Bokkie-Jane gaan ná 10 maande huis toe Print E-mail
News - Artikels
Monday, 15 November 2021 13:46
Untitled Document

’n Rooiribbokooitjie, wat vir tien maande met die hand grootgemaak is, is uiteindelik op 20 Oktober by Moreletakloof-natuurreservaat vrygelaat. Die ooitjie is as pasgeborene deur besoekers, wat gedink het sy is verlore, in die reservaat opgetel en haar ma wou haar nie weer terugvat nie.


Die ooitjie is op 10 Januarie gekry

Vriende van Moreletakloof se Jeannie du Plessis sê dat die bokkie se ma haar onder takke weggesteek het ná sy gebore is en slegs twee of drie keer ’n dag terug gegaan het om haar te voer. Sy sê dat mense se instink is om ’n klein bokkie, wat alleen lê en blêr, te help, maar dit is nie maklik om ’n bokkie by haar ma terug te kry ná sy deur mense hanteer is nie.


Dr Marelize Engelbrecht met die ooitjie op 10 Januarie

Gelukkig het dokters Marelize Engelbrecht en Erika Pienaar van die nabygeleë Moreletapark Dierehospitaal en dr Nicci Wright van die Johannesburg Wildlife Vet Clinic dadelik op 10 Januarie gaan help.


Die jong ooitjie suip op 24 Januarie gretig aan haar bottel

Die ooitjie is by die Moreletapark Dierehospitaal ingeneem, waar sy Jane gedoop is. Op 12 Januarie het die veeartse laat weet hulle skat dat die ooitjie so sewe dae oud is. Natuurlik kon sy nie dag en nag in die hospitaal woon nie en die veeartse het haar huis toe geneem, waar sy gou deel van die gesinslewe geword het.


Karl van Dyk, wat die kampie help bou het, by dr Erika Pienaar en haar jongste seun op 16 April

Die doel was om haar so gou as moontlik in die reservaat terug te kry, en niemand sou kon raai dat dit ’n volle tien maande sou neem nie. Intussen het Karl van Dyk, Jan van Greunen en Rouxne Botha begin om ’n klein kampie in die reservaat te bou waar jong diere, wat van hulle ma geskei is, in veiligheid opgepas kan word.


In die kampie op 16 April saam met dr Erika en haar kinders

Anneli en Pieter Theron en die reservaat se voëlkykers het help betaal aan die veilige kampie, wat op 29 Maart voltooi is, en almal het in spanning gewag dat klein Jane haar intrek neem.


Bokkie-Jane kyk deur dr Erika se motorvenster toe sy in April terug geneem is omdat sy nie by iemand anders wou bottel-suip nie

Op 16 April was die opgewondenheid groot en die drie-maande oue ooitjie is na die kampie geneem. In dié stadium het Jane selfs ’n pers halsband en naamplaatjie met die naam Bokkie op gehad vir ingeval sy by die kampie sou uitkom.


Sy het selfs ’n halsband gedra met die naam, Bokkie. Die foto is op 16 April geneem

Die eerste dag het Jane ewe gewillig saam met dr Erika en haar twee seuntjies by die kampie ingeloop, omdat sy hulle ken. Jeannie vertel dat vrywilligers vir ure daarna doodstil by die ooitjie gesit het en haar probeer voer het. Sy het wel ’n bietjie boskos-korrels en gras gevreet, maar het geweier om te suip.


Die tien-maande oue rooiribbokooitjie is op 20 Oktober vrygelaat

Dit was noodsaaklik dat Jane haar spesiale melk inkry, maar sy wou nie by vreemdelinge suip nie, al het hulle vir haar presies dieselfde melk uit dieselfde bottels gegee as dit waaraan sy gewoond was.


Dr Erika Pienaar en haar kinders kyk hoe Bokkie-Jane ná 10 maande van hulle af wegstap
Foto’s: Facebook

Dr Erika en haar seuntjies het Bokkie-Jane toe maar weer gaan haal, saam in die motor gelaai en terug geneem huis toe vir nog ’n paar maande.

Dit het Bokkie-Jane uiteindelik tien maande geneem om ten volle vir haar eie voeding verantwoordelik te wees en in dié tyd het sy so deel van dr Erika se gesin geword, dat die afskeid op 20 Oktober ’n moeilike een was.

 

© 2024 Die/The Bronberger