Onkunde veroorsaak heining-nagmerrie Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 23 April 2014 00:08
Untitled Document

“Goeie heinings maak goeie bure”. ‘n Bronbergse gesin wie se rustige plotlewe deur ‘n omheining-nagmerrie in sy peetjie gestuur is, vertel hier in hulle eie woorde wat gebeur het. Die gesin verkies om anoniem te bly en ook nie eers te noem in watter hoewegebied hulle woon nie.

Ons woon in ‘n gesellige plotgebied waar mede-plotbewoners ‘n oog oor mekaar se wel en weë hou. Al stem ons nie altyd saam oor alles nie, help ons mekaar as daar probleme is, maak saam voorbrande en kuier soms by mekaar.

Helaas is dié gebalanseerde vrede deur nuwe intrekkers versteur, veral toe hulle met ‘n hoë lugdruk windbuks in die rigting van ons huis, waar ons in die tuin gesit en braai het, geskiet het.

Dinge het vererger toe hulle ‘n paar maande gelede ‘n elektriese omheining tussen ons begin oprig het. Ons sou geen probleem met so ‘n heining aan hulle kant gehad het nie, maar tot ons groot skok het hulle sonder ons toestemming met 'n stootskraper op ons grond die gemeenskaplike grensdraad platgestoot en ons gepakte klipmuurtjie in ons ses meter breë brandgang platskraap.


Van ‘n netjies gepakte klipmuur na platgeskraapte gemors in die brandgang
.

Só het die klipmuurtjie gelyk
.
.
.

Die grens loop waar die houtpale staan. Regs is die ysterpale wat onwettig op ons grond geplant was

Ons het 20 jaar met los klippe wat orals rondgelê het, aan dié muurtjie gebou en dit was  'n baie suksesvolle ekstra maatreël om die verspreiding van veldbrande te keer.

Die Kareebome en “Bottle brush” struike wat vir die byekorwe daar was kan helaas nie maklik vervang word nie. Die grond is nou versteur en die onkruid en gras gaan geil opkom.

Ons was natuurlik baie onsteld hieroor, ook omdat ons nou nie meer met die snyer agter die trekker ons brandgang se gras kort kan sny voor ons die voorbrand vir die wettig verpligte brandgang maak nie. Die klippe gaan die lemme baie gou afskryf. 

Die kontrakteur van die elektriese omheining het nie 'n idee gehad waar die grens moes kom nie. Ons het verskeie kere die hoekpale aangedui, maar dan plant hulle die omheiningpale in 'n skewe lyn dieper op ons grond. 

Onvermydelik ontstaan daar toe 'n groot onenigheid. Die kontrakteur wil die werk klaar maak en kan nie verstaan dat ons ongelukkig is dat daar 'n stuk van ons grond afgesny word nie. Die buurman kan nie verstaan waaroor die bohaai gaan nie, want volgens hom betaal hy dan vir die omheining en moet ons dankbaar wees. En ons kan nie verstaan dat mense opsetlik soveel skade aan iemand anders se grond kan aanrig nie. 


Die skraper aan die werk

Struike en bome is platgeskraap

Ons eis toe dat daar weer ‘n gewone draad op die gemeenskaplike grens moet kom en dat die oorspronklike orde aan ons kant van die draad in 'n mate herstel moet word. 

‘n Opmeetkonsultant het uitgekom om die regte grens te bevestig en die Suid-Afrikaanse Elektriese Heining-installerders Vereniging (SAEHIV) het die buurman ingelig dat hy volgens wet verplig is om skriftelik toestemming van sy buurman te verkry indien hy 'n elektriese omheining op die gemeenskaplike grens wil oprig.  

Daar was geen toestemming nie en hy moes sy elektriese omheining 20 cm vanaf die gemeenskaplike grens verskuif. Daar moes 'n afskortingsheining op die gemeenskaplike grens opgerig word. 

Hy het die oorspronklike grensdraad sonder toestemming verwyder en moes dit op sy eie onkoste vervang. Daar is ook vasgestel dat die kontrakteur nie by SAEHIV geregistreer is nie.

Die elektriese en gewone omheining is reeds opgerig, maar hulle het nog nie die klippe teruggepak of die brandgang weer snybaar gemaak nie.

Ons sou geen probleem met die elektriese omheining gehad het as dit aan die bure se kant van die oorspronklike heining opgerig was nie. Onwettige betreding en saakbeskadiging, tesame met onkunde van die wet, het baie onnodige probleme veroorsaak.

SAEHIV het onderneem om in ‘n opvolgende Bronberger die nuwe wet vir lesers uiteen te sit. 

 

© 2024 Die/The Bronberger