Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 27 February 2014 23:42
Untitled Document

Die Zwavelpoortse Doorndraai Friesperdstoet het van derde na tweede plek op die wêreld se Top Friesperdtelerslys beweeg.

Die lys van die top 50 Friesperdtelers in die wêreld word jaarliks deur die Koninklijke Vereniging Het Friesch Paarden Stamboek (KFPS) in Nederland bekend gemaak. Dit is vir enige teler ‘n buitengewone groot prestasie om op die lys geplaas te word, omdat meer as 16 000 lede en 60 000 perde by die KFPS geregistreer is.


Tjalf 443 Sport met Nynke Bosma, Marlise Botes en Altie Clark
Foto: H2

Ná Doorndraai in 2012 derde op die lys was, en ook aangewys is as die beste internasionale stoet, het eienaar Marlise Botes die doelwit duidelik gemaak dat ‘n bestendige plek op die lys vir die volgende jaar baie belangrik was. 

In Januarie vanjaar is daar by die hingste keuring in Leeuwarden, Nederland aangekondig dat Doorndraai na tweede plek op beweeg het op die 2013-lys. Doorndraai was ook vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar die beste internasionale stoet op die lys. Dit is ‘n groot prestasie omdat ‘n derde van die telers op die Top 50-lys buite Nederland geregistreer is en lande soos Amerika, Denemarke en Australië insluit.


At
Foto: Charizma Photography

Die lys word op grond van die kwaliteit van perde wat deur die stoet geteel is, saamgestel en dit word bepaal deur premies wat jaarliks deur internasionale KFPS keurders toegeken word.

‘n Eerste premie tel twee punte en ‘n tweede premie tel een punt. Die keurings wat in Februarie en Oktober 2013 in Suid-Afrika plaasgevind het, was vir dié rede baie belangrike hoogtepunte op die stoet se kalender. Goeie resultate by altwee keurings het vir die hoë plasing op die lys gesorg. 

In Desember 2013 is aangekondig dat Tjalf 443 Sport voorlopig goedgekeur is op sy afstammelinge.


Peta van Doorndraai
Foto: H2

Oor die afgelope twaalf maande is sy driejarige seuns en dogters reg oor die wêreld gekeur en daar is bepaal dat hulle goed genoeg is om sy status as stamboek hings te behou. Hy is ‘voorlopig goedgekeur’.

Daar is ongeveer 100 aktiewe stamboek hingste in die wêreld waarvan 29 buite Nederland is. Tjalf 443 Sport is een van slegs drie goedgekeurde stamboek hingste in Suid-Afrika. Tjalf 443 Sport se vullens presteer uitstekend by skoue en in 2013 was die FPSSA Nasionale Junior Kampioen Merrie en Hingsie afstammelinge van Tjalf 443 Sport. 


Tjalf 443 Sport
Foto: H2

Hy is ook ‘n uitblinker in die skouring en het die algehele enkeltuig kampioen-afdeling by die jaarlikse Perd van die Jaar- en FPSSA Nasionale Skou vir die afgelope drie jaar in ‘n ry oorheers.

Vir meer inligting oor die stoet, besoek www.doorndraaistud.co.za of soek vir ‘Doorndraai Friesian Stud’ op Facebook.


Pandora van Doorndraai met Sybren van Doorndraai
Foto: H2

Bron: Altie Clark

 

© 2024 Die/The Bronberger