Beloning vir inligting oor troetelpou se dood Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 14 November 2020 08:27
Untitled Document

Jaque du Plessis bied ‘n beloning van R3 000 vir inligting oor die dood van sy troetelpou, Whitey. Hy het op 28 Oktober wakker geword met die nuus dat Whitey ‘n paar huise van hom af in Vistarylaan, Faerie Glen doodgeskiet is.

Jaque vertel dat almal in die straat sy pou geken het en dat die pou gereeld in bure se boom oornag het. Hy vermoed dat iemand, wat nie van die pou se roep gehou het nie, hom geskiet het. Poue maak die roepgeluid vir ‘n ruk in die broeiseisoen. In die verlede het mense op die gemeenskap se WhatsApp-groep gekla as die roep hulle pla en dan het Jacque sy pou gaan haal.

Jaque het Whitey ‘n paar jaar gelede as ‘n kuiken gekoop. Hy het intussen sy ander mannetjiespou, Patric, elders hervestig omdat hy bang is iemand skiet hom ook dalk dood.


Jaque saam met sy troetelpou in gelukkiger tye
Foto: Facebook

Deel van die beloning vir inligting oor die voorval word voorsien deur die nabygeleë Rock@88-restourant en Coskey Bestuurskool, want Whitey was baie geliefd in die gebied.

‘n Private speurder, Rowan Pringle, doen ondersoek en het begin deur beeldmateriaal op bure se CCTV-kamera te bestudeer.

Teen die Bronnie se saktyd was die skuldige nog op vrye voet. Bel Rowan by 082-609-0141. Bel Jaque by 060-526-8815.

 

© 2024 Die/The Bronberger