Dapper prof help ietermagog-stropers vastrek Print E-mail
News - Artikels
Friday, 14 August 2020 09:58
Untitled Document

Ietermagog-stropers is op 30 Julie in hegtenis geneem ná hulle in ‘n lokval gelei is deur prof Ray Jansen, grondeienaar van Kaalfontein, naby Du Plooy Melkery.

Ray, ‘n professor aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, is die voorsitter van die nie-winsgewende organisasie, Afrika Ietermagog Werkgroep. Hy het ’n gewaagde intelligensie-gebaseerde operasie uitgevoer met die hulp van Cullinan SAPD Veediefstal en Bedreigde Spesies-eenheid met ondersteuning van die SAPD Gautengse K9 eenheid, die Bronkhorstspruitse SAPD K9 eenheid en GDARD se Groen Skerpioene.


Die ietermagog in die kattebak
Foto: Prof Ray Jansen

Ray het gemaak of hy ‘n Temmincks ietermagog wil koop en het gereël om die verdagtes by die Rose Shell Garage langs die N4-Oos snelweg te ontmoet.

Hy vertel dat die taakspan om 11 vm by die Jan Ellis Total-vulstasie op die hoek van die Ou Bronkhorstspruitpad en Cullinan/Rayton-pad vergader het om die operasie te beplan voor hulle na die Rose vulstasie vertrek het.


Ná die ietermagog gered is
Foto: Prof Ray Jansen

Die SAPD se taakspan het omstreeks 11:45 by die ontmoetingsplek ingetrek en Ray het 12 uur daar aangekom.

‘n Halfuur later was die verdagtes daar en Ray het een van hulle ontmoet. Ná hulle oor ’n verkoopprys ooreengekom het, het hy vir Ray die ietermagog in die kattebak van sy motor gewys. Dit was ’n groot volwasse mannetjie wat uit sy gebied in die bosveld gestroop is.


Die stropers is in hegtenis geneem
Foto: Prof Ray Jansen

“Ek het die sein gegee en die taakspan het op die toneel ‘ontplof’ soos hulle inbeweeg het,” vertel Ray. Vier verdagtes is in hegtenis geneem – een Suid-Afrikaanse burger, ’n Kongolese- en twee Malawiese burgers. Die verdagtes is by die Bronkhorstspruit-polisiestasie aangekla vir die besit van ’n bedreigde en beskermde spesie sonder ‘n permit.

Teen Die Bronberger se saktyd was die ietermagog onder veeartssorg en sal binnekort sy rehabilitasie begin voor hy op ‘n geskikte bosveldplaas vrygelaat word.


Die ietermagog
Foto: Gareth Thomas

Verlede jaar Oktober het ons berig dat die stroop van dié diere in 2019 met 75% persent toegeneem het, wat meer is as die stroop van renosters. Ietermagôe is meer bedreig as renosters en kan binne die volgende vier jaar uitsterf as die stropery so aanhou.

Daar is ‘n oorweldigende groot mark vir ietermagog-skubbe in Asië, veral in Sjina, omdat hulle glo dat dit medisinale waarde het.


Prof Ray Jansen
Foto: Verskaf

Ray sê dat ‘n ietermagog nie langer as twee weke sal lewe ná hy gevang is nie. Stropers probeer om vir dié diertjies rys en brood te voer, maar hulle het nie ‘n bewegende kakebeen nie en het geen tande nie. Hulle vreet net miere, maar sal nie dooie miere of kos wat hulle nie self gevind het, vreet nie.

As jy inligting oor stropers het, besoek www.africanpangolin.org of kontak prof Ray: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of 082-555-1016.

 


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Augustus 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2024 Die/The Bronberger