Rhenosterfontein-ruitertjie wen uithourit Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 26 August 2014 08:42
Untitled Document

Andriëtte Jacobs van die Rhenosterfontein Landgoed naby Rayton het die junior-afdeling by die nasionale kampioenskappe van die Uithourit-vereniging van Suid-Afrika gewen.

Die 16-jarige Andriëtte en haar perd, Sleipner Lina, het dié kampioenskappe, wat in Julie op Fauresmith gehou is, met ‘n tyd van agt ure en 14 minute, met ‘n gemiddelde spoed van 24,38 km, klaargemaak. 

Sy het ook in spanverband vir die Gautengse span deelgeneem. Met haar oorwinning het sy haar permanente Springboknommer, wat as erekleure deur die vereniging uitgegee word, verwerf.


Andriëtte Jacobs en Sleipner Lina op die uithourit

Andriëtte is ’n tuisskoolleerling en sy ry al die laaste nege jaar perd. Sy het haar eerste lesse by Martie van Dit-Sit Ryskool naby Rayton gehad. Latere afronding van haar ruitertegniek is deur Annemarie Ankiewicz by die Donkerhoek Ryskool gedoen.

Andriëtte se perd, Sleipner Lina, is aanvanklik aan haar geleen deur haar oom, Johan Niewoudt van Schweizer-Reinecke. Lina is ná drie ritte op die uithouritbaan terug beesplaas toe, omdat sy nie na wense presteer het met die ritte nie. 

Lina het vir 18 maande hard op die beesplaas in die Vryburg-omgewing gewerk. Intussen het Andriëtte se perd, Karima, verlede jaar by Fauresmith seergekry en sy kon nie aan die rit deelneem nie.

Karima moes vir ses maande staan en toe Andriëtte haar in Januarie wou begin oefen, was sy steeds nie reg nie. Dit is toe dat oom Johan Lina weer vir Andriëtte leen. Lina is die Donderdag op Schweizer-Reinecke gaan haal en is die Vrydag na die Onderstepoort-rit, wat haar eerste rit in langer as twee jaar was, geneem. Lina en Andriëtte het die volgende drie kwalifiserende ritte vir Fauresmith gewen.


Andriëtte en Lina nader die eindpunt

Ná haar oorwinning het Andriëtte se oom gesê dat Lina nou amptelik aan haar behoort.

Andriëtte en haar sussie, Magdeleen, wat die Fauresmith-rit ook suksesvol voltooi het, wil dankie sê aan al die grondeienaars wat so geredelik toelaat dat daar op hulle gronde geoefen mag word. Hulle bedank die du Plooys van Du Plooy Melkery, Wayne Cole, Kobus Botha en Hendrik Verwoerd, om net ‘n paar te noem.

Andriëtte sê ook spesiaal dankie aan haar broer, Armand, en nefie, Drian, wat haar bygestaan het met die versorging van haar perd.

 

© 2024 Die/The Bronberger