Merkwaardige draai oor 19 jaar in Bronbergland geloop Print E-mail
News - Artikels
Friday, 17 September 2021 07:43
Untitled Document

Groot gedeeltes van die landelike gebied in Bronberg-wêreld is oor die 19 jaar van die Bronnie se bestaan deur die verskuiwende stadsgrens ingesluk. Ons kyk met nostalgie terug om te sien hoe ons kontrei en sy mense verander het en ons onthou weer 19 van die stories wat eie aan hierdie eiesoortige gebied is.

Atterburyweg se skape

Oupa en sy skape

Eens het daar nog skape langs Atterburyweg geloop en het Oupa, Olympus se laaste skaapwagter, hulle opgepas. In Oktober 2002 het ons berig dat mense daagliks nog dié troppie skape kon sien wei.

Oupa het gesê dat dit hom en sy skape nie pla dat die pad al hoe besiger word nie. Dié stukkie pad grens vandag aan hoë-digtheid behuisingskemas en van ongerepte veld is daar nie meer sprake nie.

Bronberg se sterrewag

Berto Monard

Berto Monard het die Bronberg wêreldberoemd gemaak vir dit wat hy “backyard star gazing” genoem het. In November 2003 het ons die eerste keer oor hom berig en daarna het ons gereeld geskryf oor Berto en die sterrewag wat hy bo-op die Bronberg gebou het. Hy het verskeie hoogaangeskrewe toekennings van astronomiese verenigings ontvang. Berto is later weg omdat die lig van al die nuwe ontwikkelings sy nagvisie belemmer het.

Harry se gat

Harry Lintveld

Bourommel is nie net deesdae ’n probleem nie. Geel Harry Lintveld het destyds opspraak verwek toe hy vyf hektaar vrugbare gelykaarde gevestig het deur sowat 500 000 kubieke meter se opvullingsmateriaal in ’n ‘gat’ te stoot. In April 2004 berig ons dat Harry en sy gat saam met Jan Potgieter en sy seun Stephan ’n vennoot by Mooiplaas Transport geword het en spesialiseer in rommelverwydering. As stortingsterrein het hulle die kleinhoewe gebruik wat deur jare se sandwerke verwoes is. Harry het die gebied later verlaat en KwaZulu Natal toe getrek.

Achilles toe al probleem

Die beplande serwituutpad in Achillesweg

Die gesukkel met Achillesweg, Zwavelpoort kom al ’n lang pad. In Julie 2005 berig ons dat Achillesweg ’n paar jaar gelede geteer is met ’n oppervlakbedekking wat nie ontwerp is om hoë volumes verkeer te hanteer nie. Zwavelpoorters wou ’n mate van beheer oor die toenemende verkeer toepas deur ’n bemande hek op dit wat hulle ’n servituutpad genoem het, op te rig. Daar het niks van gekom nie en Achillesweg is oor die jare gedeeltelik oor en oor geteer.

‘Smaailies’ kom lang pad

’n Skaapkopbraai by Faan Smuts

Dié Skaapkopbraai in Mei 2006 is op Zwavelpoort gehou in die dae toe groot geeste soos oorlede Faan Smuts, Mof Myburgh en Willem van Drimmelen deel van die Skaapkopgilde-span was wat al die ander takke in ’n nasionale Skaapkop-kompetisie in die Kaap uitgestof het. Faan, ’n Weskusser, het eens vir Rhodesië op flank gespeel. Sy deurlopende vriendskap met mede-rugbyspelers het gemaak dat ’n kuieraand by die destydse Bronberg Lodge soms soos die jaarfunksie van oud-Springbokke gelyk het.

Gemeente bou self

Die Zwavelpoortse gemeente bou self hulle Sondagskool

Waar anders as in die platteland, wat dit toe nog was, sal ’n gemeente self hulle Sondagskool en jeugsentrum bou? In Februarie 2007 berig ons dat die East View Methodist-kerk, geleë op ’n plot uit met Atterburyweg, nie net die gebou self gebou het nie, maar dat die struktuur heeltemal deur die gemeente se skenkings befonds is. Dié kerk het in 2007 gegroei tot 50 gesinne, meestal met baie jong kinders.

