Olympus se luiperd trek ooswaarts op Bronberg Print E-mail
News - Artikels
Friday, 21 May 2021 03:21
Untitled Document

Is Olympus se luiperd nou op Klipkop? Johan Pretorius van Stillbosch-natuurgebied het berig dat ’n luiperd vroeg in Mei en weer die nag van 13 Mei rooibokke daar gevang het. Dit volg ná die aankondiging dat Hedianga-plaas in Olympus se luiperd skynbaar in ’n oostelike rigting verdwyn het.

Hedianga is op plot 85, Achillesweg en is ’n plek wat draf- en staproetes op die Bronbergrif bied aan diegene wat met of sonder hulle honde wil gaan loop, draf of met bergfietse wil ry.

In ‘Olympus se luiperd het hondestappers op hol’ het ons berig dat Hedianga-plaas op 23 Februarie gesluit is ná stappers helder oordag ’n luiperd gesien het. Eienaar, Gabriel Meyer Falkson, het gesê dat twee stappers gesien het hoe die luiperd die wandelpad waarop hulle geloop het, oorsteek.

Daar was ’n beperkte heropening van wandelroetes in Maart, toe mense slegs toegang tot ’n gebied naby aan die ingang uit Achillesweg gehad het. Gabriel verduidelik dat dit gevolg het ná sy personeel oor sewe dae se daaglikse ondersoeke geen luiperdspore op die eiendom kon kry nie, behalwe aan die oostekant waar die luiperd Hedianga skynbaar verlaat het en verder oos met die Bronberg langs beweeg het.


Hedianga se draf- en staproetes is weer oopgestel
Foto: Hedianga – Facebook

Gabriel vertel dat kontrakteurs van Rand Water in Maart ’n nuwe pyplyn aan die plaas se westekant begin lê het. Hy sê dat hulle toerusting geweldige geraas gemaak het en dat ’n konsultant aangedui het dat die teenwoordigheid van dié groot groep mense en die geraas wat hulle maak, die luiperd waarskynlik van die plaas af verjaag het.

Sedertdien patrolleer Hedianga se personeel die plaas en soek daagliks na vars spore. Die plaas is ongeveer 100 hektaar van oos na wes.

Gabriel sê dat hy baie feite oor luiperds geleer het danksy konsultasie met spesialiste. Hy het geleer dat daar baie luiperds in die bergreekse rondom Pretoria woon en dat hulle interaksie met mense vermy. Oor die jare was daar maar min direkte konflik tussen mense en dié sku diere.

Dit is op grond van dié inligting wat Gabriel besluit het om die 15 hektaar naaste aan die pad eerste oop te maak sodat besoekers (met streng Covid-19 regulasies) naby aan mekaar kon wees. Die plan was dat die hoë konsentrasie mense die sku luiperd sal afskrik, sou hy nog daar gewees het.

Ná dit begin lyk het of dié plan gewerk het, is die res van die roetes in April weer oopgemaak. Daar word aanbeveel dat mense in groepe stap en die roetes voor skemer klaarmaak en dat honde, wat nie goed gedissiplineerd is nie, aan leibande moet bly.

 

© 2024 Die/The Bronberger