Lesers praat oor ‘nuwe’ Bronnie op sy 18e verjaardag Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 19 September 2020 07:16
Untitled Document

Met die oog op die Bronnie se 18e verjaardag dié September, het ons ‘n aantal lesers genader om die een en die ander oor hulle mening en ervaring van Die Bronberger met ons te deel. Ons wou onder meer weet hoe lank hulle al die tydskrif lees, wat hulle in die Bronnie geniet en wat hulle graag daarin sou wou sien. Lesers is ook oor advertensies in die Bronnie gevra. Ons wou verder bepaald weet wat hulle van die nuwe elektroniese uitgawe, wat nou wyd saam met die gedrukte Bronnie beskikbaar is, dink.  

Gideon van Zyl van die Bronberg Bewarea sê hy is nie seker presies hoe lank hy met die Bronnie bekend is nie, maar hy glo dis die meeste van die tyd van die eerste uitgawe 18 jaar gelede af.

Hulle woon die afgelope 35 jaar in dié gebied, wat vir ’n aantal jare bekend staan as ‘Bronberg Bewarea’, geleë tussen Garstfontein- en Grahamweg.

Gideon het die Bronnie ‘n paar keer elektronies gelees, maar hy verkies die gedrukte uitgawe.
Hy geniet die hele Bronnie, maar lees graag oor gebeure wat in die ooste afspeel.

“Iets wat ek nogal sal wil hê is dat daar oorweeg word om ’n beperkte ruimte toe te ken vir die plasing van gratis kort advertensies. ’n Mens het van tyd tot tyd iets waardevols wat in onbruik raak en ’n paar Rand kan verdien. Ek volg wel advertensies in die Bronnie,” sê Gideon.

Hy verkies om nie ’n “foto van my beskikbaar te stel nie, want ek vrees dat dit belangstelling in die Bronnie sal knou”.

Erhard Krüger van Bronkhorstspruit sê hy geniet die tydskrif vir ’n hele aantal jare al. Volgens Erhard is die elektroniese weergawe in vandag se tyd die antwoord.


Erhard Krüger

Hy hou van die omgewingsgeskiedenis, omgewingsontwikkeling, advertensies oor ondernemings in en om die omgewing en ja, “ek het al van die advertensies nuttig gevind en die inligting gebruik”.

Alida de Kock van Die Tuine ken Die Bronberger van 2006 af toe hulle in Zwavelpoort gewoon het. Sy bly nou in Pretoria Tuine.

“Ek lees die Bronnie elke maand en ja, deesdae geniet ek die elektroniese Bronnie so baie. Dit lees baie maklik. Dis lekker dat ek dit kan vergroot op my tablet want my oë is maar swak. Ek kry die elektroniese weergawe nou per e-pos en ek verkies dit so, want ek woon nie meer in die Bronnie se verspreidingsgebied nie,” sê Alida.

Alida meen die elektroniese Bronnie se uitleg is baie goed en dit lyk nog steeds net so professioneel soos die gedrukte Bronnie en steeds ewe interessant en van toepassing wat op die tydstip aan die gang is in – veral in die omgewing en in die Bronberg-gebied.


Alida de Kock

Die artikels wat oor geskiedenis gaan is volgens haar baie interessant. Sy waardeer ook die inligting oor dit wat met mense in die gebied aangaan. “Gert Mossie is vir my altyd snaaks; ek hou baie daarvan.”

Die artikels oor die diere of voëls van die omgewing en die laaste rubriek in Engels (The final word) vind sy ook baie insiggewend.

Alida stel voor dat van die meesterkokke in die omgewing gevra word om van hulle resepte te plaas. Sy stel baie in resepte belang.

Alida sê sy volg die advertensies in die Bronnie deeglik. Dis maklik sigbaar (veral die groteres, natuurlik) en meestal baie professioneel uiteengesit.
                                  
Nico Oosthuizen van Boschkop ken Die Bronberger van die heel eerste uitgawe af en sy vrou, Magda, lees die Bronnie sedert sy op Boschkop begin woon het.

Volgens Magda het hulle die afgelope maande die Bronnie elektronies per e-pos ontvang en geniet hulle dié manier van Bronnie-lees geweldig. Dit het ook die voordeel dat jy nie vir jou uitgawe hoef te gaan soek nie, en teleurgesteld moet wees as almal reeds opgeraap is nie.


Nico en Magda Oosthuizen

Die Oosthuizens verkies altwee die elektroniese weergawe, maar het ook ‘n sagte plekkie vir die gedrukte Bronnie.

Magda sê sy geniet die hele tydskrif. Sy hou veral van ou Vreethans se stories en mis dit nogal as hy nie saam met Metgesel gaan uiteet nie.

Nico geniet veral die artikels oor die geskiedenis van die gebied en ‘The final word’.

Die egpaar lees elke advertensie en ondersteun die Bronnie se adverteerders as hulle iets toepasliks nodig het.

Louisa Pretorius van Mooiplaats ken Die Bronberger al vir baie jare en woon al vir bykans 52 jaar op Mooiplaats. Volgens Louisa was sy in die verlede maar al te bly as sy iewers by een van die verspreidingspunte ‘n Bronnie raakloop. Dikwels het dit gebeur dat al die tydskrifte reeds geneem is, as sy een soek. Met die aanlyn weergawe lees sy dit nou gereeld en “geniet elke stukkie daarvan”.

