Jou kans om veldkatte teen plae in te span Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 29 July 2014 09:05
Untitled Document

Hoewebewoners in die Bronberg-gebied word versoek om hulle oor veldkatte (feral) te ontferm. Veral diegene wat stalle, store of buitegeboue het waar muise en rotte skade aanrig, kan baat vind by ‘n paar ‘reggemaakte’ kat-wagters.

Dié versoek word gerig deur ‘n groep vrywilligers wat in die omgewing woon en werk en wat hulle op 'n ongeorganiseerde, onbefondste en heeltemal private manier oor die katte ontferm.

Hulle sê dat die term “wilde kat” nie beskrywend genoeg is om dié katte te karakteriseer nie. Dit laat ‘n mens onwillekeurig aan die een of ander wilde Afrika-gedierte dink en dit is nie waarmee ons hier te doen het nie. Dié is gewone huiskatte wat wild geword het en kat-kolonies vorm omdat mense nie hulle huiskatte laat steriliseer nie. Die katte het weggeraak of is weggegooi, het vir hulleself begin sorg, aangeteel en sonder menslike kontak uiteindelik heeltemal wild geword.


Dié katte kan nie as troeteldiere aangeneem word nie, maar sal jou stalle en store rotvry hou
Foto: Theresa Odendaal

Soms is die katte gelukkig genoeg dat mense 'n groep of welsynsorganisasie kontak om die katte te verwyder. Maar waarheen dan met hulle? Die welsynsorganisasies bars uit hulle nate en sonder behoorlike befondsing, kan hulle nie voorbly nie. Hulle kan nie permanente inwoners inneem nie en dié katte is wild, en kan nie as troeteldiere aangeneem word nie.

Die katte hou geen gevare vir mense in nie. Mense kan geen siektes van katte kry nie, behalwe vir omlope en allergieë, en vir beide moet ‘n mens in nabye kontak met die katte wees. Die katte is gewoonlik bang vir mense, kruip weg en vermy enige kontak, so die kans om so iets op te doen is uiters skraal. Dit beteken ook dat byte en krappe byna onmoontlik is, tensy iemand sou probeer om die katte te vang.

Rotte en muise kan egter allerhande siektes aan mense oordra; dink maar net aan builepes, salmonella, en lintwurm. Rotte sal deur omtrent enige ding kou, insluitende elektriese bedrading in geboue en voertuie en kan ongelooflike skade aanrig. Dus kan hierdie katte mense van diens wees deur hulle omgewing rotvry te hou.

As jy op 'n plot of plaas woon, kan jy blyplek aan dié katte bied. Nie as troeteldiere nie, maar om as wilde katte jou stalle, skure en buitegeboue rotvry te hou. Die katte sal vooraf gesteriliseer en ingeënt word. Indien jy hulp kan verleen, bel vir Engela James by 083-468-3143.  

 

 

© 2024 Die/The Bronberger