Het jy ’n baba hasie in die veld gekry? Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 16 October 2021 06:20
Untitled Document

Reddingsentrums berig dat mense dié tyd van die jaar gereeld babahasies inbring wat hulle ‘verlate’ in die veld gevind het. Baie van dié hasies is nie konyne wat ontsnap het nie en is ook nie deur hulle ma verlaat nie. Hoe weet jy watter hulpelose babas jy moet help en watter jy in die veld moet los?

Die reddingsentrums sê dat baie van die hasies wat ingebring word, kolhase is. ’n Kolhaas-ma sal haar babas tipies onder ’n bos wegsteek en so twee of drie keer ’n dag terugkom om hulle te voer. Dit is algemeen dat dié babas vir baie ure alleen gelos word.


’n Kolhaas het die kenmerkende wit kol op die kop
Foto: Sico - sareptiles

Sulke babas verlaat soms die nes om die omgewing te gaan verken. Dit is juis dan wanneer hulle deur besorgde mense gevind word. Dié babas is nie deur hulle ma verlaat nie en dit is slegs raadsaam om in te meng as jy die baba ’n opvolgende dag steeds alleen op dieselfde plek buite die nes kry of as jy kan sien dat die hasie beseer is. Die meeste babas sal self teruggaan nes toe.

Hoe kan jy sien of die ma terugkom nes toe om die kleintjie te voer? Om te toets of ’n baba regtig deur die ma verlaat is, maak ’n ring van meel of iets soortgelyks om die nes. Kyk na 12 tot 24 uur of die baba nog daar is en of die ring versteur is. Indien wel, los die baba dan net waar hy of sy is en hou troeteldiere weg van die plek af.


Konyne word kaal en blind gebore
Foto: athomepets.weebly.com

Troetel-konyne is ’n ander storie. Hulle is nie aangepas om in die veld te oorleef nie en dit is raadsaam om sulke babas te red. Dié konyne is nie net wit nie; daar is kombinasies van swart, grys en bruin konyne, wat baie na ’n kolhaas kan lyk.

Hoe ken ’n mens dan die verskil? Troetel-konyne word sonder ’n pels gebore en hulle ogies is die eerste ruk toe. Dié konyne grou tonnels en die kleintjies word ondergronds gebore. Kolhase word bogronds met ’n pels en oop oë gebore.

Die kolhaas, Lepus saxatilis, het die kenmerkende wit kol op die kop. Sy pels is ’n grysbruin kleur, gespikkel met swart en die pels op die pens is wit. Die stert is swart aan die bokant en wit aan die onderkant.


’n Mak bruinkleurige konyn
Foto: Becca - ahorseofcourseandrabbitstoo

Dit is gewoonlik die wit onderkant wat ’n mens die duidelikste sien as die kolhaas weghardloop met sy stertjie penorent gehou. Hase kan baie vinniger as konyne hardloop en die vinnigste hardloper in die haasfamilie is die Europese bruinhaas wat ’n spoed van 70 km/h kan bereik.

Die meeste kolhase word tussen September en Februarie gebore, maar ’n kolhaas kan dwarsdeur die jaar kleintjies kry – selfs in die ergste droogteseisoen. Hulle kry tussen een en drie kleintjies op ’n slag en drielinge word net in ’n goeie reënseisoen gebore.

 

© 2024 Die/The Bronberger