Wees-wolfie van ’n ander aard maak haar merk Print E-mail
News - Artikels
Friday, 20 August 2021 10:34
Untitled Document

Maple is die naam van ’n klein aardwolfie wat diep in haar versorgers se harte ingekruip het. Haar verhaal is een wat mense aangryp en hopelik ook meer blootstelling sal gee aan die feit dat ’n aardwolf, weens ’n swak gebit, nie ’n bedreiging vir ander soogdiere inhou nie.

Daar is genadiglik nog volop aardwolwe in die Bronberg-gebied oor, al is daar vroeër jare geglo dat dié dier, wat ook maanhaarjakkals genoem is, doodgemaak moet word omdat hulle skaaplammertjies vang.


Maple loer uit haar mandjie op 29 Oktober verlede jaar
Foto’s: Johannesburgse Wildlife-dierehospitaal

Aardwolwe vreet hoofsaaklik termiete en miere, maar kan ook ander klein insekte, voëleiers en soms grondvoëltjies vreet. Toe Maple net gevind is, het haar versorgers vir haar melk gevoer en later het sy sommer dadelik van krieke gehou, maar was aanvanklik taamlik versigtig vir die wurms in haar bakkie.

Maple se storie begin toe sy laat verlede jaar deur ’n Skotse skaaphond in Noordwes opgespoor is. Aardwolwe is naglopers en die plaaseienaar het drie nagte lank vergeefs na dié aardwolfie se ma gesoek. Hy het die Johannesburgse Wildlife-dierehospitaal in Midrand se hulp ingeroep en Maple was gedehidreer en ondergewig toe sy daar aanland.


Maple word in Desember verlede jaar geleer hoe om self kos te soek

Hospitaal
Dit is by dié hospitaal, waar sy Maple gedoop is en die mense aanvanklik net probeer het om haar deur die eerste paar dae te trek. Sy het begin gewig optel en het later floreer. Lauren Beckley van dié hospitaal sê dat hulle Maple teen Desember verlede jaar na ’n omheinde gebied buite verhuis het en haar daar begin leer het hoe om in die natuur te oorleef.

Terloops, dié dierehospitaal is ook die een met die regte kennis om ’n ietermagog te behandel en dit is juis na hulle wat die diere wat in teen-stroop veldtogte in ons gebied gevind is, geneem word. ’n Ietermagog gaan egter nie op die perseel in Midrand tuis nie – vir hulle eie veiligheid en dié van hulle versorgers, word hulle elders geherberg.


’n Piepklein Maple begin soos ’n aardwolf lyk

’n Video van Maple se verhaal is deur The Dodo, ’n mediaplatform wat diereverhale in beeld vertel, gemaak en is op 19 Julie op die dierehospitaal se Facebookblad geplaas. Dit is binne die eerste twee dae 2,7 miljoen keer gekyk.

Dié video is ’n regte tranetrekker met Maple wat vir oulaas oor haar skouer na haar versorger terug loer en toe pad vat die wildernis in. Dit wys hoe Maple van baba-dae af versorg is en jy hoor duidelik hoe die versorger sê dat Maple se plekkie nou leeg is. Tog, sê Lauren, is die hospitaal se einddoel altyd om wilde diere te rehabiliteer sodat hulle vrygelaat kan word.


Maple in die natuur

Termiete
Maple se nuwe, onvermelde blyplek, wemel van termiete. Aardwolwe se gunsteling is die Trinervitermes-genus en hulle kan tot 300 000 termiete in ’n nag verorber. Hulle laat skynbaar altyd ’n gedeelte van die termietkolonie oor, sodat hulle later weer van daardie miershoop gebruik kan maak.

Die Trinervitermes-termiete is veral snags bedrywig en daarom is aardwolwe in die somer naglewend. In die winter begin hulle van laatmiddag af rondloop, omdat die Hodotermes-termietgroep dan aktief raak. Aardwolwe soek termiete met die hulp van reuk en klank en lek hulle dan met ’n klewerige tong op.

Die geweldige hoeveelheid termiete wat ingeneem word, kom glo redelik gou weer uit. Die kenners sê dat tot 10% van die dier se liggaamsmassa op ’n slag uitgeskei kan word en die mis bestaan hoofsaaklik uit termietkoppe en grond.


Maple in Januarie vanjaar

Mishoop
Hulle gebruik daagliks dieselfde mishoop, waar fekale reste in die grond begrawe word. As jy wil weet of daar ’n aardwolf naby jou woon, kan jy na kaal kolle in die veld met ’n spesifieke reuk gaan soek. Die mishope het ’n bloekomboom- of denneboomnaald-geur, weens die chemikalieë wat die termiete as ’n verdedigingsmeganisme uitskei.

Aardwolwe skuil meestal in gate wat deur erdvarke of springhase gemaak is. Die geslagte is dieselfde grootte: 91 cm lank met ’n stert van 23 cm. Die skouerhoogte is 50 cm en hulle kan tussen 7.5 en 10 kg weeg.

Aardwolfpare bly gewoonlik lewenslank bymekaar. Die wyfie is vir 90 dae dragtig en twee tot vyf welpies word gebore. Hulle bly verskuil tot hulle drie weke oud is en bly naby die gate tot op drie maande. Daarna leer hulle vir nog ’n maand saam met hulle ouers vreet en deel hulle ouers se gebied tot op eenjarige ouderdom.

 

© 2024 Die/The Bronberger