Sy verkies die elektroniese tydskrif ook bo die gedrukte weergawe omdat die versoeking van “onnodige opgaar” vermy word.


Louisa Pretorius

Sy geniet die geskiedenis en leersame gedeeltes baie en hou ook daarvan om kennis te neem van nuusbrokkies oor gebeurtenisse in die omgewing.

Advertensies is deel van die lewe en die Bronnie se advertensies maak dit soms makliker indien jy dringend na iets soek. Sy probeer dus om plaaslik te ondersteun waar sy kan, sê Louisa.

Gertie Stofberg sê dit voel vir haar of sy die Bronnie al vreeslik lank ken. Toe sy nog in Wapadrand gewerk het, het Tania die Bronnie by die spreekkamer gaan aflewer. Dit was in die jaar van 2002. “My maggies, dit is wraggies 18 jaar!”

Sy het die Bronnie in die laaste vyf maande elektronies beleef en was baie dankbaar, sê Gertie. “Ek het die e-Bronnie baie geniet en dink dit is ’n puik gedagte, maar persoonlik verkies ek die gedrukte weergawe. Dis eintlik moeilik om te sê, want dit is so gemaklik om die e-Bronnie te lees so tussen werk deur.”


Gertie Stofberg

As die gedrukte Bronnie nie beskikbaar is nie, sal sy verkies om dit per e-pos eerder as met WhatsApp te ontvang.  

“Dis moeilik om te sê waarvan ek die meeste hou, maar ek noem dat ek eerste die briewe lees en dan blaai ek na ‘Het jy gehoor?’. Die hele inhoud van die Bronnie is van top gehalte en baie insiggewend. 

“‘Deur die lens van ons lesers’ is natuurlik ’n treffer, en ek het myself belowe dat ek meer hier betrokke gaan wees. Ek sou baie graag ’n afdeling wou sien met ‘resepte, ens’.

Vreethans,  aktueel  en dieresake  is ook van my gunstelinge.”

“Ek lees die Bronnie van voor tot agter en geniet elke artikel. Julle skryfstyl is baie goed, en die artikels lees maklik.”

“Die advertensies in die Bronnie is van groot hulp en ons ondersteun graag die adverteerders waar en indien moontlik.”

“Dankie aan die bekwame span om hierdie prag tydskrif aan ons te kan bied. Die papier is natuurlik van baie goeie gehalte en van my oudste Bronnies wat ek nog het is steeds in ’n goeie toestand,” sê Gertie.

Thea Nigrini van die Tina Skukan gallery in Faerie Glen sê ná 18 jaar besit sy nog al die eksemplare van elke uitgawe in haar Bronnie-argiewe.

“Kosbare leesstof vir iemand soos ek wat al 55 jaar op dieselfde kleinhoewe woon.”

“Die inhoud van die Bronnie dek alles wat ek wil weet in een tydskrif. Kontreinuus, SA geskiedenis, bereidwillige veearts wat ons honneprobleme bespreek, fotografie, lekker eetplekke wat in die mooiste Afrikaans beskryf word . . . eintlik kan ek net noem dat Die Bronberger alles dek wat van ’n tydskrif wat sy sout werd is, verlang word, en dit op glanspapier!”


Thea Nigrini

Thea sê ook die advertensies is baie funksioneel.

“Nee kyk, geen elektroniese uitgawes vir my nie; dis hougoed vir weer lees en naslaan.

As daar ‘n maandelikse fooi vir die huidige gratis Bronnie gehef word, sal ek dit vir die kosbare blad met vreugde betaal. Mooiste verjaarsdagwense, Bronnie!”

Nadine Bennet van Tierpoort sê sy ken die Bronnie al vir jare en jare. “Jy kan maar sê ek het grootgeword met hom.” Haar ouma het die hoewe waarop Nadine woon meer as 50 jaar gelede gekoop.

Nadine is nou 28 en bedryf ‘n perdryskool op die plot.

Haar ouma het die Bronnie altyd gelees en was altyd heel opgewonde as sy van Nadine se foto’s daarin sien.


Nadine Bennet by een van haar perde

Nadine het die elektroniese weergawes gesien en gelees maar sy geniet die gedrukte Bronnie meer.

Dis baie lekkerder om hom vas te hou en te lees, veral hier waar ‘n mens dikwels vir internet-konneksies moet wag.

Sy sal eerder die Bronnie op WhatsApp lees indien die gedrukte een nie beskikbaar is nie.

Sy geniet die stories oor die ouer garde wat in die kontrei gebly het. Sy lees ook graag enigiets oor diere en oor die sukses van kinders en mense van ons gebied.

Ons het al van die advertensies gebruik gemaak en kyk altyd in die Bronnie se advertensies en of daar iets is wat ons dalk in die toekoms kan gebruik.

Die Bronnie is regtig ’n besondere tydskrif en die regte ding om te leer van die geskiedenis van die gebied, die omgewing en die mense, sê Nadine.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger September 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2024 Die/The Bronberger