Sonde met die honde van die blafdowe bure Print E-mail
News - Artikels
Sunday, 17 November 2013 21:15
Untitled Document

Een van die groot oorsake vir ‘sonde met die bure’ in die Bronberg-gebied, is troetelhonde wat nagdeur blaf. Hulle sê niks is dower as die eienaar van ‘n hond wat knaend kef nie. ‘n Leser met só ‘n ‘dowe’ buurman het by die Bronnie aangeklop om te hoor wat gedoen kan word aan dié slaaprowende toedrag van sake.

Jy kan tot R20 000 beboet word of twee jaar in die tronk sit as jou hond se geblaf of tjank jou bure steur.

Dit is die maksimum straf wat jou opgelê kan word as jy die Tshwane Metro-munisipaliteit se omgewingsgesondheidsordinansies, te doene met die aanhou van diere, verbreek.

Volgens dié ordinansies val ‘n hond wat nagdeur blaf of tjank in dieselfde kategorie as ‘n hond wat ‘n aansteeklike siekte het, ‘n hond wat onder toesig van ‘n mens in ‘n openbare plek sy besigheid doen en as die mens dié stinkspul nie verwyder nie, en as die stank van hondebolle op jou erf jou bure pla.

Ander oortredings van dié munisipale ordinansies is wanneer ‘n aggressiewe hond of ‘n teef wat op hitte is na ‘n openbare plek geneem word, ‘n hond wat agter voertuie aanhardloop of mense en ander diere buite sy erf jaag, en ‘n hond wat ‘n mens beseer of eiendom beskadig.


As jy jou hond aanhits teen ‘n mens, dier of voël kan jy ‘n duisend Rand boete betaal

Prosedure
Die maksimum boete van R20 000 word nie altyd vir steuringsverwante klagtes gehef nie. Die klagte-prosedure wat gewoonlik gevolg word, is dat bure ‘n blaffende hond wat rusverstoring veroorsaak by hulle plaaslike polisiekantoor aanmeld.

Die hond se eienaar sal ‘n waarskuwing ontvang. Na ‘n redelike verloop van tyd, gewoonlik 10 dae tot twee weke, sal die eienaar ‘n boete ontvang indien die hond nie opgehou blaf het nie. Dié boete kan in die hof betwis word.

As die eienaar die boete betaal, erken hy skuld. As die hond se eienaar die boete nie betaal nie, en nie in die hof opdaag nie, sal hy gedagvaar word.

Indien die eienaar die eerste boete betaal het, en die steurende geblaf steeds aanhou, moet die klaer ‘n beëdigde verklaring gaan aflê en ‘n tweede boete sal opgelê word, wat weereens in die hof betwis kan word.


‘n Duisend Rand boete is jou voorland as jy nie jou hond se mis by ‘n openbare plek verwyder nie

Aanhou
Sou die hond daarná nog aanhou blaf, sal die magistraat besluit of die hond van die erf verwyder moet word of watter ander stappe gevolg moet word. ‘n Amptenaar sal uitgestuur word en sou dié amptenaar van opinie wees dat die hond die bure pla, kan hy ‘n skriftelike bevel gee dat die eienaar die hond binne 96 ure van die perseel moet verwyder. Indien nie, sal daar op die hond beslag gelê word en die hond sal in ‘n munisipale skut gesit word.

As jy jou hond later by dié skut wil gaan haal, moet jy skutfooie wat deur die stadsraad bepaal sal word, betaal. Indien jy jou hond nie binne sewe dae gaan haal nie, mag die skut die hond verkoop of laat uitsit.


Maak jou buurhonde se geblaf jou mal?

Boetes
Volgens die Tshwane metroraad, is die standaard steuringsverwante boetes die volgende:

  • R500 as jy ‘n hond op ‘n manier aanhou wat ‘n rusverstorende geblaf of tjank tot gevolg het.
  • R1 000 as jou hond buite jou erf voertuie, diere, pluimvee, voëls of mense jaag.
  • Direk hof toe as jou hond verantwoordelik is vir skade of beserings aan mense of eiendom in ‘n openbare plek.
  • R500 as jy ‘n teef op hitte in ‘n openbare plek toelaat.
  • R1 000 as jy ‘n hond aanhou wat aan ‘n aansteeklike siekte ly.
  • R1 000 as jy nie jou hond se mis by ‘n openbare plek verwyder nie.
  • R1 000 as jou hond se mis op jou erf jou bure pla.
  • R500 as jou hond nie in ‘n openbare plek of op straat aan ‘n leiband is nie.
  • R1 000 as jy jou hond teen ‘n mens, dier of voël aanhits.
  • Direk hof toe as jy ‘n hond onder jou toesig toelaat om ‘n mens, dier of voël aan te val of skrik te maak.

Eerder
Bure moet eerder hulle geskille oor ’n braaivleisvuur as in die hof probeer oplos. As jou buurman se hond te veel blaf, vertel hom daarvan. Baie mense dien ’n klag by die Polisie in sonder dat die honde-eienaar weet dat sy honde se geblaf steurend is.

As jou buurman nie sy honde hoor blaf nie, bel hom wakker sodat hy dit self kan hoor. En laat hom weet hoekom die geblaf jou pla – jy het dalk ‘n baba wie se slaappatroon versteur word, jy probeer studeer, of jy werk vanuit ‘n huiskantoor. Laat jou bure weet dat jou klagte geldig is en nie kleinlik nie, en julle kan saam na oplossings vir die steuringsgedrag probeer soek.

Om te blaf is natuurlik vir honde, maar ‘n onophoudelike geblaf moet nie bloot aan gedragsprobleme toegeskryf word nie. Dit kan ook dalk beteken dat die hond ‘n mediese probleem soos ‘n neurologiese afwyking het, dat hy pyn het of ‘n probleem met stimulasie in sy omgewing het.

As ‘n ondersoek deur ‘n veearts geen fisiese probleme uitwys nie, kan gedragsprobleme aangespreek word. Verveelde honde het meer speelgoed, oefening, uitstappies en aandag nodig en angstige honde kan gedragsbehandeling ondergaan of op medikasie gesit word.

Daar is ook halsbande wat ontwerp is om honde te laat ophou blaf. Dié halsbande stuur glo ‘skadelose’ statiese skokke wat ‘n hond laat ophou blaf. Baie van dié halsbande skok die hond egter ook die oomblik as hy sy kop skud.

 

© 2024 Die/The Bronberger