Miljoene vlinders mik vir Madagaskar Print E-mail
News - Artikels
Monday, 27 January 2014 22:29
Untitled Document

Swerms wit vlinders het vroeg in Januarie deur die Bronberg-gebied gefladder. Dié vlinders staan as grasveldwitjies (Belenois aurota) bekend en hulle jaarlikse migrasie neem hulle van Suid-Afrika se weskus na Madagaskar.

Volgens die kenners volg die swerms grasveldwitjies nie elke jaar presies dieselfde roete nie. Hulle begin al langs die kus vanaf Kaapstad tot in Namibië uitbroei en migreer dan in ‘n noord-oostelike rigting deur die binneland.


Grasveldwitjies kom in swerms bymekaar
Foto: Rory Bruins

Die grasveldwitjies het die Bronberg-gebied vanaf 10 Januarie begin bereik. Van ons af mik hulle vir Mosambiek, voor hulle oor die see na Madagaskar vlieg.

Soos die swerms noordwaarts vorder, sluit meer en meer vlinders aan tot daar massiewe swerms bymekaarkom wat tot oor ‘n kilometer in die lug kan strek. Langs dié migrasieroete lê die wyfies eiers wat volgende jaar, net mooi gereed vir die volgende trektog, sal uitbroei.

Die spesifieke migrasietyd is ook nie elke jaar dieselfde nie en hang van weerstoestande af. Dit kan van laat-November tot middel-Februarie wees.


‘n Grasveldwitjie op ‘n Jakob Regop in Reegan Busby se Cullinan-tuin
Foto: Reegan Busby

Die grasveldwitjies vlieg van sonop tot sononder en slaap in die nag. Deur die dag moet hulle elke 20 minute nektar inkry, anders dehidreer hulle.

Migrasie is ‘n algemene instink in die diereryk wat ook by ander insekte voorkom. Dit veroorsaak dat hulle, ondanks gevare en hindernisse, aanbeweeg al beteken dit die dood van die oorgrote meerderheid migreerders.

Spesies migreer gewoonlik as hulle oorbevolk raak.

 

© 2024 Die/The Bronberger