Puin van perdeplek

Annemarie Towsen

Annemarie Towsen van Pienaarspoort het haar perdryskool in 2001 met een reddingsgeval, Vossie, begin, berig ons in Desember 2008. Na jare se harde werk was daar 20 houtstalle, ’n groot arena met afdelings vir spring en dresseer, en ’n klubhuis met vermaaklikheidsarea. Later stig sy Angels with Hooves, wat perde-bystand sielkunde en perdeterapie vir kinderhuis-kinders doen. In Junie 2014 berig ons dat die plot wat eers aan die Towsens behoort het, in puin lê saam met menige ander Pienaarspoort-plotte. Van die stalle was niks oor nie. ’n Paar halwe bakstene was al wat van die klubhuis oorgebly het en die huis is gestroop.

Oom Hoffie se huis

Oom Hoffie

Waar is die jare toe die naaste winkel aan die Shere-kleinhoewes op Alkantrant was? In Januarie 2009 het lesers Shere se Georg Hofmann ontmoet, ’n 95- jarige wat vir sewe jaar in die Tweede Wêreldoorlog in ’n interneringskamp was, waar hy ’n viool met ’n knipmes uit ’n stuk tafel gemaak het.

Oom Hoffie het een van die eerste huise in Shere van 1960 tot 1963 met sy eie hande gebou. Shere se wêreld was oop en kaal en daar het bykans geen ander mense gebly nie.

Kerkgangers vang boewe

Gemeentelede langs die helikopter

Dis ook net op die platteland waar gemeentelede uit die kerk sal storm om motordiewe te konfronteer. In September 2010 berig ons oor die drama in die parkeerplek van Rayton se Afrikaanse Protestantse Kerk, waar drie mans besig was om ’n voertuig te steel. ’n Doodsveragtende jaagtog het gevolg, die groter gemeenskap is gemobiliseer en toegangsroetes na die N4-snelweg is geblokkeer. Die vlugtendes het die pad later letterlik byster geraak en twee van hulle is in hegtenis geneem voor hulle hospitaal toe is.

Papegaai red lewens

Quintus Koster

Quintus Koster wys waar ’n rower se koeëls die destydse Bull & Bush op Tierpoort se muur getref het. Dié rowers het mekaar raakgeskiet toe Quintus die ligte tydens die rooftog afgesit het, berig ons in Januarie 2011. Niemand kon verstaan hoekom die rowers in elk geval in die kuierplek se onbemande kantoor begin skiet het nie. By nabetragting het die plek se mense besef dat hulle papegaai, wat in die kantoor slaap, die rowers moes gegroet het, soos hy oudergewoonte met almal gedoen het.

Louise op laaste vaart

Louise Muller

In Januarie 2012 berig ons dat Louise Muller van Elandshoek as 49-jarige deel was van die SA Agulhas se laaste vaart na Antarktika. Sy het in 1986 as 24-jarige die drie-maande ekspedisie van Kaapstad na Antarktika meegemaak. Louise en haar gesin was die laaste inwoners van die kliphuis op die Bronberg, wat Arrie en Elsa Jungnickel gebou het. Ná hulle seun, Paul, se dood het hulle die grond geskenk waar die Paul Jungnickelhuis vir Gestremdes gebou is. Ná Elsa se dood het Arrie met Kosie Muller, Louise se ma, getrou en dit is hoe Louise in die kliphuis beland het en ’n aktiewe lid van die destydse Bronberg Bewaringsvereniging geword het.

Heldhaftige Giepie

Giepie Niemand

In Julie 2013 het ons vertel dat die 19-jarige Giepie (Gideon) Niemand in Rayton se wêreld as ’n held beskou word. Giepie het die diefstal van sy ouers se bakkie gefnuik deur agter op die bak van die bewegende voertuig te spring en het die boef deur die kajuit se oopskuifruit met die vuiste bygedam.

Die boef het beheer oor die Nissan 1400 verloor, ’n stopteken platgejaag en met die bakkie deur ’n betonmuur gebars. Giepie is in die proses van die bakkie afgeslinger en het ernstige hoofbeserings opgedoen. Ná ’n week in die hospitaal was hy terug by die huis.

Verrassing-troue

Lucy en Juba Joubert

Al ooit gehoor van ’n verrassing-troue waar die bruid nie van die seremonie weet nie? In Junie 2014 berig ons dat die Tierpoort Seniors so ’n verrassing gereël het vir Lucy, ’n nooi Rayment, en Johannes ‘Juba’ Joubert, wat eintlik al 14 jaar getroud was, maar nooit ’n behoorlike seremonie gehad het nie.

