 kg kan weeg.

Die slangmuishond weeg 250 tot 350 gram – die mannetjies is groter as die wyfies – en volwassenes se kop-en-lyf lengte is 300 mm, terwyl die stert tot 175 mm lank kan wees. Sy onderkant is heeltemal swart en hy het vier wit tot gelerige strepe op sy rug. Sy stert en die bokant van sy nek is spierwit. Hy is of alleenlopend, of kom in pare of in klein familiegroepe voor en is hoofsaaklik naglewend.

Slangmuishonde vreet grootliks knaagdiere, veral dié wat in kolonies voorkom, soos vleirotte en springhaasrotte. Sy lang ‘slanglyf’ is ook goed aangepas om jag te maak op diere soos knaagmolle en molle wat in ondergrondse tonnels woon. Daar word beweer dat hulle prooi so groot soos ’n tarentaal kan vang.


’n Slapende slangmuishond
Foto: Ituri: zoochat

Ekstra prooi word in ’n kamer aan die einde van die ondergrondse tonnel waar hulle woon, opgegaar en slangmuishonde word van kleinsaf geleer om hulle besigheid in ’n goed gedefinieerde ‘latrine-gebied’ te doen.

Dié diertjies het ses verskillende roepe: ’n Waarskuwingsroep; ’n aggressiewe geluid; ’n kombinasie van dié twee; ’n roep wat aandui dat ’n onderdanige mannetjie uit ’n onderonsie onttrek; nog ’n geluid wat wys dat ’n vegtende mannetjie oorgee; en ’n groet wat tussen mannetjies en wyfies en tussen wyfies en kleintjies gebruik word. Kleintjies het ook ’n noodroep wanneer hulle van die wyfie geskei word.

Slangmuishonde het gewoonlik net een werpsel per seisoen, bestaande uit een tot drie kleintjies. Wyfies is 30 dae lank dragtig. Die kleintjies weeg slegs vier gram met geboorte en word haarloos en blind gebore. Hulle maak eers 52 dae ná geboorte hulle oë oop. Hulle word teen 11 weke gespeen en kan vanaf 13 weke prooi doodmaak, alhoewel hulle eers teen 20 weke volgroeid is.

Untitled Document
 

© 2024 Die/The Bronberger