Die papierwerk van hulle eerste troue het boonop verlore geraak. Die seniors het vir Lucy gesê dat sy as model vir volwasse bruidsuitrustings moet optree vir ’n fotosessie waar die seniors ‘ekstras’ sou wees as deel van ’n pret-uitstappie.

Afkopvrou is stom getuie

Die beeldhouwerk

In Oktober 2015 berig ons dat Cullinan se afkopvrou ’n stom getuie van geweld is. Beeldhouer Ronel Coetzee het dié beeldhouwerk, getiteld ‘Transformation’, op ’n openbare terrein in Cullinan opgerig, maar gou is die een arm van die vrouefiguur deur vandale afgebreek. Ronel het die beeld herstel, maar kort voor lank is die arm weer gebreek en een nag is haar kop afgekap. So het die beeld se boodskap ook ’n transformasie ondergaan: In haar gebrokenheid het sy ’n sterk stelling gemaak oor die sosiale kultuur waarin sy haar bevind.

Dooiemans-loop

Dooiemans-loop na hom vernoem

Dooiemans-loop is die naam van ’n klein spruitjie in Faerie Glen en in November 2016 berig ons dat die rede vir dié spruit se naam op ’n grafsteen in die ou Kerkstraat-wes begraafplaas staan: James William Macintosh het in 1886 in die Strydomspruit verdrink. Dooiemans-loop is ’n syvertakking van die Tweefonteinspruit, wat op die plaas Tweefontein in die hedendaagse Olympus en Shere ontstaan.

Tweefonteinspruit sluit ’n entjie verder aan by die Moreletaspruit, wat toentertyd daar as Strydomspruit bekend was.

Ná 10 jaar herenig

Liza de Bruyn en Dream

Liza du Bruyn van Grootfontein-landgoed het vir ’n dekade lank na haar verlore perd, Dream, gesoek. In die proses het sy deeglik kennis gemaak met die donker kant van die perdebedryf, berig ons in Augustus 2017. Liza was maar net 16 jaar oud toe sy Dream as ’n eenjarige vul met haar spaargeld gekoop het en knap ’n jaar later verloor het. Dream is van eienaar tot eienaar deur die land gestuur: Van Mafikeng tot Potchefstroom, Vereeniging, Thabazimbi en uiteindelik het hy tuisgekom op Grootfontein in die Bronberg-gebied.

Oudste gesteentes

Professor Adam Bumby spreek mense op die Bronberg toe

Die Bronberg-gebied mag dalk baie oor die afgelope 19 jaar verander het, maar die oudste gesteentes ter wêreld kan steeds hier gesien word. In Oktober 2018 berig ons oor professor Adam Bumby se geologiestappies in die Faerie Glen Natuurreservaat, waardeur die Bronberg loop. Hy het vertel dat die heel eerste aardkors, die Kaapvaal-kraton, Gauteng rofweg as middelpunt gehad het. Dit het later verder uitgebrei en het as Gondwana bekend gestaan. Die reservaat se oudste gesteentes van 2.3 biljoen jaar lê langs die Moreletaspruit naby die voëlskuiling ontbloot.

Rondom die wêreld

Die teddiebeer op Cullinan-stasie

In April 2019 vertel ons dat ’n teddiebeer, wat deur ’n graad twee klas in Swede om die wêreld gestuur is, ’n draai in Cullinan gemaak het. Die kinders het dié beertjie, genaamd Coca-cola, in September 2018 met instruksies om sy nek die wye wêreld ingestuur as ’n klasprojek wat moes bepaal hoe ver hy sou toer. Jenny Lindén van die onderwysdepartement van Mjölby-munisipaliteit in Swede het aan Die Bronberger vertel dat die beertjie se wêreldtoer afgeskop het toe hy by ’n vulstasie in Mantorp neergesit is.

Legendariese kuiers

’n Legendariese kuier by die destydse Nikos

In Augustus 2020 berig ons dat Nico Breytenbach van Boschkop na ’n lang siekbed oorlede is. Hy en sy vrou, Lynette, was vir dekades in die Bronberggebied doenig. Saam was hulle ’n gedugte span en het ’n wye verskeidenheid ondernemings bedryf, waarvan die bekendste die legendariese Nikos Restourant in die destydse Zwavelpoort-sentrum was. Baie jare ná dié kuierplek weens omstandighede gedwing is om toe te maak, het mense met nostalgie oor die plek gepraat en vertel vandag nog hoe hulle na die saamkuier en vriendelike gashere terug verlang.

 

© 2024 Die/The Bronberger